Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
721 views

Die Geskiedenis van Boerekos in Suid-Afrika

Page 1
posts 1–5 of 5
superstar - founder
993 posts

Die Geskiedenis van Boerekos 1652 - 1806 Dr HW Claassens

Ons Leeskring het vandag die voorreg gehad om na dr Claassens te luister. Sy het gesels oor haar boek, Die Geskiedenis van Boerekos 1652 - 1806, wat deel gevorm het van haar dokotorale proefskrif. Wat 'n interessante gesprek!

Vir haar boek het Claassens diep gaan delf in historiese dokumente om die geskiedenis van Suid-Afrikaners se eetgewoontes vas te lê. Die dagboeke van Jan van Riebeeck, Adam Tas en lady Anne Barnard is onder meer gefynkam vir detail oor die Kapenaars van weleer se eetgewoontes.
Sy het verwys na resepte van so vroeg as 1226 uit Bagdad, en dié van die die Franse koning se kok wat in 1490 al melksnysels gemaak het. "Frensch toast' is inderwaarheid 'n ou Romeinse resep, en "Franse slaaisous" soos ons dit ken, het saam met Jan van Riebeeck uit Holland aangekom.

Sy het mites ook blootgelê oor die invloed van Maleise kookkuns op Boerekos. Volgens Claassens het die slawe aan die Kaap uit arm dele gekom, wat slegs borrie en gemmer geken het. Die kerries wat vandag bekend staan as Maleise disse, is inderwaarheid in Perse ontwikkel, en die spesery-kennis het saam met Jan van Riebeeck hier aangekom.


Wortels was van die vroegste groentesoorte wat hier saad (of is dit nou wortel?) geskiet het aan die hand van Europeërs. Van wortels, wat volgens Claassens in Afghanistan ontwikkel is, het daar drie variëteite in Europabestaan: rooi, swart en pers. Die geel en oranje variëteite is deur die Hollanders ontwikkel. Die oranje wortels soos ons dit ken, staan in Nederland bekend as “rooiwortels”, terwyl die “geelwortels” se benaming terugslaan op die geel variëteit van dié groente wat in Nederland ontwikkel is.


Vandag sien mens nie eintlik geelwortels nie,maar die naam word steeds - streng gesproke verkeerdelik - gebruik vir die oranje weergawe wat ons ken. Ewenwel, Jan van Riebeeck het ook die sade van witwortels en peperwortels in sy knapsak gehad.


Volgens Claassens is die eerste onderontwikkelde ertjiepeule reeds in die 16de eeu in Vlaandere aangetref. Honderd jaar later het dit in Frankryk 'n modegroente geraak toe Lodewyk XIV daarop verlief geraakhet. Blykbaar was die Franse edelvroue so gek oor dié groentesoort dat hulle hulle saans van partytjies af huistoe gehaas het om voor slaaptyd te smul aan dié lekkerny.


As jy gedink het beskuit is tipies SUid-Afrikaans, dink weer.


Volgens H.W. Claassens in Die Geskiedenis van Boerekos 1652 - 1806, kom die woord beskuit uit die Frans wat “twee keer gebak beteken”. Die woord het inslag gevind en is gekies bo die dialektiese Nederlandse woord, tweebak. Dit was eintlik nie so snaaks dat hulle die Franse woord gekies het nie. Die meeste Nederlanders was daai tyd Frans magtig. Frans was gedurende die vorige eeu die amptelike taal van Holland. Trouens, die heerser van daai tyd, Willem die Swyger, se huistaal was Frans.


Claassens vertel dit het alles begin toe die Franse hul soldate oorlog toe gestuur het met ‘n slopie van dié goed – biscuit de guerre,het hulle dit genoem. Dit was sulke regte klinknael-beskuite (soos die goed wat my ma gebak het wanneer sy geweier het om by die resep tehou), “haas oneetbare beskuit van meel en water”, aldus Claassens. Ek stel my voor as die soldate onder mekaar stry gekry en hulle mekaar met dié goed getakel het, kon hulle net sowel op die slagveld gewees het.


Die VOC se skeepsbeskuite was nie veel beter nie. Claassens haal Peter Kolbe (Naauwkeurige Beschryving van de Kaap deGoede Hoop) aan. Dié goed was glo so hard dat ‘n mens dit “naauwlyks met de tanden kan meester worden”.


