Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
191 views

Woordfees

Page 1
posts 1–6 of 6
superstar - founder
993 posts

Ek neem aan die mense in die Kaap is bewus dat die Woordfees se kaartjies gister oopgemaak het vir bespreking by Computicket?

My kaartjies is gekoop en betaal, my akkommodasie is bespreek en betaal.

Nou kan ek ontspan! Ons gaan klomp goed bywoon, maar vir hierdie een sien ek nie kans nie...


__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
superstar - founder
993 posts

More gaan ek Woordfees toe!
More gaan ek Woordfees toe!
More gaan ek Woordfees toe!

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
superstar - founder
993 posts

Woordfees - tot dusver



In Stellenbosch aangekom, het ek dadelik yswater oor my kop omgekeer, en by die gastehuis ingeboek. Daar het ek dwarsdeur die swembad gestap. My klere was weer droog voor ons by die hek uit is. (Ons kla nie oor die hittegolf nie, en ignoreer die fyn assies was steeds afdwarrel)



LIRIEKE AS PITKOS – WOORD-VIR-WOORD EN NOOT-VIR-NOOT

Liriekskrywers Andries Bezuidenhout, Hunter Kennedy, Bertie Coetzee, Lize Beekman en Valiant Swart, wat nie alleen met woorde toor nie, maar ook met note, het met ons gesels. Dorothea van Zyl vra hulle uit oor die skryf van geslaagde lirieke en oor die uitdagings binne die Afrikaanse musiekbedryf. Fokofpolisiekar en Zinkplaat se musiek (of lirieke) spreek steeds nie tot my nie, maar ek het wel geleer hulle is gawe seuns.


OP ’N HOË NOOT

Met Nic de Jager en Eben Genis. Regie: Juanita Swanepoel.

Danie Botha het die immergroen en baie gewilde P.H. Nortjé se lekkerste stories gekies vir sy 88ste verjaarsdagviering in Wellington. Nic de Jager en Eben Genis het ons absoluut meegevoer.

'n Yskoue miswolk het intussen uit die hemele neergedaal - Lafenis, asem!


OOR DIE LIEFDE

Dorothea van Zyl gesels met liefdesverhaalskrywers Elize Parker, Chanette Paul, Jaybee Roux en Malene Breytenbach. 'n Vurige gesprek, wat nie afgehandel kon kom in 'n uur nie, en elders voortgesit is.


Ontmoet 'n ou vriendin van vir ete in die Botaniese Tuin. Sy het niks verander in die 20 jaar wat ons haar nie gesien het nie. Niks.


VUURWIEL

Joan Hambidge praat met Louise Viljoen oor haar nuwe, aangrypende digbundel, wat van die bekende temas in haar digkuns herbesoek: die liefde, reis, familie (werklik en tussen gedigte), verlies en die dood. Onse Joan het haar reputasie as omstrede literêre figuur gestand gedoen, sommer in haar openingsin!


GENOOI OF ONGENOOI: ALTYD ’N FEES MET PG!

Met PG, Heilna du Plooy, Ollie Viljoen en Dorothea van Zyl.

Chris Barnard het gesê dat PG ‘méns is in die volste sin van die woord. En hy leef die lewe’. Die Woordfees vereer graag vir PG met ’n andersoortige profiel vol pret, stories, maar ook patos en erns, wat verskillende skakeringe van sy werk en persoonlikheid uitlig. En hy sorg self vir die pikante inkleurwerk. ’n Resep vir ’n belewenis! En was dit nie 'n belewenis nie, met 'n heerlike seekosete ingesluit by die prys. PG homself, en meeste mense in die gehoor het iewers deur die aand 'n traan gepink. PG verdien ikoonstatus!


Tussenin is daar hierdie jaar die Plataankafee, waar jy tussenin die blase onder jou voete troetel. 'n Heerlike bymekaarkomplek, vanwaar Freek Robinson en Iris Bester ook oor RSG uitsaai.


Vandag het ons net gou kom kat/plante/wasgoed, en more-oggend vroeg is dit terug Stellenbosch toe, vir nog 2 dae se kyk en luister.



