Martie Preller gee meer raad oor die skryfproses.
DIE ABC VAN SKRYF - soos dit verskyn het in die Kakkerlak - Herfs, 2005, Uitgawe 2.
© Martie Preller
Aanvaar
jouself en wat jy sien as jou “beperkinge” Skryf gaan jou nie ‘n
interessanter/heler/meer aantreklike mens maak nie. As jy dalk eendag
‘n boek gepubliseer kry, gaan jy nog jy wees.
Breek ‘n eier. Eet die eier
op die manier wat jy wil. Vat die stukkies eierdop en spel enige woord
daarmee uit op ‘n swart vel papier. Watse woord het jy gespel? Hoekom
dink jy het jy dié spesifieke woord “gekies”? Begin die eerste sin van
jou storie met dié woord. Motivering vir die absurde opdrag: Skryf is
moeite, net soos om ‘n eier te breek, te eet, ‘n woord te spel en alles
op te ruim. Skryf kan ook ‘n soort ritueel wees. Dis anders vir elkeen.
Iets moet gebreek word, daar is ‘n effe van ‘n gemors, daar is
moontlikhede. Daar is nie resepte nie. Skryf is moeite. (Sien E)
Chaos. Mens skryf uit
chaos. Mens kan nie uit ‘n “reggepakte” kas jou groot wysheid en insig
aan ander “leer” deur stories nie. Jy weet net van jouself, wat jy
beleef het, wat jy nodig het ens. Bied dit wat jy wil sê aan deur
stories met respek vir jouself en ander. Skryf is HERskep. NUWE ordes
en storiepatrone wat jy dalk gevind het. Skryf is soeke. Skryf is
wonder. Niemand het finale “antwoorde” nie. Wat was die vraag nou weer?
Dans saam met jou woorde.
Hoe dans die H? Huilerig en hoeserig en hygerig? En die O? Opsters en
otterig en onderstebo? Maak jou eie dans-alfabet.
Een vir een. Woorde word
een vir een geskryf in sinne. Sinne word een vir een geskryf in
paragrawe. Paragrawe word een vir een geskryf om bladsye vol te maak.
Skryf is moeite. (Sien B)
Flits. Draai jou oë na jou
binnekant. Wat sien/hoor/voel/ruik/proe jy? Sien jy ‘n flitsende lig?
‘n Ambulans? Wat het gebeur? Of is dit die lig aan die einde van die
tonnel? Of dalk net iemand met ‘n flits wat soek soos jy? Of dalk die
oog van ‘n aankomende trein? Skryf so dat ander ook kan ervaar wat die
karakter sien/hoor/voel/ruik/proe/wonder.
Gooi alles wat jy weet weg.
Maak jou kop/siel/lyf leeg. Is daar iets/niks oor? Indien daar nog iets
oor is, gooi weg totdat jy leeg is. Dis waar stories begin. By die
groot niks waar ENIGIETS kan gebeur ...
Hoekom wil jy skryf? (Sien A en B)
Ietermagog – is dit nie die
snaaksste woord wat jy nog ooit gesien het nie? Maak lysies van jou
snaakse woorde, jou interessante woorde, jou irriterende woorde, jou
knorrige woorde ens.
Jag jou skaduwee totdat jy hom/haar vang. Jou kanse is omtrent net so goed as om ‘n boek in ‘n maand te skryf. (Sien B en E)
Koop elke maand ‘n boek
saam met jou kruideniersware en hoop dat ander mense dit ook doen. Wie
dink jy gaan JOU boek koop as dit dalk gepubliseer word?
Lag vir jouself. Dis beter as om jouself te verbrysel omdat jy nie perfek is nie/ Lees
vir elke boek wat jy wil skryf, 10, 461 en ‘n kwart boeke. (Sien K)
Moenie so ‘n boring boek skryf soos die een wat jy nie eens kon
klaarlees nie.
Moenie ... mossie ...
kardoesie .. konfoes ... skimmel die koei in die gras ... Gaan waarheen
die woorde jou vat en kyk waar is jy dan.
Neus. Hoe lyk jou karakter
se neus? Hoe lyk jou neus? Watse neus wou jou karakter eerder gehad
het? Watse neus wou jy eerder gehad het? Sou dit iets aan jou karakter
se lewe verander het as sy/hy ‘n ander neus gehad het? Sou dit iets aan
jou lewe verander het as jy ‘n ander neus gehad het? Vervang – neus –
met enige ander liggaamsdeel.