En toe die tantes saam met Jan van Riebeeck op daai skip klim en die eerste keer van daai beskuite proe, het hulle met‘n tongklik al begin dink hoe hulle, wanneer hulle weer aan wal kom, hul hande in die deeg gaan steek en daai ou reseppie gaan verbeter.


Maar dit sou ‘n hele paar jaar neem. Volgens Claassens was onse Jan en sy mense vir ‘n hele paar jaar aangewese op “hartbrood”, die gedroogde brood wat deur die skepe daar aangebring is. Partykeer was dit so muf wanneer dit daar afgelewer word, dat dit sommer dadelik vir die varke gevoer is. Dis nou volgens die inskrywings in Jan se dagboek.


Die tantes was toe al meer as keelvol. En teendie tyd dat die eerste twee beskuitresepte in De Volmaakte Hollandsche Keukenmeid van 1761 verskyn (aldus Claassens), toe was die tantes hieraan die Kaap al vlytig aan die bak – lank voor die gepubliseerde ou reseppies – en die matrose het behoorlik bakhand gestaan vir slopies van daai bederfies. Ook die reisigers wat die lang verkenningstogte nadie binneland moes aanpak.


“  . . . versoeke is meermale tot die burgersgerig om beskuit aan vlote te lewer. Op 25 April 1740 is alleingesetenes van die Kaap byvoorbeeld gevra om aan goewerneur Swellengrebel te rapporteer hoeveel beskuit hulle in die volgende week aan die Engelse vloot sou kon lewer. Toe die inwoners van die Kaap op 4Maart 1760 met ‘n plakkaat verbied is om enige gebak aan die Fransevloot te lewer, was daar na raming reeds dertigduisend pond beskuit verkoop.”


Die basiese uitgangspunt van die studie was om na te vors waar die oorsprong lê van die koskultuur wat in die sewentiende eeu na die Kaap gekom het, wat die koskultuur behels het en wie daardie koskultuur aan die Kaap beïnvloed het.

Die Louis Hiemstra-prys vir nie-fiksie is aan H.W. Claassens toegeken vir Die geskiedenis van boerekos: 1652 – 1806.

Om die boek te bestel, kliek hier.



(Hier en daar gesteel van Melt se Slimsure blog, en van Toorkombuis se Mweb-blog.)



__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
regular - member
148 posts

Dankie dit lyk interessant

superstar - founder
993 posts

Die geskiedenis van boerekos

● Toerismegidse, kosskrywers en almal wat oor kos gesels, vertel mos dat dit Oosterse slawe was wat die kuns om met speserye te kook na die Kaap gebring het. Ek het onlangs HW Claassens se boek, Die geskiedenis van Boerekos: 1652 – 1806, raakgeloop en daarin weerlê sy hierdie stelling.

● Claassens wys daarop dat as ‘n mens ‘n geslagsregister vir boerekos sou opstel, jy sal sien dat die Perse – die Persiese ryk is 550 v.C. gevestig – se kookkultuur die basis vir die ontwikkeling van Boerekos gelê het. Omstreeks 620 n.C. het die Arabiere Persië verower en hulle eie beperkte kookvermoëns vir die Perse se gevorderde kookontwikkeling verruil en dié kennis na die gebied om die Middelandse See versprei. Die Italianers het hierdie kookkennis gedurende die dertiende eeu na die res van Europa versprei. Ons kan dus sê dat boerekos ‘n erfenis is van Persies-Arabiese kookkultuur wat deur die Hollanders en Franse na die Kaap gebring is.

● Claassens lê in haar boek uit hoedat hierdie verkeerde persepsie waarskynlik deur Hildagonda Duckitt (Hilda’s “Where is it?” of recipes 1891) en C Louis Leipoldt (Kos vir die kenner 1933, Polfyntjies vir die proe 1963 en Leipoldt’s Cape Cookery 1976) in hulle werke oor die Kaapse koskultuur geskep is. Hulle het aanvaar dat die Maleierslawe wat gedurende die 17de en 18de eeu na die Kaap gekom het net sulke bedrewe kokke was soos die Maleiers wat hulle in die laat 1800s en begin 1900s aan die Kaap geken het. ‘n Ander kosskrywer, Hilda Gerber, het in 1954 wel aangeteken dat die ou Maleiers aan haar gesê het dat, “We cook in the old Dutch style”. Tog het die mite dat dit die Maleiers was wat die gebruik van kruie en speserye na die Kaap gebring het, tot vandag bly voortleef.

