Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
115 views

Versindaba en Elizabeth Eybers

Page 1
posts 1–7 of 7
regular - member
198 posts

Met die Versindaba is drie van ons bekendste digters, Daniel Hugo, Marlene van Niekerk en Charl-Pierre Naude gevra om 'n Engelse gedig van Elizabeth Eybers (wat sy self nooit vertaal het nie) in Afrikaanse te vertaal. Ek gee die gedig en die vertalings daarvan en sal graag wil hoor wat die res van julle daarvan dink.

Confrontaion with an artist
for Jean Welz

His vast frame splayed on an uneasy chair,
he takes me in and I return the stare,
claiming from this antithesis my share.

He punches home the trembling sheet and grips
the arden charcoal. Hoisting heavy lids,
the bright eyes bore. The pursed lips fire squibs

of approbation. Suddenly distress
as some miscalculation intercepts . . .
He pauses, groans billingually, reflects,

Starts ambling drunkely around the room,
veers back and sits down squarely to resume
this patient scrimmage with creative doom.

Prepared for his ferocity I find
him circumspect and eloquent and kind
and mavel at the dartings of his mind.

He has the lead on me for he can trace
immediately the sensuous evidence.

I grapple dumbly with that prew-nosed face. . .

1. Daniel Hugo

Reg teenoor my sit hy, groot en hoekig.
Hy beskyk my en ek kyk vreesloos terug:
op hierdie weegskaal trek ek my gewig.

Hy tem die trillende tekenvel, klem
die houtskool vas. Sy oë priem soos 'n lem,
terwyl deur geperste lipp sy stem

ontsnap. Hy is tevrede. Skielik is
daar konsternasie; iets loop lelik mis . . .
hy haper, mompel in twee tale, gis,

begin dronk deur die ateljee te strompel,
steier terug en gaan sit stewig op die stoel,
opnuut deur kreatiewe drif oorrompel.

Voorbereid op sy bruuske felheid, vind
ek hom bedagsaam, hartlik en galant,
is ek verwonder oor sy skerp verstand.

Hy het die voorsprong, want onmiddellik
verskyn wat sy geskoolde hand beskik.

Ek worstel nog met daardie arendsblik . . .

2. Charl-Pierre Naude

Lywig sit hy op 'n stoel wat wankel;
hy peil my volledig en ek staar terug
om my deel te eis van diè ewewig.

Hy hamer die trillende vel vas en tel
die vurige steenkool op. Ooglede lig
swaar, die helder oë boor. 'n Fakkel

sis in sy smak van goedkeuring. Skielik
omgekrap oor hy iets misreken het . . .
Hy weifel, kla tweetalig, herbesin;

slenter lighoofdig deur die kamer en keer
met 'n draai terug om wees geduldig te sit
by die worsteling met sy skeppingsdrif.

Ek was voorberei op sy verbetenheid.
Tog vind ek hom omsigtig, welsprekend
en gaaf en verwonder my oor sy ratse gees.

Maar my een voor is hy, wat sonder meer
die bewyse van my sinstreling kan lees.

Ek stoei een stryk deur met daardie boeg van 'n neus . . .

3. Marlene van Niekerk

Hy splyt sy wydgemete lyf op 'n stoep met 'n regop rug,
en neem my op. Ek kyk hom terug,
ek eis van hierdie teenoorstelling my eiesoortige gewig.

Hy poot die bewende papier in plek en vat
die warm houtskool vas. Sy halfmas lede takel hy sodat
sy helder kykers boor. Uit saamgeperste lippe spat

paskwille van bekragtiging. Plots ongerus
as hy hom skrams misgis,
talm hy, kreun tweetalig, wyl hy skipper tussen sus

of so, deurslinger dan die kamer, oënskynlik gaar,
gaan oorstag, keer vierkant terug tot waar
hom wag die lydsame skermutseling van elke kunstenaar.

Hoewel ek sy verwoedheid vrees
vind ek hom spits, omsigtig en bedees,
vergaap my aan die naaldekokerflitse van sy gees.

'n Goeie kop is hy my voor, geheel tereg,
hy kan my sinnelik omtrek direk op papier besleg,
terwyl ek domweg met sy boegprofiel na gelykenis bly dreg . . .

superstar - founder
993 posts
Anita, ek sou graag 'n bespreking oor hierdie wou hoor. Mens kan sien hier is drie meesters aan die woord. Kyk na hierdie sin, dit is SO mooi.

Hoewel ek sy verwoedheid vrees
vind ek hom spits, omsigtig en bedees

Maar met respekte, die manne se vertalings doen dit oor die algemeen veel eerder vir my, hoewel ek nie kan kies tussen die twee nie. maar hoekom moet mens kies? Dink net aan die wonderlike gedig wat mens sou kon saamflans as jy hierdie drie vertalings kon kombineer.

Wat het jy gedink daarvan?
__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
regular - member
198 posts

Die bespreking op die verhoog oor die drie vertalings was fassinerend en al drie digters het erken dat hulle probleme met die laaste drie reëls gehad het. Hulle het ook getwyfel oor die ware betekens van "drunkenly, "antihesis, approbation,". Die vraag was of dit letterlik, metafories of simbolies beskou moet word.

Persoonlik is Daniel Hugo se poging die beste. Hy het gesê dat hy probeer het om by Eybers se rym en ritme te hou. Ek en vriend Fanus, wat ook daar was, het besluit dat ons self ook sal probeer om die gedig te vertaal sonder om genoemde vertalings te betrek. Sal laat weet wat ek uitgerig het....nie dat ek enigsins my pogings met hulle sin kan vergelyk nie. Trouens . . . . .

Ek stem saam, as 'n mens 'n gedig kon saamstel uit die drie vertalings, sal dit 'n treffende gedig lewer.

superstar - member
291 posts

Onwillekeurig laat dit my nou weer dink hoe ontstig ek op skool was wanneer die Afrikaans onderwyser gesê het: Die bedoeling van die digter was...

Ek het altyd gewonder hoe enige mens werklik kan weet, veral van 'n digter wat nie meer met ons is nie! Hierdie drie vertalers illustreer dit nou goed. Ai, soveel vermorste jare!

__________________
'Ek is, die Here hoor my 'n vry fokken vrou' Antjie Krog.
superstar - founder
993 posts

Anita, ek sien baie uit na beide jou en vriend Fanus se vertalings!

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
rookie - member
5 posts

al 3 digters slaag uitstekend daarin om die stemming
dieselfde as die oorspronklike te vertolk
weereens n bewys van die veelsydigheid van ons taal
tegnies dink ek nie veel gaan verlore nie
baie geluk aan aldrie
opinie van n nutsman

__________________
OOM ANDRIES
rookie - member
5 posts

help asseblief
my suster se seun trou oor 2 weke
ek het vir hom 2 klein tafeltjies gemaak
baie oulike seun GELOWIG
UITSTEKENDE SPORTMAN
ek het die volgende beplan om op sy kaartjie te skryf
se my asb. of dit simpel is
ASSEBLIEF

NA BAIE TRANE BLOED EN SWEET
HET EK GEWEET
DIS MET MY EIE HAND VERVAARDIG
AL LYK DIT BIETJIE EIENAARDIG

MET N HART VOL LIEFDE
EN N GEMOED VOL TROTS
WANT EK WEET ONS HET DIESELFDE ROTS

__________________
OOM ANDRIES
Page 1
posts 1–7 of 7

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now