O ... die O kon so vreeslik
lieg. Hy het altyd ‘n stertjie aan alles wat hy vertel het, bygelieg.
Toe word hy ‘n Q. Daar gebeur iets in ‘n storie. Wat gebeur? Hoekom?
Waar? Wanneer?
Probeer. Anders sal jy nooit weet of jy kan nie. Stories skryf nie hulleself nie. (Sien B en E)
Q. Eendag was daar ‘n Q wat
so vreeslik gelieg het. Hy het ‘n stertjie by alles bygelieg. “Wat is
dit tog met Q,” het almal gevra. “Hoekom lieg hy tog so?” “Ek kan nie
anders nie,” het Q gesug. “Ek is so gemaak en so gelaat staan.” Lieg Q?
Rose het dorings. Het dorings rose? Draai jou storie op sy kop of op haar voete en kyk waarheen sy loop.
Skryf. Natuurlik. (Sien B
en E) Skryf is ‘n ambag. Jou medium is woorde. Hoeveel woorde ken jy?
Hoeveel kan jy maak? Hoe klink jou sinne? Praat al jou karakters op
presies dieselfde manier? Ondersteun die klanke van jou woorde hulle
betekenis? Ondersteun jou sinskonstruksie die betekenis van die sin?
Mediteer jou karakter in lang en verwikkelde sinne oor die sin van die
lewe, terwyl die woedende bul se warm asem gate in sy rug brand?
Tyd. Almal se dae het 24 ure. Verstommend, né? Dit hang af wat jy met jou ure doen.
Urvis is ‘n virus. Jy kan dit nie gebruik nie. Ek het al in Balkie en die woeste virus. Het
jy behoorlik navorsing gedoen oor die genre waarin jy wil skryf? Jy
moet nie NAskryf nie (dit is mos nou al gedoen) maar jy moet weet wat
daar reeds bestaan.
V, W,X, Y, Z. Moenie die
storie aanjaag of klaarmaak voordat dit nie klaar is nie. Moenie jou
dae verbywens nie. Jy mis dalk iets? As jy spinnekoppe onder klippe
soek, sal jy spinnekoppe kry en is jy ‘n ... ? Dalk net onder AL die
klippe kyk? Versigtig. Vir ... iets? Wat daar ookal is?
Wie dink jy gaan jou boek lees as jy nie ander se boeke lees nie? Wie gaan jou boek koop as jy nie ander se boeke koop nie?
XXXX Liefde en ....
verkeerde merkies? Misverstande lê in die hart van stories. Ontleed die
mis (selfstandige naamwoord of werkwoord?) ver (of te naby?) s-tande
(grynslag of glimlag?) Of staan mens ver (te naby?) aan ander se
mis(lukking?) as daar ‘n misverstand is? Waar was jou verstand? “Of all
the things I lost, I miss my mind the most” – het iemand gesê. Of is
die liefde ‘n verkeerde merkie? Of is dinge reg en verkeerd en ons
optel- of af(t)rek- of maal- (meul?) of deelsomme? Speur deur die
betekenis van taal en soek ou woorde en nuwe woorde en woorde wat
presies sê wat jy wil sê en span hulle so in dat hulle presies sê wat
jy wil sê. (Sien B en E)
Y is ‘n kelkie of ‘n kers
of ‘n kandelaar of paaie wat vurk. Het die kelkie en die kers die
kandelaar verneuk en nou vurk hulle paaie? Daar is orals stories. Soek.
Zzzzz. Aanvaar
jouself en wat jy sien as jou “beperkinge” Skryf gaan jou nie ‘n
interessanter/heler/meer aantreklike mens maak ... Jy het dit al êrens
gelees, né? Bly jy slaap nog nie! Moenie goed oorskryf nie. Dis
plagiaat en boring. Wees nuut en oorspronklik. Maar hoe? Is alles nie
al gesê wat gesê kon word nie? Daar is niks nuuts nie. Is so. Alles is
al gedoen. Maar is dit presies SO al gedoen? Uitgewers noem dit die
“goue reël” van skryf – “Show, don’t tell!” Ek wou nie alleen deel (sê)
wat ek weet van skryf nie, maar dit ook WYS. As jy nie alles verstaan
nie, moenie bekommer nie. Ek verstaan ook nie. Niemand verstaan alles
nie. Dis in die wonder en die nie-verstaan en die soeke en in die
miskien wat die mooiste stories gevind kan word. (Sien C en G) Ons deel
net soos ons kan, op die mees oorspronklikste maniere wat ons kan.