● Kyk ons na die rol van speserye in die voorbereiding van kos, is dit nie te sê dat die Oosterlinge die alleenreg op kennis daaroor gehad het nie. Die Egiptenare het reeds teen 3500 v.C. speserye in hulle kos gebruik. Die Oosterlinge het die speserye ook nie vir hulleself gehou nie, want hulle het daarmee handel gedryf. Die Arabiere het die handelsroetes na Europa beheer, en natuurlik buitensporige pryse daarvoor gevra. Dit het die Europeërs genoop om self speserye in die Ooste te gaan haal – vandaar dan ook die rede waarom ‘n halfwegstasie aan die Kaap gestig is en vanwaar die Suid-Afrikaanse samelewing soos wat ons dit vandag het, begin groei het.

● Claassens sê Kaapse vroue het nie self gekook nie. Hulle het manlike kokke uit Europa gehad. En hulle het hulle Europese resepteboeke saamgebring. Vroueslawe het nie noodwendig gekook nie en hulle is veral as naaldwerksters gebruik, want daar was geen Mr Price- of Pep Stores-winkels hier aan die ou Kaap nie. Alles moes self gemaak word.

● Claassens sê ook dat die slawe afkomstig was uit die armer lae van samelewing in hulle gebiede. Slegs die hoër klasse het met speserye gekook. Die Kaapse slawe het met die eenvoudiger maniere van kook wat hulle in hulle eie lande beoefen het, aangegaan nadat hulle na die Kaap gebring is.

● Maar, toe die Engelse die Kaap oorgeneem het, het die Kaapse elite die koskultuur van vaal speserylose opgekookte kos van die hoëre Engelse kultuur aangeneem en die gebruik van speserye het vervaag. Van toe af het die slawe die kookkuns wat hulle in die Kaap aangeleer het in hulle huishoudings in stand gehou en daar kruie en speserye bly gebruik. Hierdie latere gebruik van kruie en speserye het die skrywers van vroeëre Suid-Afrikaanse kookboeke laat dink dat die slawe die bron van kook met kruie en speserye was.

● Claassens sê dat alhoewel ons boeretannies bekend was vir lekker kos kook het die Afrikaners  - wat die bereiders van Boerekos is - maar eers vanaf die 1980s weer die vreugde van werklike smaakvolle koskook ontdek toe hulle weer vrypostig kruie en speserye begin gebruik het, en natuurlik ook wyn saam met die kookkuns begin gebruik het.

● Ons hoef dus nie weer vir ons oorsese gaste te vertel dat ons tradisionele disse soos bobotie vanaf die Ooste kom nie. Daar is genoeg bewyse dat dit vanaf Europa kom. Selfs C. Louis Leipoldt wys daarop dat bobotie reeds in die Middeleeue deur Italiaanse kokke berei is.

● “Maar …”, sê iemand nou die dag toe ek hierdie storie oorvertel, “…. dis darem soveel lekkerder om vir ons oorsese gaste te vertel die slawe het al daardie wonderlike lekker disse na Suid-Afrika gebring.”  Al wat ek kon sê, was “Nou kan jy meer, want waarom het Claassens dan al die moeite gedoen om so ‘n deeglike studie te doen as dit met só ‘n opmerking afgemaak word!” Ongelukkig is dit die lot van navorsers. Dis nie altyd te sê dat die wêreld hulle bevindinge wil aanvaar nie.

 

(Braham van Zyl)

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
novice - member
26 posts

Ek het gisteraand na my kopie gegryp toe ons bobotie gehad het, en gesels het oor waar dit vandaan kom!

Altyd handig om jou eie vrae uit jou boekrak te kan beantwoord.

__________________
...gee my kos, boeke en my mense, en ek sal nie moeilikheid maak nie...
novice - member
46 posts

Ek het op een van my inskrywings oor SA resepte 'n link na 'n Doktoraal oor SA kosse,(universiteits-link) ek wonder of dit dr Claassens s'n is, ek is nou nuuskierig, ek sal moet my blog deurgaan, ek het heelwat bloginskrywings oor resepte, so dit gaan my 'n goeie tydjie neem, maar ek het dit baie interessant gevind.

__________________
Be who you are and say what you feel, because those who mind don't matter and those who matter, don't mind.
Page 1
posts 1–5 of 5

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now