My eerste tympano plasty operasie het ek in die Katatura hospitaal in Windhoek ervaar. Ek sê ervaar want daai ouens het nie gespeel nie. Ek is negeuur gedoen en drie uur ontslaan na 'n prosedure wat twee ure geduur het. Nodeloos om te noem die hegting het nie plaasgevind nie. In 1978 is ek verwys na 'n spesialis, 'n van Bergen kêrel. Hy het sy spesialiteit vanuit die Little Company of Mary bedryf. Die Katolieke Hospitaal se bestuur was nog onder die beheer van die Archbishop iewers. Die senior verpleegpersoneel was nog nonne en die atmosfeer was gewyd. Ek het langs 'n oom opgeland wat 'n totale verwydering van 'n prostaat oorleef het. Die oom se dreineringssakkie het by my gespook. Ek wou weet wat veroorsaak dat mens se prostaat verwyder moet word. Drink water, het die oom my beraad. Vandag een en dertig jaar later drink ek my 500 mil warm water elke oggend. Ek besoek my dokter een keer 'n jaar waar hy my digitaal sans sy trouring ondersoek. Ek gaan nie 'n aggresiewe prosedure op my prostaat beleef nie.
Die rede vir die skrywe is die effek wat vroeë more mis op my gehad het. Ek is vir tien dae gehospitaliseer en dit was oor die paasnaweek. Die hospitaal was redelik leeg. Ek het in gesprek met die nonne getree en as Protestant was ek verbaas oor hul werklikheidsbelewing van moeder Maria. Die artefakte in die kapel, die priester se intonasie en die nonne in hul gewade se opregte geloofsbelewing bly my vandag nog by. Maria, die moeder van Jesus kan seker nie afgemaak word as 'n gewone vrou en moeder nie, het ek gedink. Sou God haar net gebruik om as incubator vir Sy Seun te dien. Ons almal spruit voort uit moeders. Elisabeth Eybers se gedig ‘Maria’ het vir my nuwe insigte ge-open. Wat ook al 'n mens glo of nie glo nie dink ek is nie tersaaklik nie. die gesindheid waarmee die glo of nie glo ander affekteer dink ek gee die deurslag. My opersaie was nie geslaagd nie, my insig in moeder Maria wel.
Maria
'n Engel het dit self gebring,
die vreugde-boodskap – en jy het
'n lofsang tot Gods eer gesing,
Maria, nooi uit Nasaret!
Maar toe Josef van jou wou skei
en bure-agterdog jou pla,
het jy kon dink eenmaal sou hý
die hele wêreldskande dra?
Toe jy soms met 'n glimlag langs
jou liggaam stryk ... die stilte instaar ...
wis jy met hoeveel liefde en angs
sou hý sy hellevaart aanvaar?
Die nag daar in die stal – geeneen
om in jou nood by jou te staan –
het jy geweet dat hy alléén
Getsémané sou binnegaan?
Toe vorste uit die Ooste kom
om nederig hulde te betoon,
wis jy hoe die soldate hom
as koning van die volk sou kroon?
En toe hy in jou arms lê,
sy mondjie teen jou volle bors,
het jy geweet dat hy sou sê,
toe dit te laat was: Ek het dors!