Maar nou op ‘n ernstiger noot, soos ek nou die dag genoem het, voel dit vir my soms of boek resensente bo-oor my kop praat. Na ek nou die dag die resensie van Izak de Vries se boek, ‘Byna Liefde’ deur Cecile Cilliers gelees het in Rapport (http://www.news24.com/Rapport/InDiepte/0,,752-2462_2415499,00.html), het ek weer hieroor nagedink.
Kyk, ek vermoed dat ‘n boekresensie gemik is op twee gehore:
* Eerstens akademici en letterkundige fynproewers en die outeur self
* Tweedens die leespubliek: mense wat lees vir genot, mense wat lees en vergeet, mense wat nie gepla is oor die fynere details nie
Ek gebruik die woord ‘vermoed’ bloot omdat nuwe insigte my nou weer heeltemal konfoes het. Ek het altyd nog net pleinweg ‘n boekresensie gesien as ‘n skrywe deur ‘n kritikus wat ‘n samevatting gee van die teks, en dan die boek aanbeveel of afskiet. Toe gaan Google ek die woorde ‘book review’, en sien dat dit spesifiek verwys na die ‘analise’ van ‘n boek. Dus, lei ek af, dat ‘n resensie iets meer intensief en akademies van aard is as wat ek altyd gedink het. Miskien ‘n skrywe wat eerder gemik is op die eersgenoemde gehoor?
Wel, jammer as ek oningelig klink, maar ek voel uiters....oningelig! Ek het nog altyd gedink dat beide van die bogenoemde gehore uit ‘n resensie hoort baat te vind.
Op Izak se blog (http://litnetblogs.24.com/ViewComments.aspx?mid=3458fa39-acca-4692-b69e-9edecf326c39&blogid=f7485b15-7f22-4358-b8e8-f12fa692540f) was daar redelik baie terugvoer van mense wat bietjie kwaai is vir tannie Cecile - hoe durf sy, wat weet sy? Wel, ek self weet dat enige kunstenaar ‘n tipe van prestige nastreef. Kuns is ‘n kommersiele aktiwiteit, so dit is vanselfsprekend dat die werk moet spreek tot die leserspubliek, maar tog maak elke kunstenaar ‘n afdruk op sy/haar werk wat dit ondersky van ander – wat dit kuns maak. Hierdie afdruk is gewoonlik baie subtiel, en dit vat ‘n kritiese leser om dit raak te sien. Daarom sien baie outeurs resensies as waardevolle (maar nie noodwendig eksklusiewe) maatstawwe vir die kwaliteit van hul skryfwerk. Soos wat jul seker agterkom, sukkel ek bietjie om te verduidelik wat ek probeer se, maar ek sien dat Izak gelukkig ook hieroor geskryf het. Gaan loer gerus by http://litnetblogs.24.com/ViewComments.aspx?mid=5d9dae04-f36c-4ae3-866d-57049ccfa5d2&blogid=f7485b15-7f22-4358-b8e8-f12fa692540f.
Maar nou oor die leerspubliek: Kyk, ek het geworstel deur tannie Cecile se resensie, en skielik toe ook van ‘n ‘teasertjie’ onthou wat Joan Hambidge so ruk gelede gestuur het aan SeNet, ook oor Izak se boek (http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=52957).
Ek het so ewe snotty, vir hierdie spesifieke blog inskrywing, Hambridge se stukkie oorgeskryf in leuketaal, en het gepoog om dieselfde met Cilliers s’n te doen. Maar toe ek so deur Cilliers se resensie begin werk, besef ek egter dat haar taalgebruik eintlik heel eenvoudig is – Inderwaarheid, presies op die vlak van die gemiddelde Suid-Afrikaanse koerantleser. Sy is geensins hoogdrawend en afbrekend nie. En wat sy se, al stem ek nie altyd saam met haar nie, dra defnitief meriete. Eintlik, besef ek net weer, is Cilliers uiters bekwaam met dit wat sy doen.
So waarom het ek dan so geworstel deur die resensie? Bloot omdat ek nie die boek voor my had om dit te vergelyk nie! Maar ek het nou die skakel onder my favourites gesave, en sodra ek klaar die boek gelees het, gaan ek weer die resensie bekyk.