Ek skryf vir terapie en om 'n produk te h♪ wat ek kan verkoop in jare nog...
Hierdie is ontsettend oulik en enige taalonnie behoort dit in sy skooltas rond te dra.Baie van hierdie punte kan jy in jou klas ook gebruik. Elke ou maak gebruik van wat hy dink werk goed, maar dit werk nie altyd vir elke liewe kind in jou klas nie en hierdie is 'n baie oulike manier wat bietjie "anders" is. Baie dankie!
Martie, jy't op my blog iets gesê van 'n nuwe boek en skaak. Mag ek die titel kry asb.? Het jy die boek ook op jou webblad? Hoe pas die skaak in die storie? Is daar 'n spel ook betrokke? Ek sal graag die boek wil blog.
Hallo! Ja - dis Vandag is nie gister nie - op my webblad. Daar is baie direkte verwysings na die spel en veral een spesifieke toneel. Dis moeilik om presies te se. :) Van Ben wat die kinders leer skaak speel op 'n baie anderste manier :) Dis egter nie 'n regte spel in nie - daarvoor weet ek te min! Hierdie aanhaling is vir my so treffend. Ek weet nie hoekom is dit nou so GROOT nie! Die storie gaan oor 'n man wat speel met ander se lewens asof hulle skaakstukke is.
One cannot play chess if one becomes aware of the pieces as living souls and of the fact that the Whites and the Blacks have more in common with each other than with the players. Suddenly one loses all interest in who will be champion.
Anatol Rapoport
Nikita - Daar is verwysings na skaak in 2 van my jeugboeke ook. "In die tyd van die Esob" en "Die hart van Zeebak". In "Die hart van Zeebak" speel Ferdinand skaak op so vreemde klein dorpie (waarin hy beland) en wat dalk die dorpie van onvervulde lewens is ... of so iets. Hy speel skaak teen 'n ou man in 'n kafee wat hy later dink dalk hyself kon gewees het, in 'n ander lewe ... Maar die spel self is nie in detail nie. Ek weet te min, maar ek vind dit fassinerend. In 'n ander lewe sal ek beter leer speel :) Een lewe is te min om alles te doen. Ai.
hi Martie, baie dankie, ek het gewonder of jy dalk so kort stukkie oor elkeen van die boeke- wat skaak in het - net wil skryf en ek plaas jou aanhalings dan net so, met "images" van die boeke wat dit insluit en 'n link waar mense dit kan koop - op jou webbladsy of Kalahari. Ek sê byvoorbaat dankie! Indien jy voel dat jy nie die tyd het nie, moenie sleg voel nie. Ek sal dan slegs net die boeke-"prentjies" doen - as hulle almal beskikbaar is - die omslae. Skree as jy dit kan doen, dan email ek jou en jy dan dit via email vir my stuur. Baie dankie!
Nikita - dit klink na interessante idee. Ek het 'n plannetjie hoe mens dit kan bolwerk. E-pos my dan vertel ek jou. Jy het my nou (weer) op hol oor die skaak en die moontlikhede. Ek het nooit eers besef, tot ek al jou skaakgoete gelees het, hoe baie ek dit al gebruik het nie! Dis vreemd hoe die temas in boeke inwurm sonder dat mens eintlik weet. Ek het een dag in 'n bespreking van my boeke gesien hulle seg "natuurbewaring" is 'n deurlopende tema in my boeke. TOE eers dink ek daaroor - en sowaar! Dis amper orals. Stories is 'n baie vreemde en wonderlike medium.
hi Martie, Dankie, ek maak so! Dink gerus volgende keer daarin om 'n paar skuiwe in te bring, of 'n hele spel..soos in my voorlaaste inskrywing..."From Russia with love". Ek het lank terug 'n inskrywing gemaak oor: "why do the movies use chess.." - iets in daardie lyn. Sien ook my "Chess Art/humour"-link vir idees.. :))
Alice in Wonderland het mos ook die skaakspel in die verhaal, dis ook iewers op my blog. baie interessant hoe dit daar gebruik is.
