Ek wou al lankal my opinie van die boek gee, maar was bang mense dink ek is stupid omdat ek nie daarvan gehou het nie - trouens ek het dit nie eers klaar gelees nie en dit gebeur nie baie by my nie. Ek is dus bly om te sien dat daar ander is wat ook nie daarvan gehou het nie.
Die boek word ook deur ons leeskring bespreek, so ek wou dit dadelik lees omdat almal so mal was daaroor. Ek het drie keer probeer, maar ek kon net geen vat daaraan kry nie. Die idee dat die verhaal uit die oogpunt van die Dood geskryf is, was vir my ongewoon en ek het gedink dat dit een van daardeur "dadelik deurleesboeke" is - maar helaas.
Ek sal maar wag om te sien wat tydens die bespreking na vore kom en dan besluit of ek weer sal probeer om dit te lees. Het dit ook gedoen met The Kite Runner en Zakes Mda se Whale Caller(hoop dis die regte titel) - in die gevalle was die wag die moeite werd.
Daar was 'n paar boeke wat die afgelope ruk waar ek dit ervaar het dat ek nie verder kom/vat kry aan die storie nie. Ek wonder: het dit dalk te doen met die negatiewe omstandighede om ons, die voortdurende blootstelling aan negatiwiteit, armoede, geweld en konstante afbreking. Soek ons nie dalk onbewustelik na meer positiwiteit wanneer ons boeke lees, fliek toe gaan ens? By gebrek aan woorde - iets "ligters" nie?
Cerneels, ek dink dit het te doen met oorbemarking. Media hype. Dat dit 'n boek is wat tot baie mense spreek, is so, maar net so is daar ook baie ander boeke, wat tot mense spreek - of nie.
Ek dink 'n soort massa-histerie pak mense beek, en dan skep dit verwagtinge by ons boekwurms, dat ons ten alle koste van die boek moet hou, anders is daar fout.
Nee wat, The Book Thief het my nie aangestaan nie. En ek dink die dood as verteller het vervaag van baie interessant, tot niksseggend.
Vanmiddag is ons Leeskring se bespreking, dan sal ek hoor hoe die ander gevoel het.
Laat weet tog wat uit die leeskring bespreking gekom het. Ek is nou baie ge-interesseerd in die hele onderwerp. Miskien moet jy dalk 'n forum lei hieroor op die webtuiste.
Ja, ek hoor wat jy se oor die dood as hoofkarakter, maar ek glo ook ons soek tog maar na vernuwende, innoverende en meer nog, positiewe uitkyke op hedendaagse sosio-ekonomiese situasies in die literatuur - durf ek dit se - happy endings.
Ek sukkel bv met Byna Liefde, maar het Om na 'n wit plafon te staar en Suiderkruis verslind.... die psigologie agter die hele ding is nogals iets wat my interesseer. Nie net hoekom 'n boek goed is nie, maar ook hoekom die individu daarvan hou, die identifikasie punte ens ens .... og, hier gaan ek al weer in 'n aweregse windrigting!! :)
Byna Liefde weer, was vir my een van daardies wat ek elke afknyptydjie wat ek kon, gelees het tot hy klaar was. Ek begin erg geïnteresserd raak in die redes waarom mens aanklank vind by een boek, en by 'n ander nie.
Ons Leesking bespreking oor The Book Thief was baie lewendig, en mense het besonder aktief daaraan deelgeneem. Daar was nogal dieselfde verdeeldheid as wat ek hier bemerk. Dit gebeur min, normaalweg is daar taamlike konsensus. Onthou ook, dis meestal ouer (intellektuele) vroue.
Een van die dinge wat beslis genoem is, is dat die gebeure rondom die Holocaust steeds emosies wek, en dat dit nog nie uitgeskryf is nie. The Book Thief het ons 'n kykie gegee in die lewe van die 'gewone' Duitser se lewe, sonder om die grieselrige besonderhede van die Holocaust op te haal.
Dis vir my ook ongelooflik interessant dat mense sulke verskillende menings oor boeke kan hê. Maar as jy dink hoeveel dinge 'n rol speel in jou mensword en menswees, is dit seker nie verbasend nie.
Book Thief het vir my nie oor die hype gegaan nie, MaanKind. Ek het geen resensies van die boek gelees nie, maar dit in 'n boekwinkel by OR Thambo gekry en gedink ek sou daarvan hou.
Dit wys ook maar net weer hoe uiters subjektief swak resensies kan wees en hoe nadelig vir die skrywer en die boek. Dan moet ons eintlik maar nie 'n opinie uitspreek as ons nie van 'n boek hou nie, behalwe dat die boek nie tot ons spreek nie, maar dat ander dit dalk mag geniet. Of hoe? Is dit te flou en draadsitterig? Of is stilbly die enigste antwoord?
