Ons het Vrydagaand gaan luister na Vikas Swarup, die skrywer van die boek Q & A, wat na die sukses van die fliek Slumdog Millionaire heruitgegee is met dieselfde titel as die fliek.
Wat 'n aangename en nederige man! Hy was baie op sy gemak en het die lesing met 'n paar grappies oor skrywers begin. Die okkasie is deur Tuks se biblioteek gereël en dit het gelyk of daar nie 'n oop sitplek in die Musaion was nie. Dit gaan goed met die kunste as 'n skrywer so 'n groot gehoor kan trek!
Swarup is die Adjunk Hoë Kommissaris by die Indiese Ambassade hier in Pretoria. Hy het nogal beklemtoon dat hy nie in werkstyd skryf nie, maar vroeg in die oggend en oor naweke.
Al het hy heelwat oor die boek, asook oor sy nuwe boek Six Suspects gepraat, wou hy hom nie oor die fliek uitlaat nie. Hy sê die fliek is soos om 'n skoonseun te hê. In Indië praat mens nooit sleg van jou skoonseun nie, al is hy hoe treurig.
Dis seker maar moeilik om jouself as skrywer los te maak van wat verder met jou pennevrug gebeur. Maar hoe ongelooflik wonderlik – om 'n boek binne drie maande te voltooi, die filmregte te verkoop nog voordat die manuskrip voltooi is, en dat daar 'n fliek daarvan gemaak word wat agt Oscars kry!
Iemand het gevra of hy ooit daarvan gedroom het dat die boek 'n fliek sou word. Toe antwoord hy hy het nie eers gedroom die boek sou 'n boek word nie.
Raai wat lê op my bedkassie en wag?
Het jy al die film gesien? Ek is nou waragtag hier tussen die duiwel en die diep-blou see (o hel Marinda, ek weet nou nie hoe om die diep & die blou te skryf nie!). Moet ek eers die boek lees of kan ek maar die film gaan kyk......
Ja, ek het die fliek gesien, Cerneels. Vir my werk dit beter om eers die fliek te sien en dan die boek te lees. Nou is die boek aanvullend tot die fliek. Andersom is 'n mens net vies oor alles waarvan jy in die boek gehou het wat die filmmakers uitgelaat het.
Swarup distansieër hom eintlik van die fliek. Hy sê dis Danny Boyle se fliek, maar die boek is syne. Dis seker beter so, anders verknies die skrywer hom vir altyd oor die vervaardiger se interpretasie.
Die fliek is baie goed. Gaan kyk dit gerus.
Hmmm, ek het nou nog nooit die ding so benader nie. Jy het 'n punt daar beet.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member