So hier is nou die eintlike issue wat ek het: Is een van die uitkomste van ‘n resensie enigsins dat die resensent die boek moet aanbeveel? Is die doel met ‘n resensie dan nie eintlik bloot om debat en bespreking te stimuleer nie? Maar indien dit die geval is, waarom die resensie publiseer slegs drie maande na die boek die rakke gehaal het, en in ‘n familie koerant? Waarom nie uitsluitlik in publikasies gemik op ywerige in-diepte lesers, taal praktisyne, akademici ens nie?
Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek se geensins dat dit so hoort te wees nie. Ek wonder net of daar ‘n ander manier is om te werk te gaan om resensies meer toeganklik te maak vir die literere leuk - Jan-Alleman wat wil weet of die boek soetsappig is, enige opsene materiaal bevat, mooi prentjies in het, en die moeite werd is om te koop. Kyk, enige iemand kan mos deesdae ‘n resensie publiseer op online handelaars se webwerwe soos Amazon en Kalahari. Omdat hierdie resensies deur lesers geskryf word, en nie noodwendig deur mense met aansien binne literere kringe nie, is dit dalk meer op die man af. Meer: ‘Die man onmoet die vrou. Hulle trou. Kak boek’. Maar ook, omdat hierdie resensies geskryf word deur mense wat nie noodwendig ‘n naam het binne die literere wereld het nie, kan hul integriteit en bekwaamheid nou weer bevraagteken word.
‘n Naam soos Cecile Cilliers dra nou maar net eenmaal baie gewig, en hierdie vrou het haarself al telkemale bewys as iemand wat weet waarvan sy praat. Sy is defnitief iemand wat nie uitgesluit kan word tydens literere besprekings nie, maar nou, soos met hierdie resensie onder bespreking, kan konstruktiewe kommentaar voorkom as iets negatiefs - Dit is duidelik te blyk uit die kommentaar op Izak se blog (myne ingesluit) Miskien voel sy dalk dat blydsy 15 – 20 nie lekker lees nie, maar nou klink dit vir ons wat nog nie die boek gelees het nie of die boek oor die algemeen nie die moeite werd is nie.
So, is dit dalk aanbevole om die styl van die tradisionele resensie aan te pas binne sekere publikasies om meer effektief tot die leser te spreek, of kloof ek nou hare oor niks? Watter funksie dien ‘n literere analise binne ‘n familie koerant?
Asseblief, wonder bietjie saam met my dat ons antwoorde kan kry!
ou gesegde geld : elke vrou soen haar man op haar eie manier. elke man geniet sy vrou se soen op sy eie manier. elke man en elke vrou soen nie op dieselfde manier nie. beriggewing oor soenery verskil van vrou tot vrou, man tot man en man tot vrou.
why kiss?
soos ek 'n resensie verstaan, moet dit die waarde van die boek probeer beskryf en vasstel vanuit die oogpunt van 'n opgeleide leser (overgeset synde - ideaalgesproke iemand wat letterkunde bestudeer het, dus weet wat is die elemente wat 'n roman/digbundel/drama/liefdesverhaal/speurverhaal, potboiler, kookboek, kinderboek, jeugroman, wat ook al suksesvol maak, en hoe die beste van die betrokke soort lyk by ander skrywers, ideaalgesproke in dieselfde taal, maar ook in ander tale):
1. waaroor gaan dit (kort opsomming vd storie, sonder om dit te bederf vir die wat dit nog nie gelees het nie, dus nie alles weg gee wat gebeur nie)
2. hoe dit geskryf is: die styl, taalgebruik, tegnieke gebruik
3. op watter mark dit gemik is: wie dit sal geniet, en wie nie
4. 'n vergelyking met ander soortgelyke boeke wat dieselfde tema behandel
4. 'n waardeoordeel: is dit goed, gemiddeld of sleg? 'n mors van geld, of onvergeetlik, of tussenin - 'n een keer lees, en klaar.
