Met die Versindaba is drie van ons bekendste digters, Daniel Hugo, Marlene van Niekerk en Charl-Pierre Naude gevra om 'n Engelse gedig van Elizabeth Eybers (wat sy self nooit vertaal het nie) in Afrikaanse te vertaal. Ek gee die gedig en die vertalings daarvan en sal graag wil hoor wat die res van julle daarvan dink.
Confrontaion with an artist
for Jean Welz
His vast frame splayed on an uneasy chair,
he takes me in and I return the stare,
claiming from this antithesis my share.
He punches home the trembling sheet and grips
the arden charcoal. Hoisting heavy lids,
the bright eyes bore. The pursed lips fire squibs
of approbation. Suddenly distress
as some miscalculation intercepts . . .
He pauses, groans billingually, reflects,
Starts ambling drunkely around the room,
veers back and sits down squarely to resume
this patient scrimmage with creative doom.
Prepared for his ferocity I find
him circumspect and eloquent and kind
and mavel at the dartings of his mind.
He has the lead on me for he can trace
immediately the sensuous evidence.
I grapple dumbly with that prew-nosed face. . .
1. Daniel Hugo
Reg teenoor my sit hy, groot en hoekig.
Hy beskyk my en ek kyk vreesloos terug:
op hierdie weegskaal trek ek my gewig.
Hy tem die trillende tekenvel, klem
die houtskool vas. Sy oë priem soos 'n lem,
terwyl deur geperste lipp sy stem
ontsnap. Hy is tevrede. Skielik is
daar konsternasie; iets loop lelik mis . . .
hy haper, mompel in twee tale, gis,
begin dronk deur die ateljee te strompel,
steier terug en gaan sit stewig op die stoel,
opnuut deur kreatiewe drif oorrompel.
Voorbereid op sy bruuske felheid, vind
ek hom bedagsaam, hartlik en galant,
is ek verwonder oor sy skerp verstand.
Hy het die voorsprong, want onmiddellik
verskyn wat sy geskoolde hand beskik.
Ek worstel nog met daardie arendsblik . . .
2. Charl-Pierre Naude
Lywig sit hy op 'n stoel wat wankel;
hy peil my volledig en ek staar terug
om my deel te eis van diè ewewig.
Hy hamer die trillende vel vas en tel
die vurige steenkool op. Ooglede lig
swaar, die helder oë boor. 'n Fakkel
sis in sy smak van goedkeuring. Skielik
omgekrap oor hy iets misreken het . . .
Hy weifel, kla tweetalig, herbesin;
slenter lighoofdig deur die kamer en keer
met 'n draai terug om wees geduldig te sit
by die worsteling met sy skeppingsdrif.
Ek was voorberei op sy verbetenheid.
Tog vind ek hom omsigtig, welsprekend
en gaaf en verwonder my oor sy ratse gees.
Maar my een voor is hy, wat sonder meer
die bewyse van my sinstreling kan lees.
Ek stoei een stryk deur met daardie boeg van 'n neus . . .
3. Marlene van Niekerk
Hy splyt sy wydgemete lyf op 'n stoep met 'n regop rug,
en neem my op. Ek kyk hom terug,
ek eis van hierdie teenoorstelling my eiesoortige gewig.
Hy poot die bewende papier in plek en vat
die warm houtskool vas. Sy halfmas lede takel hy sodat
sy helder kykers boor. Uit saamgeperste lippe spat
paskwille van bekragtiging. Plots ongerus
as hy hom skrams misgis,
talm hy, kreun tweetalig, wyl hy skipper tussen sus
of so, deurslinger dan die kamer, oënskynlik gaar,
gaan oorstag, keer vierkant terug tot waar
hom wag die lydsame skermutseling van elke kunstenaar.
Hoewel ek sy verwoedheid vrees
vind ek hom spits, omsigtig en bedees,
vergaap my aan die naaldekokerflitse van sy gees.
'n Goeie kop is hy my voor, geheel tereg,
hy kan my sinnelik omtrek direk op papier besleg,
terwyl ek domweg met sy boegprofiel na gelykenis bly dreg . . .