
Sonder om die storie vir jou te bederf, wil ek graag ‘n bietjie oor hierdie boek vertel.
30 Nagte in Amsterstam is die
verhaal van Henk de Melker, museum-assistent van Somerset-Oos wat na
Amsterdam moet reis, omdat hy die huis van sy lankverdwene tante Zan
geërf het. Aldus Tafelberg se katalogusbeskrywing.
Daarenteen begin die lokteks in die voorste flap met ‘n paragraaf oor
Zan de Melker. Die boek is amper meer haar verhaal as die van Henk.
Die voorbladfoto is briljant – hoe verder mens lees, hoe meer wórd die
meisie op die brug Zan de Melker.
Gewoonlik word ’n boek geklassifiseer as ‘n “eerste-persoons-” of
“derde-persoons-boek”. Met hierdie boek is albei die geval. Hoofstuk
1 begin met ‘n skim-verteller wat oor Henk vertel. In die volgende
hoofstuk is Zan self die verteller. Minstens die eerste paar
hoofstukke ruil so heen en weer tussen die twee hoofkarakters, daarna
nog steeds, maar partykeer kry een van hulle twee hoofstukke na mekaar.
Hoofstuk 49 is vir my bietjie anders in die patroon. (Ek kan nou nie
meer daaroor sê sonder om te veel uit te blaker nie.)
Ma Olivier (Olivijê) woon in die 1960’s in Somersetstraat in
Graaf-Reinet met haar volwasse dogter Susan of Zan de Melker, asook
haar kleinseun Henkie de Melker om hom die voordeel van die dorpskool
te gee. Ma Olivier is matriarg wat na die wel en weë van die de
Melker-familie omsien vanaf die sogenaamde Aansienlikheidslessenaar.
Zan ly aan epilepsie en het geen inhibisies nie. Sy raak betrokke
by die Beweging, meer spesifiek die Sobukwe-sel. Haar een broer
(Henkie se pa) ly aan erge depressie en boer namens die familie op die
familieplaas met sy Engelse vrou Dorrit. Daar is nog ‘n broer wat in
Pretoria woon.
Die volwasse Henk skryf as museumassistent vervelige monografieë oor
geskiedkundige randfigure. Hy ontwikkel ‘n intense belangstelling in
Cornelius van Gogh, broer van die beroemde skilder, maar hy is
versigtig om, soos sy ouma dit stel, die agste kleur te sien, wat net
groot kunstenaars en ook sy tante kan sien. Met sy reis na Amsterdam
word die tweestryd soveel meer intens.
Ek het nog nie voorheen veel van Etienne van Heerden se boeke gelees nie, jare gelede Liegfabriek en onlangs sy digbundel Die Laaste Kreef,
wat ek uitstekend gevind het. Dit was maar sy tweede digbundel en ek
is jammer dat daar nie nog is nie. (Ek hoop hy het iewers ‘n onderste
laai!) Maar so in die roman dink ek mens kan agterkom hy is digter –
die man (of sy karakters) praat sommer so in metafore!
As ek wel kritiek op so ‘n groot skrywer se boek mag probeer lewer, sal dit die volgende wees:
- Nie almal is dalk lus vir weer ‘n ophaal van die struggle-tydperk nie. Tog is dit onlosmaaklik deel van die tydperk waarin die skrywer self grootgeword het, die tydperk waaroor mens seker die maklikste kan skryf, alhoewel jy dit net van een kant af self beleef het.
- Sommige beskrywings kan as onsensitief teenoor epilepsielyers gesien word.
- Die beskrywing van hoe ‘n lyk verbrand word is dalk te grafies.
- Ek hou gewoonlik daarvan om ‘n fout in ‘n boek te kry! Miskien het ek ietsie beet op die tweede bladsy van die verhaal, bl.10, waar hy skryf: Die fiets se ketting slaan blikkerig teen die modderskerm... Ouer fietse het meer algemeen wat hulle in Engels ‘n “chain guard” noem, gehad, waarvan sover ek weet die doel is om die ryer se klere of been teen die ketting te beskerm, nie sodanig om modder weg te hou nie. Dis dalk moontlik, as die agterste modderskerm los is, of die ketting pap dat die ketting wel teen die modderskerm kan slaan, maar ek vind die kettingskerm meer waarskynlik.
- Met die baie name wat Zan haar broers (bv. Henk se pa as Ou Sugboet ens.) noem, raak ek partykeer bietjie deurmekaar met die karakters, maar skryf dit liewer toe daaraan dat ek nie met genoeg aandag lees nie!
- Groot dele van die boek kort miskien bietjie meer spanning, maar dan maak die interessante inkleur van dinge van daardie tyd en die hedendaagse Amsterdam daarvoor op.
Hierdie is ‘n groot en uitstekende roman wat beslis die lees werd is.
Bestel 30 Nagte in Amsterdam van Kalahari.net
Chris van der Westhuizen (My Kop Op 'n Blok! - http://mykopop.wordpress.com)