'n Teenvraag: sou lesers wil he dat tandartse, motor mechanics, masseuses, botaniste resensies skryf? Of liewer mense wat opgelei is deur 'n deeglike studie, in die letterkunde, en dus om die kwaliteit van 'n goeie roman/jeugboek/digbundel te erken? Soek die leser 'n kenner, of soek hul net 'n opinie? Soek hul iets wat goedgemotiveer is deur iemand wie se kennisterrein boeke is, of soek hul net 'n emosionele of sensasionele reaksie van 'n onopgeleide leser, wat totaal onbewus is van wat die struktuur van 'n geslaagde boek uitmaak?
Sou jy aan jou tande laat werk deur 'n motor mechanic? Of aan jou motor deur 'n tandarts? Dit is die vraag!
Deesdae lyk dit my daar is wel respek op ander terreine vir kundiges (tandartse en motor mechanics), maar nie vir letterkunde-geskooldes nie: "enigeen kan 'n resensie skryf, en enige resensent is ope wild in die jag op resensente" skyn die houding te wees. Jammerlike toestand. Vreemde toestand. Geleerd skryf is nou weer iets anders: die beste styl is altyd eenvoudig en helder. Maar vakterminologie is iets wat 'n mens ook by tandartse en mechanics kry - waarom mag resensente nie vakterminologie gebruik nie? Onverstaanbaar!
graag bring ek net weer galjoe31 se skrywe onder ons bookers se aandag
Dis darem 'n erg beperkte siening van resensies wat ons hier het! En asof die resensente almal suur pruime is...vir 'n bietjie kritiese nadenke, die volgende inset:
In die hoop op verheldering oor wat presies resensering behels, hiermee ‘n klein etimologiese ondersoek van die oorspronklike betekenis van die begrip “resenseer” en “kritiek”.
Die Franse woordeboek, petit larousse illustré, beskryf ‘n kritikus as ‘n persoon wat sy of haar oordeel uitspreek oor ‘n literêre of kunswerk. “Krities” kom van die Grieks kritikos, afgelei van die werkwoord krinein, om te beoordeel. Kritiek behels volgens hul beskrywing: “Qui a pour objet de distinguer les qualities ou les défauts d’une oeuvre literaire ou artistique”. Overgeset synde: die doel van kritiek is om te onderskei tussen die goeie kwaliteite en gebreke van ‘n literêre of kunswerk. Volgens larousse is kritiek die “art de juger une oeuvre artistique ou literaire” – die kuns van beoordeling, en dit behels dus om ‘n onderskeid te tref tussen goeie kwaliteite en swak punte. Die aktiwiteit van resenseer is uit tipiese beskaafde Franse perspektief ‘n kunsvorm – die “art de juger”, of te wel die kuns van beoordeling.
Die Afrikaanse woord, resenseer, het volgens die Duise Wahrig Deutsches Wörterbuch egter sy oorsprong in die Latynse woord recensens, afgelei van recensere, wat “sorgfältig prűfen, mustern” of “einschätzen”, dit wil sê sorgvuldig ‘proe’, ondersoek, of na waarde skat. Van belang hier is die adjektief “sorgvuldig”, dus met aandag, noukeurig, met presisie – die teenoorgestelde van slordig, onnoukeurig, agteloos.
Die Nederlandse Van Dale Nieuw handwoordenboek der Nederlandse taal gee onder die trefwoord recensent die sinoniem “beoordelaar”, en beskryf ‘n recensie as “beoordeling, in het bijzonder kritische beschouwing van een werk van kunst of wetenschap in een krant of tijdschrift”. Die klem val hier dus op beoordeling en die inskakeling van die kritiese fakulteite. ‘n Recensie-exemplaar is ‘n “presentexemplaar dat ter recensie gezonden wordt”. Dit vestig die aandag op die kontrak tussen koerant of dagblad en die resensent: hy of sy kry ‘n gratis kopie van die boek (of by ‘n musiekkonsert gratis kaartjies) plus normaalweg betaling.
Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal definieer die aktiwiteit van resenseer nogal tweeslagtig: “”n Boek, kunswerk bespreek, beoordeel; kritiek lewer oor ‘n geskrewe werk”. ‘n Resensie is volgens die HAT “beoordeling van, kritiek op ‘n boek”. Eienaardig in die Afrikaanse definisie is dat hul telkens “beoordeel” plaas naas “kritiek lewer”, asof beoordeling nie beide ‘n positiewe sowel as negatiewe element impliseer nie. Hier lê miskien al die oorsaak vir baie wanopvattinge in die Afrikaanstalige wêreld: reeds in die definisie lê ‘n gespletenheid opgesluit.
Oorsigtelik beskou kan ons dus sê dat om te resenseer ‘n kunsvorm is wat beoordeling inhou van ‘n kunswerk, en dat daar in die proses vasgestel moet word wat die goeie en swak punte van ‘n werk is. In die proses moet noukeurig, met presisie en sorgvuldigheid te werk gegaan word, met inskakeling van die resensent se kritiese vermoëns. Hierby kan gevoeg word dat “literêre oordeel” of kritiese vermoëns by die beoordeling van ‘n werk ‘n vorm van kennis is wat meesal gekry word deur jarelange skoling, óf in ‘n geformaliseerde vorm soos studie in letterkunde aan n universiteit, óf in minder voorkomende gevalle deur onderdompeling in die letterkunde en eindeloos veel lees. ‘n Goeie resensent, soos ‘n goeie wynproewer, moet kan onderskei tussen vlakke van kwaliteit, moet belofte in ‘n debuutroman kan raaksien, al is die teks nog onafgerond, en kan motiveer waarom. Die “waarom” is meesal gegrond op ‘n vergelykingsbasis. ‘n Wynproewer wat sy wyne ken kan onderskei tussen ‘n rooi wyn wat te jonk is, maar beleë kan word met die tyd, of ‘n “stoute vrugtige jong witwyntjie” vir ‘n warm somermiddag en ‘n ligte maal, of ‘n ryp swaarbeleë rooi wyn vir ‘n lamsboud in die winter voor die kaggel, of ‘n soet dessertwyn by die krismispoeding.
Op dieselfde wyse sal die ideale belese, deurwinterde resensent in sy of haar agterkop as vergelykingsmateriaal die kwaliteite ken vanaf Homeros se Odusseia, oor Dante se Inferno, Chaucer en Shakespeare, verby Blake, deur die romantiese digters Wordsworth, Byron en Shelley, verby Yeats. Ook die moderniste soos Joyce met sy Ulysses, T.S. Eliot met sy The Waste Land, en Proust se In remembrance of things past, tot by die postmoderniste soos Italo Calvino met Lost cities of On a winter’s night a traveller. Die ideale resensent sal ook die groot Russiese romanskrywers soos Dostoevsky en Tolstoy gelees het, en die beste Duitse werke van Thomas Mann, Bernhard, Peter Handke, Christa Wollf. Ook die Franse, en Italiaanse…Die lys is nimmereindigend: ons praat van die ideale resensent. Maar bowenal moet die boekresensent goed ingewerk wees in die letterkunde waarin die betrokke werk verskyn het. Hier te lande het ons meerdere letterkundes. ‘n Goeie resensent sal ook op hoogte moet wees van wat in Engels-talige Suid-Afrikaanse letterkunde verskyn het – die romans van J.M. Coetzee is byvoorbeeld noodsaaklike vergelykingsmateriaal vir iemand wat die romans van Karel Schoeman goed wil beoordeel.
Die ideale resensent moet ook ‘n kennis van die ontwikkeling van die letterkunde hê. Waar en wanneer het die Afrikaanse letterkunde begin? Wat het daar toe verskyn? Hoe het dié tekste daar uitgesien? Watter literêre ontwikkelings het intussen plaasgevind? Hoe kan ‘n mens ‘n nuwe teks beoordeel as vernuwend en oorspronklik as jy nie weet wat tevore verskyn het nie? ‘n Vergelykingsbasis is onontbeerlik by ingeligte en waardevolle kritiek. Tot dusver die ‘toerusting’ van die resensent.
