Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
225 views

30 Nagte in amsterdam - Etienne van Heerden

Page 1
posts 1–12 of 12
superstar - founder
993 posts

Skaars ’n jaar ná die publikasie van Asbesmiddag (2007) verskyn Etienne van Heerden se agtste roman, 30 nagte in Amsterdam.

Sy laaste drie romans, Die swye van Mario Salviati (2000), In stede van die liefde (2005) en Asbesmiddag (asook vroeër romans in sy oeuvre) sluit op verskeie vlakke by sy jongste werk aan – tematies, narratologies en taalmatig. Derhalwe is dit belangrik dat 30 nagte binne oeuvreverband gelees en beoordeel word. Dit staan die leser vry om die roman afsonderlik te waardeer, maar die leser wat nie vertroud is met die Van Heerden-romanoeuvre nie beperk sy/haar leesplesier.

Die opvallendste ooreenkomste tussen 30 nagte in Amsterdam en Van Heerden se vorige romans het onder meer met die volgende aspekte te make – die ineenskakeling van uiteenlopende wêrelde (veral dié tussen Afrika en Europa), taalvirtuositeit, die problematiek oor identiteit, eksentrieke, groter-as-lewensgroot karakters, die magies-realistiese sfeer, besinning oor kunste?- naarskap en ’n narratiewe of fiksionele benadering tot die geskiedenis.
Sy jongste is ’n roman vol verrassings en interessante wendings. Dit is een van daardie romans waarin daar op ’n onverwagse moment ’n ontboeseming plaasvind waarna die voorafgaande intrige vanuit ’n agternaperspektief duidelik in plek val.

Dit gaan oor ’n 47-jarige museum-assistent in die Oos-Kaap, Henk de Melker, wat uit die bloute ’n prokureursbrief uit Amsterdam ontvang waarin hy meegedeel word dat sy tante Zan haar boedel aan hom bemaak.

Tante Zan het jare vantevore, toe Henk nog ’n klein seuntjie was, as gevolg van haar ondergrondse politieke aktiwiteite na Amsterdam uitgewyk. Haar testament bepaal dat Henk self na Amsterdam moet reis om sy erfporsie in ontvangs te neem. Volgens die testament het Henk 30 dae in Amsterdam om te besluit of hy hom daar wil vestig of na Suid-Afrika wil terugkeer. Dié ingryping in Henk se saai lewe neem hom op ’n inisiasietog waarin hy gekonfronteer word met sy skadukant, donker verlede en geheime uit sy persoonlike en familielewe. In dié opsig herinner die roman aan Sewe dae by die Silbersteins (1962) van Etienne Leroux, alhoewel 30 nagte in Amsterdam nie naastenby so presies gestruktureer en “duister” is soos Sewe dae nie.

Skelmagtigheid, skelmstreke en onderduimsheid figureer sterk en sluit aan by die voortdurende rolspel en vermomming wat tante Zan as ’n oorlewingstrategie moet beoefen. In die roman speel sakkerollers (en die interessante subkultuur waartoe hulle behoort) ’n prominente rol wat aansluit by die skelmagtige aard van die intrige. Geheime (in die vorm van familiegeheime, politieke geheime en persoonlike geheime) en die oopvlekking daarvan is ’n kernelement in die roman. Tante Zan daag telkens stelsels van geheimhouding uit deur openbarende dinge te doen en te sê. Sy is ’n ontbloter (letterlik en figuurlik) en ’n ondermyner van die “Aansienlikheid” waarna haar moeder, broer en ander familielede strewe.

Die roman fokus op die subversiewe, afwykende en onaanvaarbare taboe-dinge van die menslike kondisie en samelewing – vallende siekte, masturbasie, seks oor die kleurgrens heen, liggaamlike afwykings, prostitusie, pornografie, versteurdheid, vloektaal, sakkerollery en seksverslawing. Die skatologiese verwysings, grafiese beskrywings van verbranding en verwurging (en wat liggaamlik tydens en ná hierdie prosedures gebeur) sluit aan by die groteske, makabere en subversiewe aard van die roman.

Tante Zan as nimfomaniese epileptikus is die hoofverteenwoordiger van sondige ondermyningswerk. Telkens span sy haar eksentrieke en afwykende karaktereienskappe as ’n strategie in om valse sekerhede en heilige koeie te ontmasker. Sy is ’n besweerder van verlies, verganklikheid en begeerte.

