Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
121 views

Richmond raak boekbedonnerd en kry lewe!

Page 1
posts 1–1 of 1
superstar - founder
993 posts
Richmond raak boekbedonnerd en kry lewe!

Drie jaar terug was daar in Huis van Licht en Schaduw in Richmond ’n mikrolener in een vertrek, die ANC-takkantoor in ’n ander en snags was die prostitute op die stoep die lorriedrywers ter wille.

Nou bars dié eens verflenterde historiese gebou in Loopstraat uit sy nate van al die boeke. Die windpomp langsaan met sy helder, groot sonneblom het ’n simbool geword van ’n sterwende dorp wat weer suurstof gekry het.

Vyftigduisend boeke het Richmond nuwe koers kom gee, in nie minder nie as ses boekwinkels met name soos Richmond Books & Prints, The Book Orphanage, BooKarooz, Diesel & Dust en Springbok Huis, ’n sportmuseum/boekery. Laas week het nóg minstens 30 ton boeke die dorp ingekreun – boeke uit druk, tweedehandse boeke.

Richmond is in September verlede jaar as Afrika se eerste, en enigste, boekedorp “ingehuldig”. Met sy eie fees, natuurlik. Die Boekbedonnerd-fees.

Als het begin toe ’n paar Johannesburgers nie net by die Caltex-garage vir brandstof stilgehou het nie, maar ingery het – en een van die mees ongerepte Karoodorpe ontdek het.

Dit was ook net betyds: Ná ’94 se politieke oorgang het Richmond se ekonomiese onderbou verkrummel toe die koshuis (eens gevul met die nagenoeg 60 boere se kinders) leeggeloop en selfs die hotel sy deure moes sluit. Richmond het oornag byna ’n spookdorp geword.

Dis waar die stedelinge op die toneel gekom het, heel lukraak, maar met ’n gedeelde passie vir ou boeke en klein stofdorpies.

Peter Baker, eksentrieke veearts en gebore Kanadees, het minder as R20?000 opgedok vir ’n besonderse Karoohuis wat nou die Supper Club huisves, ’n restaurant en leeskamer vol waardevolle Africana. Vir Baker, in daardie geweefde oorjas, wolhoed en kortbroek, kan niemand miskyk nie.

Darryl Earl David, ’n Indiër wat Afrikaans doseer aan die Universiteit van Durban, het ’n doktorsgraad voltooi oor internasionale boekedorpe. Richard Booth het dié idee in 1961 in die Walliese dorpie Hay-on-Wye as ’n proefneming begin om toeriste na afgeleë plekke te lok. Daar’s nou al 26 boekedorpe wêreldwyd. David se navorsing het Richmond uitgewys as die ideale boekedorp vir Suid-Afrika – sentraal (langs die N1, halfpad tussen Kaapstad en Johannesburg) en bekostigbaar.

Die sportmediaman en boekhandelaar John Donaldson het Huis van Licht en Schaduw gekoop “toe my motorhuis vol boeke in Northcliff (Johannesburg) nie meer plek vir my kar gehad het nie”. Hy’s minstens een week per maand in Richmond en het intussen ’n hele paar huise in Loopstraat aangeskaf. “Maar die dae van winskope is nou verby – as jy nou ’n huis hier wil koop, sal jy ’n halfmiljoen moet opdok.”

Nog stedelinge het kom nesskop. Die eienaar van die kettingreeks Harry’s Pancakes het die hele blok oorkant die stadsaal in ’n moderne kunsgalery omgeskep. Richmond spog met ’n William Kentridge . . .

Die “buitestanders”, soos die dorpenaars hulle noem, het een ding gemeen: almal het plattelandse wortels. Donaldson het in Jan Kempdorp grootgeword. Die oud-Aberdener Dalene Fowler, wat heeltyds na die boekerye omsien, sê sy hoor gereeld by die Afrikaanse besoekers: die platteland bly maar hartland.