Dan is daar die proses self. Die praktiese gegewe van resensie-skryf is ‘n afspraak tussen ‘n boeke-redakteur van ‘n dagblad of tydskrif, en ‘n resensent wat genader word. Die ideale boeke-redakteur het ‘n lys met name, en ken die belangstellingsvelde van die betrokkenes. As die kritikus wat gekontak is, inwillig, word ‘n sperdatum afgespreek (normaalweg twee tot ses weke), en daar word besluit oor ‘n lengte (vroeër jare maklik tot ‘n duisend woorde, deesdae tot so min as vier honderd woorde of ‘n paragraaf). Die boek word gepos, en arriveer ‘n week later.
Kom ons neem ‘n hipotetiese geval. Prof. Sara Baartman by die Universiteit van Port Elizabeth word deur Die Burger se boekblad-redakteur gevra om J.C. Kannemeyer se biografie van Uys Krige, Die goue seun, te resenseer. Die lengtebeperking is 600 woorde, en die sperdatum 31 Mei, om betyds te wees vir die boekeblad op 3 Junie 2002. Die boek is 692 bladsye lank. Net om dit te lees, neem ‘n week. Hierna moet die resensent aantekeninge opstel, Kannemeyer se ander biografieë vergelyk, tot ‘n oordeel kom, hopelik weer kernpassassies herlees. Die skryf van die resensie word boonop erg bemoeilik deur die lengtebeperking. Die skryf van so resensie verg minstens drie weke intensiewe navorsing en lees. Tussendeur gee prof Baartman klasse by die universiteit, sien opstelle na, woon vergaderings by, eet, was skottelgoed en slaap. Uiteindelik verskyn die resensie. Die uitgewer skryf ‘n brief van beswaar oor ‘n opmerking, ‘n polemiek bars los. Die resensent word beskuldig van swak oordeel. Einde van die volgende maand kry prof Baartman ‘n tjek van R210 rand vir haar drie weke se werk, en daarmee op die koop toe die sielkundige beswaardheid wat gevolg het op die moeilike polemiek en beskuldigings. Duidelik is resensies-skryf ‘n baie ondankbare werk…
Die prinses het my nou so mooi opdrag gegee om weer oor resensente te skryf, dat ek dit graag sal doen.
Ek lees baie graag resensies, maar as ek vooraf weet ek wil ’n boek lees, dan sal opsetlik wag om eers self te lees voor ek die resensies lees.
Hoekom lees ek resensies? Want tien paar oë sien meer raak as een paar oë. Ek leer dikwels baie uit resensies.
Vir wie word resensies geskryf? Dit hang af. Sommige publikasies, soos LitNet, laat jou toe om boeke deeglik te ontleed. Dis lekker, want dan kan jy werklik jou eie ontledings deel met die leser. Ander gee jou bitter min woorde. Ek dink, byvoorbeeld, Cilliers se resensie sou minder stug oorgekom het as sy meer woorde gehad het. As ’n mens min woorde het, kan jy nie nuanses uitlig nie.
Moet resensente boeke bemark? Daar is baie debatte hieroor. Ek glo dat ’n resensent die potensiële leser in die oog moet hou en vir daardie leser vertel of die roman vir hom of haar bedoel is.
Ek kan tog nie ’n lekkerleesroman, soos Oop kaarte van Annemari Coetser oor dieselfde kam skeer as Joan Hambidge se baie mooi, maar baie moeilike Kladboek nie?
Oop Kaarte en Kladboek gaan toevallig albei oor die tipe verhoudings waaroor Cilliers so frons: In albei word meer as net twee partners by ’n seksuele verhouding betrek. Tog verskil die teikengehore van albei radikaal. (Wie het al die tekste gelees?)
Ek glo dus wel dat ’n bemarkingsfunksie een van die doele van ’n resensie is, maar dis nie al nie. Die resensent moet waarskynlik vir die potensiële leser laat verstaan dis vir haar / hom, al dan nie. As ek tannies wat net slapbandliefdesboeke lees sover kry om Kladboek te lees, sal ek vreeslik bly wees, maar dan moet ek hulle net waarsku dis nie maklik nie. Aan die ander kant sal mense wat ’n grondige ondersoek na poli-amorie soek, teleurgesteld wees oor Oop kaarte, want Oop kaarte is gewoon ’n lekker liefdesroman (wat goed geskryf is).
