Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
34 views

Helgaard Steynprys vir letterkunde

Page 1
posts 1–1 of 1
superstar - founder
993 posts
Vir die eerste keer in die ­geskiedenis van die ­Helgaard Steynprys vir letterkunde word die eerste prys en prysgeld van R150 000 vanjaar gedeel deur twee skrywers: ­Hermann Giliomee vir sy bio­grafiese werk Die Afrikaners (2004) en Marlene van Niekerk vir haar roman Agaat (2004).

 

Giliomee het by navraag oor die prys gesê dit was waagmoedig om sowel ’n ­historiese werk as roman saam daarvoor te oorweeg. Terselfdertyd is geskied­skrywing en romans nie meer so ver van ­mekaar soos voorheen nie, het hy gesê.

 

“Hulle vul mekaar al hoe meer aan as vertolking van die ­geskiedenis. Toe John Coetzee en Karel ­Schoeman die boek in sy kon­sepvorm gelees het, was dit opvallend die mate waarin ­historici en romansiers dieselfde probleme ervaar wat betref ­narra­tief, ­karakteruitbeelding en ­ont­knoping. Ek is baie nederig in my skik.”

 

Van Niekerk het in haar reaksie op die prys by navraag gesê sy is “bly en ­geëerd” om die prys te ­ontvang en dat dit “bevestigend en aanmoedigend is”.

 

Vanjaar was die keurders ­Hennie van Coller van die ­Uni­versiteit van die Vrystaat, Heilna du Plooy van die Noordwes-universiteit en Daniel Hugo, ­direk­teur van die Huis der Neder­landen in Kaapstad.

 

In ’n persverklaring oor die wenners (albei boeke is herhaaldelik bekroon in Suid-Afrika en het ook wye erkenning ­inter­nasionaal ontvang) word gesê ­albei boeke is “bakens binne die Afrikaanse literatuur en ­eie­soortige bestekopnames van die Afrikaner se bydrae tot die land”.

 

Giliomee se werk, wat die storie is van die Afrikaner se oor­lewingstryd van die kolonisasietyd tot en met die 21ste eeu, is eers in ­Engels geskryf. Dit het ’n blits­verkoper geword en hy het dit daarna ­­om­gewerk tot ’n Afrikaanse uitgawe wat net soveel lof ontvang het.

 

In Van Niekerk se roman word die lewensverhaal vertel van ’n sterwende vrou en haar ­kom­plekse verhouding met haar huis­bediende / pleegkind / versorgster. In wese is dit ’n ­geskiedenis van die Afrikaner en sy ­verlies aan mag.

 

Die ander boeke op die kortlys van vyf boeke was Breyten ­Breytenbach se Die Windvanger (Human & Rousseau, 2007), Jaap Steyn se Die 100 jaar van M.E.R. (Kaapstad Tafelberg, 2004), Ingrid Winterbach se Die Boek van ­Toeval en Toeverlaat (Human & Rousseau, 2006).

 

Die Helgaard Steynprys, in geldwaarde een van die grootste literêre pryse in Suid-Afrika, word jaarliks sedert 1987 toe­geken. Dit kom uit ’n ­testa­mentêre bemaking van wyle Jan Steyn, in lewe volksraadslid vir Potchefstroom.

 

Dit word in ’n vierjaarsiklus toegeken, jaarliks om die beurt om voortreflikheid te beloon in komposisie, skilder- en grafiese kuns, beeldhouwerk en Afrikaanse letterkunde.

 

Volgens die bepalings van die testament moes die keurders ­vanjaar die wenboek vind onder al die Afrikaanse boeke wat in die voorafgaande vier jaar in ’n ­oplaag van meer as 300 verskyn het.

 

Die Helgaard Steynprys vir ­Letterkunde word op 12 November by ’n geselligheid in ­­Bloem­fontein deur Hanneli Rupert­-Koegelenberg van die ­Helgaard Steyn-trust aan die ­wenners ­oorhandig.

 

In 2004 het Dan Sleigh die prys ontvang vir Eilande.

(Die Burger)
__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–1 of 1

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now