“Maar
daar is nie ‘n storie nie!” So het P.G. du Plessis vir Hans gesê
nadat hy al omtrent 3 jaar met die boek besig was. Ek het gisteraand
weer geluister hoe hy dit in April al op RSG se Leeskring vertel het.
Hy sê hy was so behep met die tema van die bewaring van die
Vredefortkoepel dat hy nie werklik by die maak van ‘n storie uitgekom
het nie. Alhoewel hy al 5 vorige romans geskryf het, het hyself gevoel
dat hy nie baie goed is met die uitdink van ‘n storie nie. (Sy
belangrikste werk tot op datum natuulik sy Griekwapsalms.) Alhoewel hy
homself aanvanklik vir P.G. vererg het, het hy tog sy raad gevolg en
die boek eers vir ‘n jaar gelos, totdat hy ‘n ware storie met karakters
gekry het . Verbrande paradys deur Hans du Plessis. Lapa-uitgewers (slapband, 406 pp.), R150.
Die natuur is ’n sentrale tema in al Hans du Plessis se skryfwerk.
Hy
is professor in skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit in
Potchefstroom, maar ook groot kampvegter vir die bewaring van
Suid-Afrika se sewende Wêrelderfenisgebied, die Vredefort-koepel naby
dié stad.Dit is dus te verstane dat hy hierdie stimulerende 12de boek van hom bevolk met die Koepelaars wat in die Vredefort-koepel bly.
Die
skrywer vertel kortliks hoe die koepel 2 miljard jaar gelede tot stand
gekom het. ’n Meteoriet van omtrent 10 km in deursnee het die aarde
teen minstens 40 000 km/h getref. Dit het sowat 10 km in die grond
ingeboor en ontplof.
Die koepel is uniek. Daarom word die
Koepelaars deur unieke bande gebind. Isak Meyer, universiteitsdosent,
boer as sesde geslag Meyer op die plaas Eden. Hy verduidelik aan sy
vrou, Reinet:
“Hoe unieker dit wat bind, hoe hegter raak die
gemeenskap. Gooi ’n klomp mense in ’n reuseskottel waaruit hulle nie
kan klim nie en hulle kan nie anders as om by mekaar betrokke te raak
nie.” (p. 145)
Die roman wys hoe ’n gemeenskap op
gemeenskaplikheid teer. Die Venters, die Spogters, die Nels se lewe is
eintlik lankal baie meer verstrengel as wat hulle besef het. “Sonder
die koepel is nie een van hulle iets nie.” (p. 315)
Eers kom
die Venters se verhaal aan die orde. Almal weet Reinet het ’n geheim in
haar donker verlede, maar niemand weet presies wat dit is nie.
Haar
seun, Sybrand die student, wil, soos sy pa, die koepel bewaar. Dikwels
bots hy en sy jonger, onvoorspelbare broer, Henro, wat verstandelik
swakker bedeeld is en wil bewys hy kán boer.
Al die
gesinne in die koepel skakel op die een of ander manier met mekaar: die
Smitte, die armoedige Nels, die klomp skinderlustige vroue in die
koffiewinkel.
Die liefde ontluik tussen Sybrand Venter en
die wispelturige Emma Nel, maar die stokou familievete tussen hul
gesinne bly voortbestaan.
Ook die rol wat “daai af klomp
Davels”, “mooi Mollie Smit met haar moontlikhede” en “die klomp
Spogters” speel moenie onderskat word nie.
Almal in die
koepel ken mekaar se stories. Aan die einde vind Sybrand uit: “In die
middel van al die stories was sy arme ma.” (p. 377)
Hoe
bekwaam Du Plessis as ervare verteller is, blyk dikwels uit treffende
sinne soos Reinet se versugting: “Isak is my eden, my koepel, en my
kombers” (p. 75) of “Maar hoe groei die dood toe?” (p. 147)
Die
skrywer se aanvanklike rustige vertelstyl word deur besonder dramatiese
beskrywings gevolg toe die traumatiese gebeurtenis plaasvind wat die
Venters se gesinslewe onverwags totaal verwoes.
Daarna beeld
die skrywer nie meer die karakters van buite uit nie, maar van binne.
Die klem val op hul gedagtes, hul woorde, hul diepste belewenisse.
Dit
is ’n lus om te sien hoe die dialoog in die monde van uiteenlopende
karakters heeltemal verskil: vroue wat skinder, tieners, studente en
straatkinders praat nie naastenby dieselfde Afrikaans nie.
Die
roman is veelvlakkig en laat hom nie sommer in ’n genre plaas nie.
Tiener- of studenteverhaal is dit nie. Ook nie juis ’n gesinsroman nie.
Dit sal beslis kan kwalifiseer as karakterroman. Sommige lesers sal dit
’n natuurroman wil noem.
Verskeie temas word in die verhaal
aangeraak, soos die verantwoordelikheid van die mens teenoor die
natuur, die dood met sy vele gesigte en gevolge en die verganklikheid
van die mens.
As aktuele, eietydse roman bied V
erbrande paradys inderdaad baie stof tot nadenke oor ’n verskeidenheid onderwerpe.