En dis nie al nie. ’n Goeie resensent sal ’n forum, soos LitNet, gebruik om ook die leser te lei na ander tekste wat moontlik interessant sal wees by die lees van hierdie werk. Dit is ook moontlik in korter resensies, maar moeiliker.
Dis hoekom ek resensies lees. Ek glo dat resensente dikwels vir mý kan help om nuanses uit te lig in ’n boek wat ek nie raakgesien het nie.
Die prinses is egter baie korrek wanneer sy sê kuns is tegelyk iets wat diep uit die psige van die kunstenaar kom, en dan ook kommersieel is.
Almal wat my blog lees, sal weet dat ek nooit ryk kan word uit Byna Liefde nie, maar as mense die boek sou koop, sal ek darem lekker kan vakansie hou met die geld. Aan die ander kant is daar baie mense wat graag wil vakansie hou en hulle sal dus mooi wil dink of hulle Izak de Vries se prul wil aanskaf, of ’n ekstra stel tentpenne. (Of kondome en rome?)
’n Negatiewe resensie kan maak dat mense liewer tentpenne sal koop.
Tog: NO news is BAD news. BAD news is GOOD news. Kyk bietjie wat Harry skryf:
Hahahaha Izak. Ons wag vir jou volgende boek. Deesdae is sms en skype so sinoniem met liefde en romanse dat jy dit so te sê nie meer kan onderskei nie... Anyway. As Cecile ’n resensie oor jou boek doen, moet jy weet jy het dit gemaak in die skrywerswêreld. Jy moet begin worry as sy nie ’n resensie doen oor jou boek nie. Hou so aan!
Natuurlik is Harry reg. Oor Skype, maar ook oor die feit dat ek veel eerder Cilliers se resensie sou wou hê as geen resensie nie.
Terug na die prinses:
Ek wonder net of daar ‘n ander manier is om te werk te gaan om resensies meer toeganklik te maak vir die literêre leek - Jan-Alleman wat wil weet of die boek soetsappig is, enige obsene materiaal bevat, mooi prentjies in het, en die moeite werd is om te koop.
Dis deels waaroor dit gaan, prinses. Ek stem. En dalkies, net dalkies, het iemand daardie verwysing in Cilliers se resensie na pornografie raakgesien en toe die boek gaan koop!
Die grap is, niemand het nog kommentaar gelewer op die godsdienstige ondertoon in Byna Liefde nie... Nou ja.
Maar, baie belangriker nog, wat kan “gewone mense” bydra tot die lees van ’n boek? Terug na die Prinses:
Kyk, enige iemand kan mos deesdae ‘n resensie publiseer op online-handelaars se webwerwe soos Amazon en Kalahari. Omdat hierdie resensies deur lesers geskryf word, en nie noodwendig deur mense met aansien binne literêre kringe nie, is dit dalk meer op die man af. Meer: ‘Die man ontmoet die vrou. Hulle trou. Kak boek’. Maar ook, omdat hierdie resensies geskryf word deur mense wat nie noodwendig ‘n naam het binne die literêre wêreld het nie, kan hul integriteit en bekwaamheid nou weer bevraagteken word.
Jy’s natuurlik doodreg, hoogheid! Daar word BAIE navorsing gedoen oor die toegang wat “gewone” mense het tot blogs en die invloed wat hulle het op verkope. Die antwoord is: Meer as wat die slim literêre mense dink. Lesers lees wat gewone mense sê!
Ek is dus verheug oor elkeen wat op die blog skryf hulle lees my boek. My hart slaan bollemakiesie van blydskap as Cindy (Original Cin) skryf:
I'm enjoying your book, albeit slowly; I need to reread constantly to make sure that no idiom is lost is translation.
Niemand koop haar nie, niemand betaal haar nie. DIT IS WERKLIK WONDERLIK.
