Nuwe Groot Verseboek - die vreugde én die vrae
Rachelle Greeff
Leë blikke maak die meeste lawaai, maar hiervan kan die samesteller en uitgewer van die nuutste Groot verseboek, pas op die rakke, nie beskuldig word nie.
Die aankoms van ’n nuwe Groot verseboek is altyd ’n okkasie – en ’n blye een. Skrywers onthou ook dikwels hul eerste kennismaking met (enige uitgawe van die) Groot verseboek met vreugde.
“My belewenis was een van verwondering – daar het ’n wêreld voor my oopgegaan,’’ onthou die digter en dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria Henning Pieterse.
Hennie Aucamp was in st. 9 toe hy sy eerste Groot verseboek met sy eie geld gekoop het. “Dit was ’n verruklike ervaring, en ’n mens het nog geen vrae gestel oor die aard van bloemlees nie.’’
Zandra Bezuidenhout onthou: “Ek het met groot ontsag … oral ligte potloodmerkies gestip, en gedink dit moet vir enige mens ’n Everest-ervaring wees om ’n vers daarin gepubliseer te kry.” (En noudat sy self daarin opgeneem is, voel sy “naak op Everest, ja.’’)
By navraag ontdek Wilma Stockenström die afgelope week sy het (onder ’n oortreksel) inderdaad die oorspronklike eerste een van 1951 – die groot, plat rooie met die goudkleurige titel. Sy het dit destyds in Huis ten Bosch, Stellenbosch, gekry toe sy as dramastudent Afrikaans geloop het by prof. Fransie Malherbe.
Akademici verwelkom altyd ’n bloemlesing van dié omvang. “Dis haas onmoontlik om jou voor te stel dat jy digkuns doseer sonder die voordeel van so ’n boek,’’ sê Willie Burger van die departement van Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg. “Daarsonder moet jy jou voortdurend verlaat op die nagmerrie van fotokopieë.’’
Ouer en nuwer verse word vergelyk, invloede aangetoon, studente kan ’n “smakie’’ kry van sekere werk en verstegniese aspekte word belig – ook oor tyd.
Die 1951-Groot verseboek is saamgestel deur D.J. Opperman, “vader’’ ook van Klein verseboek en Kleuterverseboek, en as ’n Afrikaanse huis beskaaf genoem wou word, moes daar op jou rakke niks minder nie as die Bybel, Kook en geniet – en die Groot verseboek staan .
Maar, nes tevore, is vanjaar se verskyning van dié bloemlesing, die tweede samestelling deur André P. Brink, nie sonder ’n ligte literêre gefladder nie. ’n Mens sien uit daarna dat die volgende vrae die antwoorde kry wat dit in ’n intellek-tueel volwasse letterkunde verdien: ) Watter digters is die prominentste aanwesig? ) Word die ontwikkeling van individuele digters weerspieël? ) Hoort vertaalde gedigte hier? ) Is dit ’n persoonlike keuse of is van buitemense gebruik gemaak. Indien wel, wie is hulle? ) Kan een mens se vooroordele, kunsbeskouings en verwagtings nou nog reg laat geskied aan die volledige kanon van Afrikaanse poësie?
) Is daar druk op die kanon sodat die bloemlesing al hoe lywiger moet word om iets van alles in te sluit: polities korrek, histories verteenwoordigend en esteties bevredigend? ) Is dit steeds (aldus W.E.G. Louw destyds) ’n “gevoelige barometer’’ van gehalte?
Dit sal die tyd ons leer. Intussen is poësie-entoesiaste in hul noppies omdat Opperman se 161 oorspronklike bladsye (bronnelys uitgesluit) nie net oorleef het nie, maar ná 57 jaar op 1 299 bladsye (titelregister, skrywersname en bronnelys uitgesluit) staan. Dit laat min twyfel dat Afrikaans soepel, maar stewig in Afrika staan.
Op die deksel van die blik waarin die bloemlesing verkoop word, is in silwerkleurige letterwerk ’n aanhaling van Brink: “My liefdesverklaring aan die Afrikaanse poësie.’’
Wat my betref sê dit alles. ’n Liefdesverklaring is intiem en persoonlik. ’n Mens mag dus seker aflei dat dit ’n keur uit Brink se hart is.