Cerneels, ek stem saam dat die meeste mense in hierdie moeilike tye seker soek na iets wat die hart verlig, al bly die omstandighede dieselfde. Ek lees beslis eerder boeke wat positief is of ten minste nie die negatiewe beklemtoon nie.
Het ek genoem dat ek nou weer The Book Thief gaan aanvat? Daar was darem alteveel dingetjies wat ek vandag gehoor het wat ek gaan mis.
Ek is so bly ek kan met julle hieroor praat, anders het ek dalk net die boek eenkant toe gegooi na die eerste probeerslag.
Poljons, ek glo dat die mens maar van nature 'n opinie sal lig. Ek glo nie dat dit soseer die boek/skrywer skade doen as jyself nie vat daaraan kon kry nie. Dit is tog maar soos dit is. Somige films is ook maar so. Jy hou van of jy hou nie van nie. Is dit nie dalk juis 'n teken van 'n baie talentvol/goeie/deurdagte boek/skrywer as daar so 'n definitiewe tweespalt is nie? Dis nie net 'n "okay" storie nie - wat vir my half meer "sondig" is.....
Sterkte Maankind. Jy maak my nou ook weer twyfel.... oor Byna liefde en Thief - hehehe.
Ag toemaar, Cerneels, ek het met The Shack begin, nog 'n boek waaroor daar nogal so 'n verdeling is. En ek is so dankbaar ek en Poljons kan so lekker oor The Book Thief gesels. En oor die redes waarom ek nie aanklank by so 'n uitsonderlike boek kan vind nie.
Ek is bly jy gaan dit weer probeer lees, MaanKind. Want ek moet byvoeg dat ek die hele tyd gevoel het dat die dood as verteller diepe deernis met die menslike toestand het - met sowel die Jode as die Duitsers. Dit het my juis opgeval.
Laat weet asseblief as jy klaar is hoe jy toe daaroor gevoel het. Geen druk nie - al is dit ook in 2012!
Jy's reg Cerneels. Ons mag ons opinie lug - dis immers ons demokratiese reg. En ja, hemel behoed dat 'n mens se boek so vervelig is dat dit absoluut geen tweespalt uitlok nie. Ek sal dit probeer onthou.
Ek het ook die boek op 'n lughawe gekoop en is nog besig daarmee. Ek is verlei deur die blurb en is steeds mal oor die storie, die karakters is interessant en ek hou selfs van die idee dat die dood die storie vertel. Waarmee ek sukkel is die stem waarin die storie vertel word. Dis vir my nie 'n stem wat geloofwaardig is nie. Daar is ook heeltemal te veel foefies wat vir my in die pad van die storie kom. Dinge soos die klein lysies oral. Partykeer moet 'n skrywer dalk net die storie vertel en ek dink in hierdie geval is daar soveel wat interessant en boeiend genoeg is dat al die ekstra goedjies net 'n irritasie word. Die Dood se stem herinner my bietjie aan die tipe humor in Terry Pratchet en Douglas Adams se boeke maar dis glad nie dieselfde tipe boek wat met alles spot nie. Dis vir my bietjie pynlik maar ek wil dit tog klaar lees - net omdat ek wil weet wat met Liesl gaan gebeur.
Sinkronisiteit?
Ek is tans besig om die boek te lees, seker nou net so oor die halfpadmerk.. Soos gewoonlik steur ek my aan geen resensies nie, wat my interesseer het is die onderwerp, was nog altyd 'n groot gunsteling by my. Ek het die boek meer as 'n jaar gelede in 'n winkel gesien en dit het my interesseer en ek het daaroor gewonder. Nou, nadat 'n vriendin dit gelees en as 'uitstaande' beskryf het, het ek ook een gekoop. Ek moet sê ek is ietwat teleurgesteld.
Daar is een aspek wat my pla, baie pla. Dis nie die Dood as verteller of enige iets anders nie. Ek voel 'n gemis aan emosie, diep emosie. Alles wat in die boek gebeur is immers baie emosioneel, maar dit word nie vir my gewys nie, daar word net vertel. Dalk kom dit nog?
En dit, Kadys, is juis wat vir my so treffend was; die feit dat Dood se werk net nog 'n werk was. Ek dink emosionaliteit (oor-emosionaliteit, sentimentaliteit dalk) in hierdie tipe boek is 'n slaggat waarin baie maklik getrap sou kon word.
Maar ek wil darem hoor, kon jy toe die emosie voel met Rudi? Die skrywer was hier, myns insiens, geniaal. Die leser weet Rudi gaan dood en tog raak dit mens baie diep.
Ek het die boek eenkeer gelees, maar het hom solank nadergetrek vir weerlees. Nadat ek met Life of Pi (ook 'n herlees) klaar is.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member