Maar, terug na die prinses:
Maar toe ek so deur Cilliers se resensie begin werk, besef ek egter dat haar taalgebruik eintlik heel eenvoudig is – inderwaarheid, presies op die vlak van die gemiddelde Suid-Afrikaanse koerantleser. Sy is geensins hoogdrawend en afbrekend nie. En wat sy sê, al stem ek nie altyd saam met haar nie, dra definitief meriete. Eintlik, besef ek net weer, is Cilliers uiters bekwaam met dit wat sy doen.
So waarom het ek dan so geworstel deur die resensie? Bloot omdat ek nie die boek voor my had om dit te vergelyk nie! Maar ek het nou die skakel onder my favourites gesave, en sodra ek klaar die boek gelees het, gaan ek weer die resensie bekyk.
Dis hy! Nou is jy op die regte pad, hoogheid! Ek herlees ook resensies talle male. (En nie net resensies van my eie boeke nie!-)
Die prinsesvra ook:
So hier is nou die eintlike issue wat ek het: Is een van die uitkomste van ‘n resensie enigsins dat die resensent die boek moet aanbeveel? Is die doel met ‘n resensie dan nie eintlik bloot om debat en bespreking te stimuleer nie? Maar indien dit die geval is, waarom die resensie publiseer slegs drie maande na die boek die rakke gehaal het, en in ‘n familiekoerant? Waarom nie uitsluitlik in publikasies gemik op ywerige in-diepte lesers, taalpraktisyne, akademici ens nie?
Prinses. Jy sit in Londen. Daar het julle sulke goed. By ons vou boektydskrifte gereeld. Books & Leisure het net meer as ’n jaar gehou. Boeke-Insig doen okay, maar hulle het spasieprobleme, en steeds is daar te min mense wat dit koop. (Dus, mense, TEKEN asseblief in op BOEKE-INSIG!)
Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport het genoeg lesers dat hulle plek kan gee aan resensies. Hulle sou meer geld gekry het as hulle daardie bladsye aan sport, seks en kondome gewy het. Dis eintlik maar net Naspers wat baie nice is en iets doen vir die Afrikaanse boek. Soos Harry vir my sê, dis ’n voorreg om plek te kry in so ’n publikasie.
En bespreking stimuleer? Ha! Hier klets ons al ’n hele week oor een resensie!
Nog ’n prinsesvraag:
So, is dit dalk aanbevole om die styl van die tradisionele resensie aan te pas binne sekere publikasies om meer effektief tot die leser te spreek, of kloof ek nou hare oor niks? Watter funksie dien ‘n literêre analise binne ’n familiekoerant?
Ek dink ek het dit deels al beantwoord, prinses. Maar, mag ek jou vertel van een van my eie moerse flaters? Ek het verlede jaar ’n gesprek met Breyten Breytenbach gevoer oor A veil of footsteps. Omdat LitNet ’n literêre blad is, en omdat Die Burger toe al reeds ’n “gewone” gesprek met Breyten gevoer het, wou ek die leser bekendstel aan die boek deur ’n gesprek te voer in die styl waarin die boek geskryf is. En was dit nou ’n mislukking! Ampie Coetzee, ’n baie geleerde man, het my behoorlik uitgetrap en die SêNetters het my kop geëis!
Ek weet nie, dalk wou ek te slim wees. Ons het egter ’n helse bespreking veroorsaak!
Die punt is: Ek hou nou maar weer by eenvoudige vrae en antwoorde, al is dit LitNet!
Maar goed. Ek moet nou ophou gesels. Een klein dingetjie net nog: In die letterkunde verwys ons na die ideale leser. Dis iemand wat nie bestaan nie.
Die “ideale leser” is een wat AL die literêre intertekste sal verstaan.
In Byna liefde se openingsverhaal waarsku ek al die leser dat hulle verby die oppervlak moet kyk as dit oor verhoudings gaan: Die boeke wat ek daar by die naam noem, is ’n voorspooksel van iets wat gaan kom. Dit vertel ook die leser dat, net soos verhoudings nie swart en wit was in die “ou dae” nie, so sal hulle ook nie vandag wees nie.
Maar, onthou die ideale leser bestaan nie.