Die taalgebruik is, soos in Mario Salviati, barokagtig, ontwapenend, en besit ’n lewenskragtige energie (veral in die dele waarin tante Zan aan die woord is).
Van Heerden gebruik taal nie as blote versiering of effek nie, maar wend dit telkens as ’n funksionele karakteriseringstrategie aan. In dié opsig kan daar gelet word op die opmerklike taalgebruiksverskille tussen die apatiese Henk en sy energieke tante.

Taal word vir tante Zan ’n manier om haar greep op die werklikheid en haar identiteit te behou. Haar eiesoortige naamgewing, vermoë om nuwe woorde te vorm en manier om bekende idiome te omvorm en aaneen te skakel, dien as ’n soort beswering en beskerming teen haar onstabiliteit en die heersende magsorde. Die aaneengeskakelde idioomgebruik en aaneenlopende sinne (sonder enige leestekens) vorm deel van die ontboesemingstema in die roman, aangesien tante Zan dikwels geheime deur middel van dié strategie verklap.

Tante Zan gebruik taal as vermomming (aansluitend by haar voortdurende fisieke vermomming) en manipulasie om te sorg dat sy nie deur die veiligheidspolisie uitgevang word nie, want deur haar onsamehangende taaluitinge maak haar ondervraers geen kop of stert uit van wat sy sê nie. Dit is ironies dat sy juis haar uitsonderlike en uitbundige taalvermoë aanwend as ’n strategie om ondergrondse geheime toe te smeer, maar terselfdertyd ook om geheime te verklap.

Van Heerden bied ook insiggewende perspektiewe op die huidige tydsgees (hierdie aspek figureer ook sterk in In stede van die liefde en in Asbesmiddag). In 30 nagte word ’n beeld van globalisering en die invloedryke internetgemeenskap gegee. Dit is ’n wêreld waarin niks meer heilig is nie, behalwe dit wat maklik en vinnig verbruik kan word. Kulturele en geografiese integriteit word opgehef in ’n bestel waar met alles die spot gedryf kan word. Die relatiewe aard van alle dinge binne die kuber-era word soos volg oortuigend belig: “My geskiedenis, ontdaan van ideologie, gaan uitblom in ’n nuwe elektroniese era – die stugheid van die ou tyd as verkoopbare produk en versoenbaar met jou selfoon. Bloed en demone en slym en vergrype opgedis op jou handset, jou handy.”

Dié aspek sluit aan by die verglydingstema wat in In stede van die liefde aan die bod kom en verder hier uitgebrei word. Sterk kritiek word in die roman gelewer teen die aftakeling wat tans in Suid-Afrika merkbaar is: “Wat is die euforie van bevryding as jy nie Vryheid van beweging in jou eie land het nie?”

30 nagte in Amsterdam is ’n toeganklike roman, wat leesplesier aan literêr-ingestelde lesers of enigeen wat ’n uitstekende intrige en uitsonderlike taalvermoë waardeer, sal verskaf.
Met dié roman bevestig Van Heerden sy vernuftige en intelligente skrywerskap.

(Neil Cochrane in die Beeld)

Gebruik hierdie skakel om die boek van Kalahari te bestel

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
regular - member
90 posts

30-nagte-in-amsterdam-voor

Sonder om die storie vir jou te bederf, wil ek graag ‘n bietjie oor hierdie boek vertel.


30 Nagte in Amsterstam is die verhaal van Henk de Melker, museum-assistent van Somerset-Oos wat na Amsterdam moet reis, omdat hy die huis van sy lankverdwene tante Zan geërf het. Aldus Tafelberg se katalogusbeskrywing.  Daarenteen begin die lokteks in die voorste flap met ‘n paragraaf oor Zan de Melker.  Die boek is amper meer haar verhaal as die van Henk.   Die voorbladfoto is briljant – hoe verder mens lees, hoe meer wórd die meisie op die brug Zan de Melker.


Gewoonlik word ’n boek geklassifiseer as ‘n “eerste-persoons-” of “derde-persoons-boek”.   Met hierdie boek is albei die geval.  Hoofstuk 1 begin met ‘n skim-verteller wat oor Henk vertel.  In die volgende hoofstuk is Zan self die verteller.  Minstens die eerste paar hoofstukke ruil so heen en weer tussen die twee hoofkarakters, daarna nog steeds, maar partykeer kry een van hulle twee hoofstukke na mekaar.  Hoofstuk 49 is vir my bietjie anders in die patroon. (Ek kan nou nie meer daaroor sê sonder om te veel uit te blaker nie.)