Dit spreek lesers van verskillende ouderdomme, asook mense met uiteenlopende belangstellings, aan.
Al
is daar ’n effense verslapping in die spanningslyn in die middel rond,
is die roman tog boeiend, bedrewe geskryf en lees besonder gemaklik.
Die
verhaal kry weer einde se kant toe vaart en ’n bevredigende ontknoping
word bereik. Dit bied ’n besonder aangename leeservaring.
Stoffel Cilliers in Beeld
Gebruik hierdie skakel om die boek van Kalahari te bestel
“Maar
daar is nie ‘n storie nie!” So het P.G. du Plessis vir Hans gesê
nadat hy al omtrent 3 jaar met die boek besig was. Ek het gisteraand
weer geluister hoe hy dit in April al op RSG se Leeskring vertel het.
Hy sê hy was so behep met die tema van die bewaring van die
Vredefortkoepel dat hy nie werklik by die maak van ‘n storie uitgekom
het nie. Alhoewel hy al 5 vorige romans geskryf het, het hyself gevoel
dat hy nie baie goed is met die uitdink van ‘n storie nie. (Sy
belangrikste werk tot op datum natuulik sy Griekwapsalms.) Alhoewel hy
homself aanvanklik vir P.G. vererg het, het hy tog sy raad gevolg en
die boek eers vir ‘n jaar gelos, totdat hy ‘n ware storie met karakters
gekry het .
In die algemeen is die boek ‘n lekker leeservaring. Tog is daar ‘n
paar dingetjies wat pla. Nou sal ek dit waag om so ‘n groot skrywer
en literator wat skryfskole aanbied aan te vat? Ja wat, dis mos hoekom
ek die blok het om my kop op te sit!
My eerste klagte het niks met die skryfwerk te doen nie, maar gaan
oor die kwaliteit, of liewer gebrek daaraan van die fisiese boek. Dis
absoluut ‘n slapbandboek, die papier die effense geel tipe, amper na
koerantpapier se kant toe. Ja, ek weet die dinge is duur en die bedryf
sukkel om aan die gang te bly, maar as ek dit net vergelyk met ‘n ander
onlangse nuwe boeke wat ook slapband is, maar met flappe wat invou en
‘n bietjie beter kwaliteit papier is daar net geen vergelyking nie. Ek
dink vir ‘n boek waaraan die skrywer 3 of 4 jaar gewerk het, sal die
leser bereid wees om bietjie meer te betaal. Hou die egte
slapbandformaat maar vir die boekies wat in 6 maande geskryf word.
Wat die storie self en die karakters aanbetref is dit heel
oortuigend. Lesers moet daarop voorbereid wees dat kru taal voorkom,
die karakters praat soos wat regte mense in regte situasies praat. Dan
moet ek ook waarsku dat dinge nogal grusaam raak, en dis my een klagte,
daar behoort dalk ‘n waarskuwing vir sensitiewe lesers te wees. Dis
darem egter net tot dele van die boek beperk.
Soos ek gesê het, die karakters is heel oortuigend, maar hier en
daar is daar tog vir my ‘n glipsie. Ek het nie almal opgeteken nie,
maar bv. op bl. 32 sê Emma: “Haar pa het gister vir haar ‘n motor
gekoop.” Nee, jammer, “motor” gaan nie vir my af by ‘n matriekdogter
nie. Dit was ‘n Citi Golf. Sy sou gesê het “kar” of “Golf.”
Nog iets wat vir my nie realisties is nie, is die nuwe bakkie wat
die skelm eiendomsagent vir die outjie gee wat maar die vorige jaar in
graad 10 was en waarmee hy dan sommer gereeld dorp toe ry. Daar is tog
nie ‘n manier waarop hy al ‘n rybewys kon hê nie. Of laat ek sê, al
word daar gesê dat hy ‘n lae sosiale IK het, daar nêrens genoem word
dat hy standerds moes herhaal nie.
Dan dink ek iewers het ek iets misgelees. (Ek sal dit nou so
probeer stel dat as jy nog nie die boek gelees het nie, dit nie eintlik
iets sal weggee nie.) Naby die einde van die boek, bl. 395, lees ek:
“Julle weet nie hoe dit daardie jare tussen bruin en wit was nie.”
Iewers het dit my verbygegaan dat die bywoners bruin was. Ek moes
seker gedink het dat die dae van blanke bywoners soort van verby is, en
die van moes seker ook ‘n klokkie gelui het.
As laaste klagte moet ek sê dat ek glad nie van die einde gehou het nie!
Iets waarvan ek wel hou, wat ek nog nooit voorheen gesien het nie,
is 7 besprekingsvrae vir leeskringe agter in die boek. Dit dink ek was
‘n blink idee.
Ek het ‘n resensie of twee gelees oor die boek en dit lyk asof die
resensente met my saamstem oor van die gebreke wat ek noem, maar ook
daaroor dat daar heelwat leesplesier tussen die bladsye opgesluit is.
Ek dink ook daar kan gerus meer in boeke ten gunste van
omgewingsbewaring geskryf word, soos Prof. Hans op die Radio gesê het,
dit moet net met die storie geïntegreer wees, die twee moenie langs
mekaar staan nie.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member