WIe is oud genoeg om hierdie boek te onthou? Dit was ook voorgelees op die destydse Radio Suid-Afrika
Presies so dramaties soos 50 jaar gelede
Meulenhof se mense deur Linda Joubert. Human & Rousseau (sagteband, 127 pp.) R125.
’n
Seldsame tegniek word in hierdie liefdesroman gebruik – die hele
verhaal word vertel in nege briewe wat ’n onderwyseres aan haar vriend
skryf.
In 1904 begin Annemarie Herbst aan die Seminarium op
die Bolandse dorpie De Rust skoolhou. Sy loseer by “Meulenhof se
mense”, die drie Vermeulen-susters, wat op 35, 32 en 27 as
oujongnooiens gereken word.
Die ou Kaaps-Hollandse opstal
is al wat van die Vermeulens se vroeëre rykdom oorgebly het. Die
susters is tot oor hul ore in die skuld. Annemarie besef die enigste
mens wat kan help, is die buurman, Malan du Toit. Sarah Vermeulen sal egter eerder sterf as om hulp van hom te aanvaar ná wat 15 jaar gelede tussen hulle gebeur het.
Die
skryfster laat in elke hoofstuk ’n ander karakter aan Annemarie vertel
wat alles destyds gebeur het. Daar is dus deurgaans verskillende
gesigspunte.
Tot die twee onmoontlike hardekoppe, die
trotse, “wilde, eiesinnige” Sarah (bl. 108), en die ryk
“paddastoeldelwer” van die Onderveld (bl. 42), die wildeperdtemmer
Malan du Toit, vertel hulle stories.
Dit is ’n verhaal dié van diamantharde hoofkarakters wat mekaar, ten spyte van hulle diepste gevoelens, wil fynmaal.
Die
dialoog is besonder dramaties. G’n wonder die skryfster het in 1966 die
Eugène Marais-prys vir haar dramatiese werk ontvang nie.
’n
Ek-verteller word nie gebruik nie. Ook nie ’n alwetende verteller nie.
Net ’n vaardige skryfster soos Joubert kan die leser die gebeure
oortuigend laat meemaak deur die oë van die briefskryfster sowel as die
ander karakters.
’n Baie groot deel van die boek bestaan uit
terugflitse. Van 1904 af word die leser verplaas na die vorige 150
jaar, om uit te beeld hoe Sarah ’n trotse Vermeulen geword het.
Dan skets die vorige 15 jaar se gebeure hoe Sarah ’n verbitterde mens geword het.
Die
terugflitse bou soos legkaartstukke wat in plek val stadig maar seker
na die einde toe ’n sinvolle geheel. Die skrywer weet hoe om die
spanningslyn stewig te hou.
Eers heel teen die einde vervaag die verlede en vergesel die leser die karakters na ’n nuwe begin.
Dié gewilde verhaal het in 1956 as vervolgverhaal in Sarie Marais verskyn en in 1961 die eerste keer in boekvorm.
Dat
dit herdruk is, is ’n pluimpie vir Linda Joubert, die skuilnaam wat
Henriëtte Grové in die jare vyftig gebruik het vir haar meer populêre
werk.
Grové het in 1984 die Hertzogprys ontvang vir Die kêrel van die Pêrel.
Stoffel Cilliers in die Beeld
Gebruik hierdie skakel om die boek van Kalahari te bestel
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member