__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
regular - member
198 posts

Ek is so jaloers ek kan vrek.  Wou sooooo graag ook daar wees, maar it wasn't mend to be.
Sou baie graag vir PG wou sien en hallo sê, hy was na alles my redakteur by die Hoofstad in Pretoria.

Maankind as jy dink dis warm daar by jou of in Stellebosch, dan het jy nog nie die Breederivier Vallei beleef nie - ek dink my brein is halfgaar gekook.  Ek staan op my kniege en bid vir die winter.

Geniet die res van die fees en dink aan my.

superstar - founder
993 posts

Hoogtepunte van my afgelope twee dae by die Woordfees het ingesluit:




HERINNERING AS KOMPAS




Met Amanda Botha  in gesprek met Dana Snyman, Willemien Brummer, Ingrid Winterbach en Nanette van Rooyen.



Vier uiteenlopende skrywers roep boeiende herinneringe op aan dinge wat ’n lewenskompas geword het: Dana se jeug en ouerhuis wat hom as mens en skrywer gevorm het; Willemien se ouers - en die Langenhoven-gene; Ingrid se korrespondensie met Etienne Leroux as 18-jarige, uitgangspunt vir 18-44, en Nanette se Karoo-verlede wat haar laat dink oor die mens.






Die gesprek is gehou op die wynplaas Stellenrust (heerlike middagete ingesluit)



Net om in die KykNet Boektent te sit tussen gesprekke en vertonings was ervaring genoeg. Daar vind die hele tyd gesprekke plaas in die Boektent, en die RSG-uitsendings waarna julle kon luister, vind net daar plaas.




Een ding wat vir my baie erg is, ons het daar geluister na ‘n gesprek tussen professor Hans du Plessis en PG du Plessis, en daar was nie een, maar nie één jong persoon in die volgepakte tent nie. Waar is die Afrikaanse studente? Ek was erg ontsteld!  Dit was ʼn gratis gesprek, met die heerlikste eetgoed, aangebied deur LAPA uitgewers.





VERBRANDE PARADYS



(ondersteun en aangebied deur LAPA Uitgewers)



Hans du Plessis, onder meer bekend vir sy aangrypende Griekwa-psalms, se nuutste roman Verbrande paradys word bekendgestel. PG du Plessis vra meer uit oor die stories agter dié interessante skrywer.





SKRYWERSGALA



(ondersteun deur Naspers)



Hierdie multimedia produksie is elke jaar ’n hoogtepunt, wat terselfdertyd die feestema uitdra – vanjaar ‘Lag-lag’ in die tiende Woordfeesjaar. Die woorde van Gert Vlok Nel,Thomas Deacon, Hans du Plessis. Ingrid Winterbach, Chris Barnard, Nachoem Wijnberg en Eva Cox word vervleg met musiek deur onder andere Laurinda Hofmeyr en kort dramauittreksels. Saamgestel deur Juanita Swanepoel.
Ek het nie besef Nicole Holm sing so mooi nie, saam met Laurinda Hofmeyr nogal. En dit was die eerste keer wat ek Gert Vlok Nel in lewende lywe hoor sing het. Hy het almal tjoepstil gesing.





DIE SUID-AFRIKAANSE KUNSMARK: VIR HOE LANK NOG VUURWARM?



Stephan Welz praat met Amanda Botha oor die binnegeheime van die Suid- Afrikaanse kunsmark.
Daarna het my man gedraf om te kom by die Protea Boekwinkel om te gaan luister na Gert Sarrisam, in gesprek met Braam de Vries, wat sy tweede bundel Namakwaland verhale bekend gestel het, en ek het die Nagtegale gaan soek.





