Vir die eerste keer in die geskiedenis van die Helgaard Steynprys vir letterkunde word die eerste prys en prysgeld van R150 000 vanjaar gedeel deur twee skrywers: Hermann Giliomee vir sy biografiese werk Die Afrikaners (2004) en Marlene van Niekerk vir haar roman Agaat (2004).
Giliomee het by navraag oor die prys gesê dit was waagmoedig om sowel ’n historiese werk as roman saam daarvoor te oorweeg. Terselfdertyd is geskiedskrywing en romans nie meer so ver van mekaar soos voorheen nie, het hy gesê.
“Hulle vul mekaar al hoe meer aan as vertolking van die geskiedenis. Toe John Coetzee en Karel Schoeman die boek in sy konsepvorm gelees het, was dit opvallend die mate waarin historici en romansiers dieselfde probleme ervaar wat betref narratief, karakteruitbeelding en ontknoping. Ek is baie nederig in my skik.”
Van Niekerk het in haar reaksie op die prys by navraag gesê sy is “bly en geëerd” om die prys te ontvang en dat dit “bevestigend en aanmoedigend is”.
Vanjaar was die keurders Hennie van Coller van die Universiteit van die Vrystaat, Heilna du Plooy van die Noordwes-universiteit en Daniel Hugo, direkteur van die Huis der Nederlanden in Kaapstad.
In ’n persverklaring oor die wenners (albei boeke is herhaaldelik bekroon in Suid-Afrika en het ook wye erkenning internasionaal ontvang) word gesê albei boeke is “bakens binne die Afrikaanse literatuur en eiesoortige bestekopnames van die Afrikaner se bydrae tot die land”.
Giliomee se werk, wat die storie is van die Afrikaner se oorlewingstryd van die kolonisasietyd tot en met die 21ste eeu, is eers in Engels geskryf. Dit het ’n blitsverkoper geword en hy het dit daarna omgewerk tot ’n Afrikaanse uitgawe wat net soveel lof ontvang het.
In Van Niekerk se roman word die lewensverhaal vertel van ’n sterwende vrou en haar komplekse verhouding met haar huisbediende / pleegkind / versorgster. In wese is dit ’n geskiedenis van die Afrikaner en sy verlies aan mag.
Die ander boeke op die kortlys van vyf boeke was Breyten Breytenbach se Die Windvanger (Human & Rousseau, 2007), Jaap Steyn se Die 100 jaar van M.E.R. (Kaapstad Tafelberg, 2004), Ingrid Winterbach se Die Boek van Toeval en Toeverlaat (Human & Rousseau, 2006).
Die Helgaard Steynprys, in geldwaarde een van die grootste literêre pryse in Suid-Afrika, word jaarliks sedert 1987 toegeken. Dit kom uit ’n testamentêre bemaking van wyle Jan Steyn, in lewe volksraadslid vir Potchefstroom.
Dit word in ’n vierjaarsiklus toegeken, jaarliks om die beurt om voortreflikheid te beloon in komposisie, skilder- en grafiese kuns, beeldhouwerk en Afrikaanse letterkunde.
Volgens die bepalings van die testament moes die keurders vanjaar die wenboek vind onder al die Afrikaanse boeke wat in die voorafgaande vier jaar in ’n oplaag van meer as 300 verskyn het.
Die Helgaard Steynprys vir Letterkunde word op 12 November by ’n geselligheid in Bloemfontein deur Hanneli Rupert-Koegelenberg van die Helgaard Steyn-trust aan die wenners oorhandig.
In 2004 het Dan Sleigh die prys ontvang vir Eilande.
(Die Burger)
(Die Burger)