As jy ooit vermoed het dat letterkunde net vir fynbesnaardes bedoel is, moes jy verlede naweek op Antwerpen se jaarlikse boekefees gewees het. En spesifiek by die forum wat oor Suid-Afrikaanse letterkunde gegaan het. Jy sou jou woorde gou gesluk het, want ons skrywers is nie pieperig nie.
Ja, dit was weer dáárdie tyd van die jaar, België se “Het andere boek”, en om presies te wees die 32ste jaar wat dit aangebied is. Die ou beproefde resep van boekmark gekombineer met skrywersoptredes en literêre forums het weer soos ’n bom gewerk – dieselfde resep wat jaarliks die sukses van Stellenbosch se Woordfees waarborg.
Die Wereldculturencentrum se Zuiderpershuis aan Antwerpen se Waalse Kaai waar alles plaasgevind het, was ondanks ’n herfsagtige reënbui gepak met entoesiastiese, gesambreelde boekeliefhebbers.
Die Suid-Afrikaanse forum is in die program geadverteer as “Verhalen uit een Regenboognatie”, maar tydens die bespreking het dit gou duidelik geword dat dit hier nie net gaan oor verhale van versoening en vrede nie.
Eintlik moes die gehoor dit al vermoed het toe hulle gesien het dat dié gesprek beplan was vir die “Smidse”, ’n lokaal wat eintlik ’n ystersmedery is. Die verhoog en sitplekke is doodeenvoudig staan gemaak tussen ruwe instrumente en die vorige dag se roetreste. Op die “verhoog” het drie mans gesit wat heeltemal tuis gelyk het in die yster- en-staalbedryf.
Diegene wat nie geweet het hoe Richard de Nooy, Damon Galgut en Gawie Keyser lyk nie, kon die drie maklik aangesien het vir werkers wat nog aan die opruim was – sulke kaalgeskeerde mans wat tien teen een iewers onder hul klere ’n tatoeëermerk of twee versteek het. Behalwe miskien Galgut, moet ek toegee. Maar wie weet? Ek het ’n tienjarige seun hoor sê: “Cóóól!”
Die onderhoudvoerder, Ludo Teeuwen, literêre joernalis van die Vlaamse De Standaard, het die volgepakte lokaal gerusgestel. Dit wás die drie skrywers na wie hulle kom luister het – die gevestigde skrywer, Galgut, wat in Suid-Afrika woon, en die nuwe romanskrywers, De Nooy en Keyser, wat lankal na Nederland verhuis het.
Dié drie manne het nie net skrywerskap gemeen nie, maar veral ’n onvermoë om los te kom van die ysere greep wat Suid-Afrika op hul werk het.
En die mense van Nederland en België wat die plek uit sy nate laat bars het, het kom luister, tien teen een met nét so ’n groot fassinering vir ons land – en sy letterkunde.
De Nooy se Six fangmarks and a tetanus shot, wat bekroon is met die Universiteit van Johannesburg se prys vir die beste debuutwerk, het pas in Nederlands verskyn as Zes beetwonden en een tetanusprik.
Keyser se debuutroman het verlede week in sy oorspronklike Nederlands kraakvars op die rakke van boekwinkels in die Lae Lande verskyn as De donkere kant van de straat. En van Galgut is The imposter onlangs in Nederlands vertaal as Het bedrog en dit word besonder goed ontvang.
Nie een van die drie romans kyk by die geweld in Suid-Afrika verby nie. Teeuwen wou by hulle weet of dit toevallig was. Maar hy het dit versigtig gevra, want hy weet, het hy gesê, dat J.M. Coetzee soms baie ongeduldig raak met joernaliste as hulle op politieke in plaas van estetiese sake fokus.
Maar dit was duidelik dat nie een van die drie van balans gegooi is met dié vraag nie.
Keyser het onomwonde erken as daar een ding is wat die Suid-Afrikaanse geskiedenis definieer, dan is dit sekerlik geweld. Maar volgens hom is dit nie die enigste definiërende kenmerk nie – die land is ook intens mooi, ’n skoonheid wat, as jy dit eers gesien het, altyd by jou sal bly spook. En dít is, wat hom betref, die aantrekkingskrag van hierdie land: ’n ineenstrengeling van ekstreme skoonheid en ekstreme gruwelikhede.
Galgut was dit met hom eens dat die negatiewe en die positiewe hand aan hand die koorddans dans. Daarom skryf hy as skrywer nie net oor geweld omdat dit ’n realiteit is nie, maar ook in die hoop om ’n verskil te maak.
De Nooy het vertel hoe hy elke keer as hy teruggaan Suid-Afrika toe, verstom is oor hoe die mense dit regkry om verby die gruwelike geweld te kyk waarin hulle leef. Hulle weet dis daar, maar tog leef hulle (behalwe vir die nodige veiligheidsmaatreëls) asof dit hulle nie werklik raak nie.
Vermoedelik is dit die enigste manier waarop mense te midde van soveel onmenslikheid ’n “normale lewe” kan lei. Maar as skrywer wil hy teen hierdie “wegkyk” ínskryf, want hy wil juis sy leser laat kyk na dit waarby hy normaalweg verbykyk, en hoeka op ’n meer bewuste manier.
Vir Keyser is ’n ironiese aanslag broodnodig om ’n werk wat met geweld besig is, van stroefheid te red. En bo alles beklemtoon hy estetiese gehalte as hoogste prioriteit: “Hoe beter jy skryf, hoe kragtiger die impak van jou werk.”
Verdere gesels het laat blyk dié jong skrywers voel geen druk of verantwoordelikheid om volgens enige voorskrifte – hetsy polities of anders – te skryf nie. Maar daar is ’n gebondenheid aan hierdie land wat nie maklik sy greep verslap nie, maak nie saak hóé lank gelede jy daar weg is, of hóé ver weg jy woon, of hóé oorweldig jy is deur die nabyheid en direktheid daarvan nie.
En so in die loop van die gesprek besef ek al lyk hierdie manne of hulle enige oomblik hul leerbaadjies gaan aantrek, op hul motorfietse gaan wegjaag en met die geweld van die land waaroor hulle skryf, gaan versmelt, kyk hulle fyn – baie fyn – beweeg hulle met ’n skerp radar deur hul omgewing – sensitief vir elke klein beweging, mis hulle niks, en kan hulle bo alles woorde laat opvonk en sing, soos ’n stuk yster in die hande van ’n bekwame smid.
En kon ek nie help om te dink aan N.P. van Wyk Louw se “Die beiteltjie” nie: “ek tik hom en hy klink / toe slyp ek en ek slyp hom / totdat hy klink en blink / . . . en op die dag sien ek die nag / daar anderkant gaan oop / met ’n bars wat van my beitel af / dwarsdeur die sterre loop.”
Annemarié van Niekerk is ’n vryskutjoernalis van Den Haag.