Ma Olivier (Olivijê) woon in die 1960’s in Somersetstraat in Graaf-Reinet met haar volwasse dogter Susan of Zan de Melker, asook haar kleinseun Henkie de Melker om hom die voordeel van die dorpskool te gee.  Ma Olivier is matriarg wat na die wel en weë van die de Melker-familie omsien vanaf die sogenaamde Aansienlikheidslessenaar.


Zan ly aan epilepsie en het geen inhibisies nie.  Sy raak betrokke by die Beweging, meer spesifiek die Sobukwe-sel.  Haar een broer (Henkie se pa) ly aan erge depressie en boer namens die familie op die familieplaas met sy Engelse vrou Dorrit.  Daar is nog ‘n broer wat in Pretoria woon.
Die volwasse Henk skryf as museumassistent vervelige monografieë oor geskiedkundige randfigure.  Hy ontwikkel ‘n intense belangstelling in Cornelius van Gogh, broer van die beroemde skilder, maar hy is versigtig om, soos sy ouma dit stel, die agste kleur te sien, wat net groot kunstenaars en ook sy tante kan sien.  Met sy reis na Amsterdam word die tweestryd soveel meer intens.


Ek het nog nie voorheen veel van Etienne van Heerden se boeke gelees nie, jare gelede Liegfabriek en onlangs sy digbundel Die Laaste Kreef, wat ek uitstekend gevind het.  Dit was maar sy tweede digbundel en ek is jammer dat daar nie nog is nie. (Ek hoop hy het iewers ‘n onderste laai!)  Maar so in die roman dink ek mens kan agterkom hy is digter – die man (of sy karakters) praat sommer so in metafore!


As ek wel kritiek op so ‘n groot skrywer se boek mag probeer lewer, sal dit die volgende wees:

  • Nie almal is dalk lus vir weer ‘n ophaal van die struggle-tydperk nie.  Tog is dit onlosmaaklik deel van die tydperk waarin die skrywer self grootgeword het, die tydperk waaroor mens seker die maklikste kan skryf, alhoewel jy dit net van een kant af self beleef het.
  • Sommige beskrywings kan as onsensitief teenoor epilepsielyers gesien word.
  • Die beskrywing van hoe ‘n lyk verbrand word is dalk te grafies.
  • Ek hou gewoonlik daarvan om ‘n fout in ‘n boek te kry!  Miskien het ek ietsie beet op die tweede bladsy van die verhaal, bl.10, waar hy skryf:  Die fiets se ketting slaan blikkerig teen die modderskerm... Ouer fietse het meer algemeen wat hulle in Engels ‘n “chain guard” noem, gehad, waarvan sover ek weet die doel is om die ryer se klere of been teen die ketting te beskerm, nie sodanig om modder weg te hou nie.  Dis dalk moontlik, as die agterste modderskerm los is, of die ketting pap dat die ketting wel teen die modderskerm kan  slaan, maar ek vind die kettingskerm meer waarskynlik.
  • Met die baie name wat Zan haar broers (bv. Henk se pa as Ou Sugboet ens.) noem, raak ek partykeer bietjie deurmekaar met die karakters, maar skryf dit liewer toe daaraan dat ek nie met genoeg aandag lees nie!
  • Groot dele van die boek kort miskien bietjie meer spanning, maar dan maak die interessante inkleur van dinge van daardie tyd en die hedendaagse Amsterdam daarvoor op.
Van Heerden het deeglike navorsing gedoen vir hierdie boek.  Ek dink dit sal nie ‘n fout wees om eers sy Erkennings van so 6 bladsye agter in die boek te lees nie.  Dit lap niks uit van die storie nie, tog kan dit die leser dalk beter voorbereid maak om die boek te lees.  Ek het veral gehou van die deel oor busking,  sakkerollery en putpocketing.  ’n Interessante brokkie wat my pas opgeval het is “… dat Naòmi Morgan, ‘n akademikus en navorser van die Universiteit van die Vrystaat, ‘n aantal jare gelede ‘n drama oor Cornelius van Gogh geskryf het.”  (Prof.) Naòmi Morgan is pas besig om groter bekendheid by die publiek te verwerf vir haar vertalings van bekende Afrikaanse liedjies in Frans vir die Afri-Frans CD wat pas vrygestel is.


