Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
200 views

P.G. du Plessis - Fees van die ongenooides

Page 1
posts 1–4 of 4
superstar - founder
993 posts

’n Uittreksel uit P.G. du Plessis se roman Fees van die ongenooides:

Oorlog was ’n gerug – ’n opgeefsel vol verwronge en waterige beelde êrens voor in die pad. ’n Moontlikheid in die toekoms. Maar in die Van Wyks en Minters se daaglikse bedrywighede was almal se gedagtes nog gedrenk in meer realistiese waters – in die klein bemoeienisse van vrede. Al is daar in die Van Wyks se huise dikwels oor oorlog gepraat, en by die Minters soms daarvan gedroom deur Fienatjie. Fienatjie Minter.

Die middag aan die etenstafel het Wynand vir oupa Daniël gevra: “Dink Pa daar gaan oorlog kom?”

“As die Engelse hom wil hê, gaan hy kom, my kind. Hulle sal net naderhand so onredelik raak dat ons nie meer sal anders kan nie. Vertrou kan ons hulle nie, en net die Here kan ons help. Ons moet op Hom vertrou.”

“Sal die Here ons help as die oorlog kom, Pa?”

“Nie as jy daardie vraag vra nie, Wynand. God is getrou, maar jy moet sekerheid in jou hart hê. Dan sal die mosterdsaad vir jou leer: Moenie bevrees wees nie, want jy kan berge versit met jou geloof en die hulp van jou God.”

“Ek dink nie ons mense het ’n gedagte van hoe groot die berge is wat versit sal moet word nie, Pa,” het Gertruida tussenin gesê.

“Ons moet volhard in die gebed, Gertruida. God is ’n God van geregtigheid, Hy sal ons nie in ons regverdige saak alleen laat nie.”

“Die Engelse gaan net so hard bid soos ons, Pa. ’n Oorlog is nie ’n stryd oor wie die hardste kan bid nie.”

Martie se stem was skerp: “Dis godslastering! Wat jy daar sê, is laster, Gertruida!”

“Al wat ek sê, is dat die Engelse net so oortuig is van die regverdigheid van hulle saak as ons. Jy moes nou die aand daardie skeel Engelsmannetjie gehoor het! En die Empire maak al meer as die helfte van die aarde toe. Daar’s niks wat ons teen daardie oormag kan doen nie.”

“Dis dié dat ek sê ons moet alles doen om die oorlog te vermy.” Dit was Wynand, en hy’t dit sag gesê.

Daantjie het met mening by die gesprek ingeval: “En alles sommer so vir hulle op ’n skinkbord aandra? Daar’s te veel mense tussen ons wat met daardie evangelie volgens Judas tussen ons boer. Hierdie klomp vredepraters is niks meer as papbroeke nie. Ons moet die Engelse die see in boender en klaarkry.”

“Sê jy ek is ’n lafaard, Daantjie?”

Wynand was op sy voete.

“Ek sê nie oom Wynand is nie … ”

“Nou sê ek vandag vir jou, Daantjie van Wyk, ek sal veg as ek moet, maar ek gaan nie my eie en my mense se bloed laat verspil vir ’n hopelose saak nie.”

“Ek sal myne gee, oom Wynand! Ek sal veg tot ek nie meer ’n druppel bloed in my are het nie!”

Daantjie het maklik gepraat en makliker gespog. Sy besittings, sy perd, die mooiste vrou – alles was die beste en moes sigbaar die beste wees. Agter sy rug het hulle hom Blink-Daantjie genoem. En oor die familietafel daardie middag kon hy sy blink patriotisme uitstal. Hy het, soos ’n volksredenaar, met die diepste moontlike stem gepraat en die gesegdes van die politieke sprekers nageboots. Sy tirade was vol van “vryheid kosbaarder as die lewe self” en “dié land so duur gekoop met … ja, geheilig, deur die bloed van ons vaders en benat met die smartlike trane van ons moeders”.

Met al dié geykte woorde het Daantjie tog gesê waarin hy geglo het, want die woorde het in hom ingegroei totdat daar rondom hom uiteindelik ’n geheiligde volk in ’n heilige vaderland was – met hom in die middelpunt. Teen die einde van sy belydenis het hy met ’n sagter, gepynigde stem die swakheid van sommige volksgenote betreur – dié wat so máklik, só maklik, dit wat heilig is kan weggee, sonder om bereid te wees om die offer te bring. Die óffer te bring.

“Ek is nie een van hulle nie, jy kan maar ophou,” het Wynand, wit om die mond, tussenin gesê.

Martie van Wynand was nie ’n imposante vrou nie. Sy was kort en geset, maar wat sy nie besit het aan gestalte nie, het sy voor opgemaak in opvlieëndheid. Sy’t alles wat Daantjie aan die sê was van harte geglo, en sy en Wynand het al dikwels woorde gehad oor sy vredeliewendheid, maar wat Daantjie in die rigting van haar man geskimp het, was te erg. In haar oë was weifeling al klaar ontrouheid, en ontrouheid die eie-broer van die grootste doodsonde denkbaar: verraad. Sy moes iets sê: “Dorothea, sê vir hierdie seuntjie van jou hy moet sy groot bek van Wynand af hou.”

“Daantjie wys nie vinger nie, Martie …”

“Ek het dit nie só bedoel nie, oom Wynand …” het Daantjie begin terugkrabbel, want sy pa se blik was swaar op hom.

’n Stilte het oor die familietafel kom broei. Oupa Daniël het ’n enkele keer in die rigting van vergewensgesindheid en broederlike liefde geskimp. Dit het nie gehelp nie. Net die messegoed het op borde geklik.

Fees van die ongenooides word deur Tafelberg uitgegee en kos R175. Dit sal binnekort in Boeke-Beeld geresenseer word.
__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
novice - member
26 posts

Oe, wat 'n Boek!

Maankind, jy het nie dalk iemand wat iemand ken wat oom PG se epos adres sal he nie?  Ek het al oral gesoek, en niemand kan my help nie, en ek MOET met hom kontak maak.

Enigiemand wat nog wonder of hulle die boek moet lees:  hou op wonder, en maak oop by bladsy 1.  Dit is 'n skitterwerk.  Die soort boek wat pryse sal wen.

__________________
...gee my kos, boeke en my mense, en ek sal nie moeilikheid maak nie...
superstar - founder
993 posts

Ek het sy epos en sy telefoon nommer. In sy eie handskrif. Maar hy is 'n vreeslike private man wat dit betref. Kan ek by hom hoor of ek dit kan aangee? Maar hy sal wil weet waaroor dit gaan. En hy is ook nie baie fluks met epos nie. Maar epos my by trisa@icon.co.za of stuur 'n boodskap deur die Messages funksie hierbo (hoewel die Messages funksie nie altyd lekker werk nie, probeer maar)

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
guest poster

Dit was vir my 'n heerlike lees! Lieflike taalgebruik en ek was vasgenael met die verhaal en die karakters. Die liefde tussen Anne en Gertruida wat hulle nooit kon uitleef nie, het my veral aangegryp en ek sal PG vir ewig dankbaar wees dat hy hulle diep gevoel vir mekaar in sy storie ingewerk het. Ek is so bly dat ons nou in 'n era leef waar seksuele diep liefde tussen vrouens volkome aanvaar word. ..(... ja-ja ek weet ... maar darem het dinge al verbeter ...)..

Page 1
posts 1–4 of 4

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now