Ook Pieterse sê hy lees die Groot verseboek as Brink se persoonlike keuse. “Daar is myns insiens te veel idiosinkratiese keuses om dit as ’n – of dié – barometer van die stand van ons digkuns te beskou.’’
Die digter en boekejoernalis Danie Marais beskou dit as ’n “gevoelige, oorwoë mening oor Afrikaanse poësie van gehalte – ’n keur gemaak met die beste bedoelings’’.
Die derde band, glo hy, sal omstrede wees omdat die Afrikaanse poësie tans so stilisties divers is. “Daar is nie meer ’n algemeen aanvaarde literêre gesagsfiguur soos Opperman nie en dit is myns insiens ’n goeie ding. Dit beteken egter ook dat enigeen wat nou ’n mening uitspreek, bloot kan raai oor dit wat toekomstige lesers en digters as werk van blywende gehalte gaan huldig.’’
Louise Viljoen, verbonde aan die departement van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch, bevraagteken die “barometer”-metafoor.
“Dit suggereer daar is êrens ’n instrument (’n liniaal, ’n?maatbeker, ’n skaal) waarmee ’n mens sou kon meet wat is die goeie gedigte wat in ’n bloemlesing opgeneem behoort te word.? En dié van ons wat daagliks worstel met die kwessie van tekste evalueer (hetsy vir publikasie, resensies of pryse) weet baie goed dat daardie instrument nie bestaan nie.??
“Ons het slegs breë riglyne, vermoedens, gevoelens en – om Wilma Stockenström aan te haal – spesmase.’’?
Die nuwe uitgawe bestaan uit drie bande, elk met die tekening van ’n stoel uit ’n bepaalde historiese periode as illustrasie op die sagteband-omslag, in ’n seegroen (of is dit duifgrys?) blik. Die bande het luukse, diep invouflappe. Net 3 000 van die spesiaal ontwerpte blikke is tans beskikbaar en dit sal ongetwyfeld binnekort ’n versamel-artikel wees, met binne-in die kleurverskeidenheid én ontwikkeling van die Afrikaanse digkuns.
As daar probeer word “om iets van alles in te sluit – polities korrek, histories verteenwoordigend en esteties bevredigend – word dit nie dalk net bietjie te veel om van een boek en een mens te verwag nie?’’ vra Burger.
Ook Pieterse is onseker of dit “wenslik’’ is dat een mens nog so ’n taak aanpak. Sou ’n paneel nie meer lewensgetrou wees nie?
Sodat Burger skertsend reageer: “Kan jy jou die vergaderings voorstel waarop al sewe Afrikaanse digkunskenners hul voorkeure en afkeure bespreek? As die reaksie op een resensie (Charl-Pierre Naudé se resensie van Fluisterklip in Rapport verlede maand) tot soveel bloedvergieting kan lei, weet ek nie of daar ’n digkunskenner sal oorbly om die bloemlesing te voltooi nie!’’
Maar op ernstiger trant meen hy “ ’n sinvolle redaksie en redaksionele beleid as vertrekpunt sal dalk deur wye konsultasie kan lei tot ’n goed verantwoordbare bloemlesing. Met erkenning aan almal wat deelgeneem het.’’
Terloops, Brink bedank in die voorwoord van die eerste band (wat hy “vooraf gespeel’’ noem) “kundige vriende wat raad gegee en saamgepraat en op verskillende maniere lig gewerp het’’.
Viljoen voel anders as Burger en Pieterse: “Om praktiese redes weet ek nie of ’n paneel … sal werk nie.? Die Groot verseboek mag maar wat my betref een persoon se interpretasie wees van wat die beste gedigte in Afrikaans is.
“Enigiemand wat bewus is van die aard van kanonisering sal weet dat die keuse deur historiese en kontekstuele faktore bepaal word.? Lesers van die Afrikaanse poësie en later ook die voorskrywers sal besluit of hulle met Brink se keuse kan saamleef of nie.?
“Daar is nêrens ’n wet wat sê ’n bloemlesing moet die resultaat wees van die werk van ’n komitee nie (aangestel deur wie en op wie se gesag?).?
(Rapport)