Dankie weereens, ek email jou.
Skaak-groete!
Nikita - Ek het amper so iets gedoen in "Hart van Zeebak" . Ek gaan dit nou vir jou stuur. Daai ander idees gaan ek lees!!! :) Ooo jaaa - Alice en die ou kwaai Queen is wonderlik. Het vir my kleinkinders (5 en 3) die DVD gekoop. Hulle VREK daaroor! Ek ook! Daar is HEELTEMAL te veel sappige goed op jou blog. Ek wil alles lees! Dis wonderbaarlik saamgetrek - al die inligting. Dis die "probleem" met die internet - dis soms so wydverspreid, mens sukkel om alles in die hande te kry. Wonderlik as mense dinge bymekaar sit en bietjie orden. Soos hier ook!
En jou wragtie waar, onthou ek nou die dag - ek het jare gelede 'n HELE kinderboek geskryf oor skaak! Ek het dit genoem 'n Casper hou van skaak. En dis clean gone weg! Destyds wou niemand publiseer nie - geseg dis 'n te beperkte mark - asof net kinders wat van skaak hou daarvan sou hou. Ai tog. En nou het dit erens verlore geraak - seker op 'n rekenaar wat gecrash het of iets. Geen idee hoe en waar nie. Partykeer sulke goete hier op my rekenaar wat ek nie weet herwaarts of derwaarts nie - nou back ek darem behoorlik up! Maar ai tog. Nou ja - nou is dit weg. Was seker nie meant to be nie.
hi Martie, dis darem bitter jammer dat die boek weg is, jy moet dit weer probeer skryf as jy die storielyn kan onthou. :)
Baie dankie vir als wat ek per email ontvang het. Ek sal kyk wanneer ek 'n gaatjie het om dit te blog. Dankie vir die kompliment oor my blog, ek hoop jy geniet wat jy daar kry.
Ek probeer nuwe inskrywings link met vorige inskrywings met dieselfde onderwerp. So het ek 'n paar oor kinderboeke en hulle gelink. Ek weet ook dat ek oor Alida Bothma een inskrywing gedoen het.
Nikita- ek kan omtrent niks onthou nie! Dis jare der jare gelede. Ai tog. oh, well :)
Dis jammer. Ek het so 10 jaar terug 'n kort storietjie geskryf, sommer vir die grap..nee, langer terug. Dit het gegaan oor die diere in 'n boom wat net nie tot ruste kon kom nie - deur die nag - en (ek kan nie onthou of dit uil was of watter diertjie) het hom vervies vir al die geraas in die groot boom, maar als was oor die verskillende diere en wat hulle doen voor hul tot ruste kon kom. Ek was toe eendag in Sunny Park se CNA en daar sien ek 'n soortgelyke boekie! Sjoe, wat 'n terleurstelling...ek was sommer vies. Ek is eintlik vandag spyt ek het nie die boekie gekoop nie. Ek wou nog altyd 'n kinderstorie skryf. Myne is nog iewers weggepak. Ek het nog altyd gehoop ek loop iemand raak wat dalk die boekie ken sodat ek kom kan bestel. :)
http://wp.me/p9e0H-2DG
Martie, ek het so pas die inskrywing voltooi. Hier is die link.
Ek hoop jy hou daarvan.
Nikita - ai tog - dis jammer van jou storie wat toe voorgespring is - dis weird dat iemand anders presies dieselfde idee gehad het - maar blykbaar hang stories soms so rond in die lug - vir die eerste een om te pluk :) Ek het nog nooit so 'n boekie gesien nie! Jy moet kyk of daar nie dalk weer 'n ander storie rondhang nie ...
BAIE dankie vir die inskrywing. Sjoe - dis baie nice van jou. Alle blootstelling kan dalk help - mens weet mos nie! Coooool.
hi Martie
Ja, dit was nogal baie, baie snaaks. Ek hoop dat iemand wat dalk hier lees so 'n storie ken of gesien het. Dit was geskryf vir kinders om en by so 5-8 jaar en ek onthou net die baie bruin skakerings in die boek. Ek kan myself skop hier waar ek sit dat ek so vies was en die boek net daar neergesit het en nie verder gedink het nie. :)
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member