Die ideale leser sou ook alle ekstratekstuele verwysings kon snap (dis goed wat buite die letterkunde gebeur.) Sou so die ideale leser nie wonder oor daardie storie waar Umkhonto en die ou SAW-manne saamgegooi word nie, want hulle sal weet dat sulke kampe regtig plaasvind, en dat hulle juis in die bos plaasvind, want dis waar soldate die beste praat. Die ideale leser sou ook weet dat Izak vir vyf jaar lank gereeld gewerk het (deels voltyds) vir ’n organisasie wat soortgelyke kampe gereël het. (Ons s’n was net vir jonger mense.) Ons het presies geweet wanneer die snot en trane gaan kom.
Maar, daar is geen manier waarop Cecile dié stukkie inligting sou kon hê nie.
Die ideale leser bestaan dus nie. Punt.
As Izak boeke resenseer, dan maak hy ook foute. As Izak boeke lees, dan mis hy ook goed.
Wat dus kom by my laaste punt in dié skrywe. Lees baie resensente. Ek wou die ander dag nie lelik wees nie, so ek het Joan Hambidge se mooi woorde op SêNet verswyg, maar die prinses het dit nou weer onthou. Joan klink positief oor die boek. Lees gerus self. En dan moet julle egter onthou, Joan het ook al van te vore negatiewe kritiek gelewer op my werk.
You win some, you loose some. Maar almal dra by tot die teks.
Doen dus wat die prinses doen: Koop die boek en besluit self. En nie net my boek nie!
"Naspers wat baie nice is en iets doen vir die Afrikaanse boek". Ha-ha-ha!
En wie kry die grootste deel van die geld van elke Afrikaanse boek wat verkoop word? Die skrywer?! Dink weer. En aan wie behoort die Afrikaanse blaaie waarin die arme resensent vir 'n paar rand en twee of drie weke se gewroeg oor wat om te skryf, en ordentike oor en oor lees van die boek, sy stukkie kwytraak, net om daarna verguis en aangeval te word deur dese en gene wat van resenseer so veel as 'n kat van saffraan weet?
"Baie nice" is die amusantste skewe stelling van die jaar...
Jy's doodreg. Die boekwinkel kry die grootste hap van elke boek se prys. Dis reg ook, want hulle dra die risiko, behalwe nou as dit "sale on return" is, maar dan is die aflsag gewoonlik kleiner.
Ek's bly iemand staan op vir die resensent!
Izak
Ek dink die uitgewer dra die grootste risiko. Dis hoekom onafhanklike klein uitgewerye nie 'n kat se kans het nie. Die grotes se verliese kan darem elders geabsorbeer word.
Nadia
Natuurlik is jy reg dat die oorkoepeldende lading op die uitgewer kom. Dis die Per-boek-prys wat ter sprake is. As jy 'n indivduele boek neem, kry die kleinhandelaar die grootste hap. En dis die kleinhandelaar wat daardie boek in hulle voorraad opneem. En, as jy dan oor die spektrum van verkope kyk, is die ook die kleinhandelaars (meervoud) wat die grootste hap van die prys kry.
Maar, doodreg oor die geweldige druk op klein uitgewers. Ek het vir vyf jaar 'n kleintjie van mikro na klein gehelp maak werk. Dit was erg.
Die maatskappy is toe verkoop. Ek is nou by 'n reus. En die reuse sukkel ook om hulle boeke reg te prys / bemark / druk. Dis net reuse kan enkele verliese dra, kleintjies nie
izak
Izak,
Word die kleinhandelaar se koste, bv huur en water en ligte en sulke goed, by die kleinhandelaar se per-boek-prys ingewerk? Dit lyk vir my amper asof die boekreps (waar dit onafhanklike reps is) se cut die grootste kan wees (weet natuurlik nie watter koste, anders as petrol en berging van voorraad) hulle moet dra nie en hoe dit met die kleinhandelaar s'n vergelyk nie.
Ja, die klein uitgewerye. Mens kan nie genoeg geld maak om te oorleef nie, maar is dit nie 'n wonderlike ondervinding om boeke te maak nie!
N
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member