Richmond se Loopstraat het nou ’n boekmens-bestemming geword. Dis waar jy kan gaan snuffel vir daardie boek wat al jare uit druk is, of ontdekkings maak waarvan jy nie eens geweet het nie.

Daar’s Africana, Rhodesiana, vroeë ontdekkers, ou lugvaartdokumentasie, kunsboeke en stapels ou tydskrifte. Die Huis van Licht en Schaduw se kleinhuisiemure is beplak met 80’s- Huisgenoot-voorblaaie van Anneline Kriel, Raquel Welch en Bo Derek.

Die boeke het die plaaslike papsak-brigade se lewe min geraak. Maar op brandwarm somerdae soek die dorpenaars koelte in die leunstoele tussen rakke boeke. Hulle kuier ook graag op die spierwit bank in die wit Dink-en-droomkamer in Donaldson se Books on 20 Loop Street.

Baker en David het laas jaar die boekedorp amptelik laat afskop met ’n Patrick Mynhardt-opvoering – sy swanesang voor sy dood ’n maand later.

Dis opgevolg met die Boekbedonnerd-fees in Oktober. Hulle’t 60 mense verwag – toe kom daar ’n duisend. Hulle kon nie net na literêre kanonne soos Abraham de Vries, J.C. Kannemeyer en Wium van Zyl luister nie, maar ook Karoodinge beleef soos perdekarry, skaapskeerdery en kosdemonstrasies deur die bekende Karoo-kosfoendie Annatjie Reynolds.

Richmond se perdemuseum (daar’s net twee in die wêreld) word beskou as een van die beste kleindorpse museums in die land.

Anneke Bezuidenhoudt van die feeskomitee, en eienaar van die An-Ra-gastehuis, sê die boeke het Richmond weer lewe kom gee. “Die ou huise in Loopstraat, waarmee ons grootgeword en hartseer moes toekyk hoe hulle al meer vervalle raak, is nou tot hul ou fleur gerestoureer. Ons Richmonders is só bly daaroor.”

Boekbedonnerd II word beplan vir die laaste Oktober-naweek in 2009, met ’n paar nisfeeste tussendeur. Die dorp het sy eerste boekbekendstelling op 1 Desember gehad, met die Bathurst-skrywer Tina Piek se Kom ons dans. Dit het met groot joligheid afgeskop in die middel van ’n stofstorm, en later, om ’n pot paella, behoorlik vlamgevat terwyl toeriste en dorpenaars aangesluit het.

Die dorp self raak nou boekbedonnerd, met gastehuise wat hul eie leeskamers begin en dorpenaars wat self begin skryf. ’n Stil verblyfplek vir skrywers is in die vooruitsig. Die dorp se webruimte is in wit klippe teen die koppie uitgepak: www.richmondnc.co.za.

’n Ou spoorweghuisie is deur nog ’n eks-stedeling, Kobie Coetzee, omgeskep in die Vetmuis Plaaskombuis met wildspasteie, outydse soetkoekies en Karookos vir boekwurms.

Saam met die tolbosse en “buitestanders” het daar sommer ’n klomp magic Richmond die laaste drie jaar ook ingewaai, reken Dalene Fowler. Sy’t tot die woord magic gaan opsoek in ’n eeu oue woordeboek op een van die oorlaaide boekrakke: “tricks producing mysterious results”.

Dit ís ’n spesiale dorpie, beaam Donaldson terwyl ons op die stoep sit en kyk na die skemer. Dis nogal ’n ding wat jy doen in Richmond: stoepsit.

“Hier’s iets waarop jy nie jou vinger kan lê nie . . . jy weet net, dis ’n plek met siel. Die eerste aand wat ek hier oorgeslaap het, nog in die ou hotel, jare terug, het die melkkar my vyfuur die oggend wakker gemaak met ’n geklangelang. Lékker om so wakker te word.”

Mens kan wraggies ’n boek daaroor skryf . . .

Hanlie Retief  in Rapport

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–1 of 1

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now