Hierdie is ‘n groot en uitstekende roman wat beslis die lees werd is.
Bestel 30 Nagte in Amsterdam van Kalahari.net Kalahari.net


Chris van der Westhuizen (My Kop Op 'n Blok! - http://mykopop.wordpress.com)

superstar - founder
993 posts

Met die lees van 30 Nagte, het ek my so verkneukel in sy taalgebruik, en die manier waarop hy woorde inspan, dat ek soms vergeet het om op die storie te konsentreer.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
novice - member
15 posts

Jip, dis soos plaasbrood die boek. Dik growwe snye en dit verteer stadig. Bly ook lank by 'n mens.
Soos Kop, vermoed ek ook een foutjie. Hy praat op 'n plek van "soos 'n jagluiperd in die berge..."
'n Gewone luiperd dwaal in die berge, jagluiperds verkies die vlaktes.

Ook ek het die behoefde aan nog 'n digbundel deur Van Heerden.

regular - member
121 posts

Ek het nie die boek gelees nie, maar soos dit vir my klink herinner dit dalk doelbewus aan Camus se "The Fall" wat ook in Amsterdam afspeel en 'n meisie op 'n brug is ook ter sake. 

__________________
Elke mens se lewe is 'n storie.
regular - member
148 posts


:) ek hou van die beeld van 'n boek wat soos plaasbrood is!

rookie - member
1 posts

As 'n nie-litirêre leesgenieter was die lees van hierdie lywige werk 'n ongelooflike leesgenot!  Die taalgebruik en die atmosfeer wat daardeur geskep word was so uitstaande dat ek die boek nie kon neersit nie.  Die kompleksiteit van die storielyn, die kontras tussen die hoofkarakters en hul lewe het gesorg vir deurlopende plesier.  Meesterlik gedoen deur Litnet se Stoetmeester!

Het iemand al die boek in vertaalde formaat gelees?  Sou graag kommentaar op die vertaling wou sien.


rookie - member
10 posts

30 Nagte het ek baie geniet. Uitmuntende boek.

rookie - member
10 posts

Soms is ek te vinnig met kritiek, seker omdat dit my studierigting is.
30 Nagte is postmodernisties, en moet daarom vanuit so 'n oogpunt benader word.
Die verskillende fokalisasies bring mee dat 'n mens die perspektiewe van verskillende mense oor dieselfde gebeure kan beleef. Soms met empatie, en soms met afsku.
Die lang beskrywings wat voorkom verbreek die spanningslyn, maar het tog ook 'n doel, naamlik dat dit metalinguisties is. Dit is nie net woorde wat ingeryg word nie. Daarom moet die teks waardeer word nie net vir die storie nie, maar ook vir die taal wat gebruik word.

superstar - founder
993 posts

Al bars die bottel en al buig die fles, dit is die lekkerste taalgebruik wat ek in 'n lang tyd gelees het.

En ek het vandag gehoor ek moet dit volgende jaar Augustus of September by ons Leeskring bespreek.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
rookie - member
8 posts

O, ek stem saam. Ek het daai boek verslind. Ek het dit geëet soos iemand wat 'n stukkie sjokolade gekry het, en sy is op 'n dieët is - stukkie vir stukkie en baie suinig. Ek het elke woord geruik en gevoel. Dit is sryfwerk!!!!

rookie - member
6 posts

Het oplaas ook die boek gelees. Is self nie vreeslik mal oor van Heerden se werk nie. Die herhalende struggle ellement in sy stories raak effe vervelig.
Maar die taalgebruik in hierdie boek is uitstekend. Afrikaans sing behoorlik in die mond van San/Zan/Xuzan. En die karakterisering van die meisiekind so snaaks, so tragies, so `n hengse plesier. Tog snaaks dat dit juis haar metaforiese kapperjolle met die taal is wat later so `n bietjie begin irriteer. Ander mense aan wie ek die boek geleen het om te lees het dieselfde klagte gehad.
In die agtergrond hoor ek heeltyd die diep filosofiese gesprekke van Le Roux se regter O'Hara en Dr. Johns van 'Sewe dae' faam. Fantasties. Regtig die moeite werd om te lees.

Page 1
posts 1–12 of 12

Reply to: ‘30 Nagte in amsterdam - Etienne van Heerden’

Membership Required

You must be a member to post in this Forum

join now