Die oorlede Skandinawiese joernalis-skrywer Stieg Larsson se uitsonderlike The girl with the dragon tattoo is Dinsdag as die wenner van die 2008 Exclusive Books Boeke Prize aangewys.
Larsson se debuutroman is ’n epiese verhaal van reeksmoorde en witboordjie-misdaad wat verskeie kontinente en bedrywe deurkruis. (Dit het in 2005 Swede se Glassleutelprys gewen vir die beste misdaadriller.)
Larsson was ’n joernalis wat sy lewe gewy het daaraan om rassisme te beveg – hy was ook ’n kenner van anti-demokratiese, regsgesinde ekstreme organisasies.
Dragon tattoo is die eerste aflewering in sy Millennium-trilogie – Millennium is die naam van die tydskrif waar die hoofkarakter, Mikael Blomkvist, werk. (Lees ook die resensie hiernaas.)
Larsson het nooit die sukses van sy boeke beleef nie – hy is in 2004 op ouderdom 50 aan ’n hartaanval oorlede, kort nadat hy die manuskripte van sy suksesvolle trilogie ingegee het.
Dit is die tiende keer in die Boeke Prize se 14 jaar dat ’n debuutroman die prys wen.
Die kriteria vir die toekenning is eenvoudig (dog nie so eenvoudig om uit te voer nie!). Elke boek moet beoordeel word aan die hand van sy leesbaarheid; toeganklikheid; oorspronklikheid; varsheid; en sy “onneersitbaarheid”.
Kortom, watter boek verskaf die mees kompulsiewe leesstof?
Vanjaar se paneel het weer eens bestaan uit sowat 40 Suid-Afrikaanse boekresensente en rubriekskrywers. Die kortlys van boeke is saamgestel deur die onderskeie EB-boekverkopers van oor die land, mense wat boekliefhebbers verstaan.
Die ander sewe finaliste vir vanjaar se Boekeprys (alfabeties volgens titel) is: