Ek skryf hierdie boekbespreking met ‘n goeie skoot omsigtigheid. Ek dink hierdie boek kan nogal omstrede raak en sal verskeie reaksies van verskeie mense uitlok, afhangende van hoe diep jou geloofswortels lê.
Hierdie boek is besig om ‘n blitsverkoper te word, veral onder studente, dié studente wat hulself as deel sien van die Opkomende Kerk in Amerika.
Uit 102 resensies, kry die boek by drie-en-negentig resensente vyf sterre en slegs by twee net een ster. Doen mens ‘n soektog na die boek op blogs en webwerwe, vind jy dat die byna eenstemmige gevoel is dat die boek iets wonderliks is. Die boek is eers in Mei hierdie jaar vrygestel, maar trek reeds by sy vierde druk. Die boek se genre word beskryf as teologiese fiksie.
Omdat hierdie spesifieke genre sekere beperkings het, moet mens dit in gedagte hou as jy die boek lees. Dit is soms moeilik om regtig te verstaan wat die skrywer probeer sê. Soms kan die leser onseker wees oor wat die skrywer sê en wat die karakters sê. Ek weet dit klink dalk dubbelsinnig, maar onthou – in teologiese fiksie kan die skrywer nie tekse en verwysings uit die Bybel aanhaal om homself te verduidelik of ‘n punt te beklemtoon nie. Mens moet dus eers die storie lees, probeer verstaan wat die skrywer wil sê en dit dan vergelyk met die Bybel.
Daar moet ook in gedagte gehou word dat hierdie tipe fiksie ‘n emosionele impak het en dus maklik manipulerend kan inwerk op die leser en hom laat vergeet wat is waar en wat is nie. Met die lees van so ‘n boek, moet jy nie op jou emosies vertrou nie, maar eerder probeer koelkop dink. Ek wou sê logies dink; maar geloof is nie regtig logies nie, né. Dis juis om te glo in die dinge wat jy NIE kan sien nie – geen logika daaraan verbonde nie.
Ek persoonlik dink nie die boek se skryfstyl is van die beste nie, maar soos die boek vorder en die verhaal self oorneem, word die boek makliker om te lees. Die storie op sigself is interessant genoeg, maar skiet te kort aan oorspronklikheid, maar in die geheel is dit ‘n leesbare boek en word dit nooit regtig vervelig nie.
Maar die boek is beslis nie slegs geskryf vir die storie nie. Die hele fokus is op die spirituele en emosionele impak van die storie.
The Shack vertel van Mack (Mackenzie) Philips. Vier jaar voor die storie begin, is Mack se jongste dogter, Missy, gedurende ‘n gesinsvakansie ontvoer. Al is haar liggaam nooit gevind nie, vind die polisie wel genoegsame bewyse dat sy wreed vermoor is deur die berugte “Little Ladybird killer” in ‘n verlate hut diep in die bosse. Hierdie reeksmoordenaar het toe reeds verskeie dogtertjies ontvoer en vermoor en elke keer ‘n klein “ladybird” speldjie agtergelaat as sy handtekening op die plek waar hy sy slagoffer steel. Die storie begin waar Mack, wat steeds na vier jaar sukkel om sy dogter se dood te verwerk, ‘n vreemde nota ontvang wat hom terugnooi na die hut. Dit blyk dan dat die nota van God kom, wat Mack uitnooi nie die misdaadtoneel. Mack dink dis die toppunt van wreedheid.
Ek gaan nie die res van die storie bederf nie. Soms was die verhaal vir my regtig effe verregaande, self vir my wat nie ‘issues’ met my geloof het nie. (My persoonlike geloof staan sterk en ek verkies om maar net soos 'n kind te glo.) Maar aan die anderkant is ek bly ek het dit gelees. Dit sou wonderlik gewees het as mens kon WEET dat sekere dinge regtig is soos wat dit in die boek uitgebeeld word. En dalk is dit presies net so. Hoe sal mens ooit WEET? Ons kyk deur ‘n spieël in ‘n raaisel.
Daar is dele in die boek wat ek gemerk het omdat ek dit regtig insiggewend gevind het. Nie omdat dit slegs op godsdiens van toepassing is nie, maar ook sommer op die lewe in die algemeen.
Daar is ‘n gesegde wat sê; “Beauty lies in the eye of the beholder.” Tog so waar. In die boek skryf Young:
“It is quite simple really. Being always transcends appearance – that which only seems to be. Once you begin to know the being behind the very pretty or very ugly face, as determined by your bias, the surface appearances fade away until they simply no longer matter. God, who is the ground of all being, dwells in, around and through all things – ultimately emerging as the real – and any appearances that mask that reality will fall away.”
Daar word ook in die boek gepraat oor hiërargie en dat die mens nie kan oorleef sonder dat daar ‘n rangorde is nie. God verduidelik aan Mack dat daar nie ‘n rangorde is tussen die drie entiteite van die Drie-Enigheid nie:
“Mackenzie, we have no concept of final authority among us, only unity. We are in a circle of relationship, not a chain of command. Hierarchy would make no sense among us. It is a human problem. Humans are so lost and damaged that to you it is almost incomprehensible that people could work or live together without someone being in charge. Every human institution that I can think of, from political to business, even down to marriage, is governed by this kind of thinking.
It’s one reason why experiencing true relationship is so difficult for you. Once you have a hierarchy, you need rules to protect and administer it, and then you need law and the enforcement of the rules, and you end up with some kind of chain of command or a system of order that destroys relationship rather that promotes it. You rarely see or experience relationship apart from power. Hierarchy imposes laws and rules and you end up missing the wonder of relationship that we intended for you.”
Verderaan verduidelik die Heilige Gees vir Mack die volgende:
“Evil is a word we use to describe the absence of Good, just as we use the word darkness to describe the absence of Light or death to describe the absence of Life. Both evil and darkness can only be understood in relation to Light and Good; they do not have any actual existence. Light and Good actually exist.”
En laastens oor ons liewe Aarde:
“Our earth is like a child who has grown up without parents, having no one to guide and direct her. Some have attempted to help her, but most have simply tried to use her. Humans, who have been given the task to lovingly steer the world, instead plunder her with no consideration, other than their immediate needs. And they give little thought for their own children who will inherit their lack of love. So they use her and abuse her with little consideration and then when she shudders or blows her breath, they are offended and raise their fist at God.”
Dan is daar dele in die boek waarmee ek persoonlik glad nie saamstem nie. Volgens Young is God ‘n soewereine Wese, maar word terselfdertyd ingeperk deur die mens se vrye wil. Aan Mack word dit so verduidelik:
“There was no way to create freedom without a cost.”
Met ander woorde God is die gevangene van die mens se vrye wil en hy moet dinge laat geskied volgens die mens se keuses om Sy integriteit as Skepper te behou. Nee, ek glo God is soewerein, selfs ten koste van die mens se vrye wil. Ons onvermoë om te verstaan hoe dit werk, beteken nie dit is nie so nie.
Die grootste deel van die storie fokus op vergifnis – Mack moet sy dogtertjie se moordenaar vergewe. Onvoorwaardelik vergewe. Mack sluk moeilik hieraan. Ek ook.
Selfs in die Bybel is dit duidelik dat berou eers vergifnis moet voorafgaan. En tog, in ‘n land soos Suid-Afrika, waar geweldsmisdaad hoogty vier, het ek tog ook al in koerante gelees hoe mense die oortreders vergewe, sonder dat daar werklik sprake van berou van die oortreder se kant was. Een so ‘n spesifieke geval wat ek sommer so uit die vuis onthou, was die van Amy Biehl se ouers wat haar moordenaars vergewe het. Geloof of te not – ek dink ek sou maar gesukkel het met daardie een.
Onder konserwatiewe Christene word die boek nie heeltemal met ope arms ontvang nie. Daar is ‘n algemene gevoel dat die boek te ver wegdwaal van die Bybelse waarhede en dekonstruktief is teenoor die Christelike teologie. Volgens hulle is Young se geloof nie heeltemal die Bybel se geloof nie.
Lees maar self en besluit vir jouself. Ek is nie minder of meer gelowig na die lees hiervan nie, maar ek het wel ‘n paar waarhede raakgelees en dit alleen was die lees ook werd.