IN LIMBO
(ondersteun en aangebied deur Joho! Uitgewers)
Die bekroonde skryfsters Reinet en Jackie Nagtegaal span saam om ’n skreeusnaakse én hartverskeurende verhaal te skep oor die delikate verhouding tussen ’n ma en haar dogter. Hulle leef in limbo in hul rykmanshuis teen die hange van Tafelberg, wat hulle besig is om te ‘vergroen’. Iets moet verander, maar intussen is hulle gewapen met ’n fles vodka in die sak wat alles verhul in ’n waas.
Henk Crouse het met die twee Nagtegale gesels. Nou kyk, daardie man kan nie net skryf nie (Man op die dak), hy kan praat ook. En sag op die oog, meisies, baaaaie sag.
Ons laaste produksie vir die dag


DRAFSTAP OF DRENTEL?
Met Joannie Combrink, Johann Nel en Susanne Beyers. Regie: Juanita Swanepoel
Audrey Blignault het hierdie voorstelling van haar lewe, in die meesterlike verwerking van Juanita Swanepoel, self as ’n hoogtepunt bestempel. Dit is in 2000 is besonder goed ontvang. Die vermenging van uiteenlopende prosatekste, stemme en biografiese gegewens tot bykans chronologiese lewensverhaal is lig, soms werklik komies en dan weer vol ou verdriet. ’n Verkwikkende teaterervaring en besondere eerbewys aan Audrey vir haar reuse bydrae, wat in die hele gesin se smaak sal val.


__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
superstar - founder
993 posts

Die afgelope Woordfees was weer 'n hoogtepunt in my jaar. Ek het vanoggend weer gedink oor die hoendervleislekker om iets te doen wat jou passie is, toe iemand my uitvra oor ons besoek aan die Woordfees. Dis wanneer jy so yskoud uitslaan as jy daaroor praat, dat weet jy is in hierdie lewe inderdaad op die regte tyd op die regte plek. En dis nou nie geografies gesproke nie.



Soos gewoonlik was daar 'n vol program, met soveel wonderlike praatjies en opvoerings, dat dit moeilik was om te kies. Gelukkig was daar opvoerings wat herhaal is, en kon ons die meeste van die goed bywoon wat ons die graagste wou sien.



Die plekke was goed gemerk met wapperende Woordfees merkers.



Die KykNet tent was die beste idee van die Woordfees. Dit was 'n heerlike sentrale bymekaarkom plek. Net om daar te sit met ietsie kouds en almal om jou dop te hou was al ervaring genoeg, om nie te praat van al die gesprekke daar wat regstreeks van die Plataankafee af uitgesaai is nie.

My voete was blase geloop, want as jy 'n parkeerplek gekry het, gee jy hom nie op nie en stap die res van die dag oral. 'n Shuttle-diens sou wonderlik wees, ek hoop dit is iets wat in die toekoms aandag gaan kry.



Die gebrek aan jong mense en veral studente, was onrusbarend, ontstellend en om eerlik te wees – skokkend. Sou enige taalstudent nie sy oogtande gee om na 'n gesprek tussen PG du Plessis en prof Hans du Plessis te luister nie? Ek noem net hierdie gesprek as voorbeeld, want daar was geen toegangsgeld nie, en boonop heerlike versnaperinge, geborg deur LAPA uitgewers. Ek kan nie dink dat die toegangsgeld die probleem is nie, die kuierplekke het saans vol studente gesit waar geld vrylik in hulle mooi jong keelgaatjies afgevloei het.



Persoonlik het ek al die aanbiedings as baie goeie waarde vir geld beskou, veral omdat daar soveel geleenthede was waar etes ingesluit by die prys was, of waar die uitgewers eetgoed voorsien het. Dit het my egter opgeval hoeveel van die ouer mense in gesprekke gesê het dat hulle graag meer dinge wou bywoon, maar dat dit eenvoudig vir hulle te duur raak. Kan die Woordfees dalk daaraan dink om vir pensioentrekkers afslag te gee, want dit was immers hulle wat die sale vol gemaak het. Ek het ook meer as een ouer persoon hoor sê dat hulle graag dit of dat wou bywoon, maar nie kans sien vir die stap, of die gesukkel met parkering nie. 'n Shuttle-diens sou hierdie probleem ook aanspreek. En wat gaan gebeur as hierdie ouer mense oor die volgende paar jaar nie meer die Woordfees bywoon nie as gevolg van verminderde gesondheid, en daar nie genoeg jong mense is om die getalle aan te vul nie?



Aan die bestuur van die Woordfees 'n groot dankie vir die geweldige moeite wat hulle deur die jaar doen om hierdie wonderlike geleentheid aan te bied.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–6 of 6

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now