Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
70 views

Eerbewyse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Page 1
posts 1–3 of 3
superstar - founder
993 posts

Die dramaturg Deon Opperman, die jong Afrikaanse digters Ronelda S. Kamfer en Loftus Marais, asook die Oscar-bekroonde aktrise Charlize Theron is onder die ontvangers van eerbewyse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Die Akademie het gister die wenners bekend gemaak en sal op 27 Junie tydens sy eeufeesviering in Bloemfontein die toekennings oorhandig.

Opperman is die tweede keer bekroon met die Hertzogprys vir drama vir sy toneelstuk Kaburu. Hy het dié prys ook in 2006 vir sy oeuvre tot daardie jaar ontvang.

Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld.
Luidens ’n mediaverklaring is die prys slegs vir oorspronklike werk in Afrikaans, en word dit jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa in dié volgorde.
Werke wat verskyn het in die drie kalenderjare wat die bekroning voorafgaan, kom daarvoor in aanmerking. Die prys word op aanbeveling van die Akademie se letterkundekommissie toegeken.
Opperman se Kaburu is ’n toneelstuk oor ’n Afrikaner-familie en identiteit. Dit speel af ná die Anglo-Boereoorlog, toe van die Boere na Kenia getrek het.

Die twee jong Kaapse digters Kamfer en Marais deel vanjaar die Eugène Marais-prys vir poësie: Kamfer vir haar bundel Noudat Slapende Honde en Marais vir Staan in die Algemeen Nader aan Vensters. Dié prys word jaarliks toegeken vir ’n eerste of tweede publikasie in Afrikaans, en word eenmalig aan ’n bepaalde skrywer toegeken.


Luidens die mediaverklaring kry Theron die erepenning vir rolprentkuns vir “haar uitmuntende akteurstalent en die feit dat sy een van min Suid-Afrikaners is wat só ver in die internasionale rolprentwêreld gevorder het”.

Die Tienie Holloway-medalje vir kleuterliteratuur gaan vanjaar aan Alana Bailey vir Die Prinses van die Afrikavlaktes en aan die illustreerder Emily Bornoff. Dié kategorie is vir boeke vir kinders onder agt jaar.

Die Elsabe Steenberg-prys vir vertaalde kinder- en jeuglektuur in Afrikaans (vir boeke vir tieners en jong volwassenes) word toegeken aan die oudredaksielid van Volksblad Jaco Jacobs vir Willemien en die Geel Kat.

Die Gustav Preller-prys, wat al om die drie jaar toegeken word vir literatuur-wetenskaplike werk in Afrikaans, gaan aan prof. Chris van der Merwe van die Universiteit van Kaapstad.

Die Vrystaatse pianis Albie van Schalkwyk, wat hom pas by die Universiteit van Kaapstad se musiekkollege aangesluit het, ontvang vanjaar die Huberte Rupert-prys vir klassieke musiek “vir sy uitmuntende en ongeëwenaarde bydrae tot ensemble-spel en -onderrig in Suid-Afrika oor ’n tydperk van meer as drie dekades”.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
regular - member
90 posts

Maankind dit waarvan jy gepraat het is op ons!  Terlwyl ons gister al uit was vir vadersdag het ek die masjien gestel om Die tale wat ons praat op RSG op te neem.  Ek dit dit toe gisteraand geluister.  Die stukkie op die RSG-webwerf lees so:

Die tale wat ons praat
Fonnie du Plooy

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is in 1909 gestig en van 23 tot 27 Junie word daar eeufees gevier in Bloemfontein. Daar was talle mylpale die afgelope 100 jaar. In 1915 het die eerste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls verskyn en die 10de AWS sal by die feesvieringe in Bloemfontein bekend gestel word. Die Akademie het ook die Hertzogprys ingestel en het talle skrywers deur die jare daarmee vereer. En daar was ook talle ander bekronings vir Afrikaanse hoorbeelde, radio en televisie, deur die jare. Prof. Jacques van der Elst, die hoofuitvoerende beampte van die Akademie, gesels hieroor met Fonnie du Plooy.

Dit was toe baie lekker om te luister, dit het miskien 'n bietjie lank geraak.  As iemand wel graag na luister, laai die mp3 af by hierdie direkte skakel.

Goed, dis nou wel nie alles boekesake nie, maar die interessante ding vir my was om te hoor van die nuwe Woordelys en Spelreëls wat saam met die eeufees verskyn. Ek het al partykeer ou weergawes gesien en is nie heeltemal seker of ek dalk al een van die oues hier iewers het nie, maar ek dink die nuwe een sal nogal goed lyk langs my nuwe HAT en my Skryf Afrikaans van A tot Z van Dalene Müller!

superstar - founder
993 posts

Ek het gelukkig geluister, en het net vandag met iemand gesels daaroor, dat die tiende uitgawe van die nuwe Woordelys en Spelreëls. Die probleem is die reëls wat verander, en dan stry mense oor ou reëls en nuwe reëls.

My kopie van Skryf Afrikaans van A tot Z van Dalene Müller is baie kosbaar. Enige ding waaroor jy moontlik kan twyfel, kan jy daarin naslaan. Mens kan skaars glo die magdom inligting wat daarin vervat is. Enige persoon wat sy hand aan skryfwerk waag, of enigsins in die joernalistieke bedryf is, behoort 'n eksemplaar daarvan te hê.

Is dit Polokwane of Pholokwane? Joegoe-Slawie of Joego-Slawie? Mondelings of mondeliks? Sardientjies of sardyne? Was hy die sondaar of die sondebok? Emigreer of immigreer sy? Doen jy iets op of volgens 'n bepaalde metode? Het dit blykbaar, klaarblyklik, oënskynlik of skynbaar gebeur? Is dit 16:00 of 16h00?

Bestel hier van Kalahari en slaan dit na!

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–3 of 3

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now