Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
82 views

Protea-Prys

Page 1
posts 1–6 of 6
guest poster
Breyten Breytenbach se digbundel Die windvanger (Human & Rousseau) is gisteraand by die Versindaba in Stellenbosch met die hoeveelste prys bekroon. Anita, ons wag vir 'n volledige verslag!
regular - member
198 posts

Re die Versindaba. Dit was die eerste keer dat ek nie die hele versindaba bygewoon het nie. Ek was net Saterdag daar, maar dit was die moeite werd.

Vrydagaand se verrigting het meestal bestaan uit voorlesings en "performance poetry" (dws gedigte wat getoonset is) en die oorhandiging van die Ingrid Jonkerprys aan Ingrid de Kock.

Die Saterdagsessie het begin met seremoniemeester Margot Luyt wat die dag se verrigtinge aan wyle George Weideman opgedra het.

Die eerste bespreking was oor die "boekredakteur en die resensent en hulle bydrae tot die digkuns. Die gesprek is gelei deur Louise Viljoen saam met Gerrit Brand van die Burger, Melt Myburgh van Litnet en Rachelle Greeff van Rapport. Hulle het 'n breë bespreking gehou oor die keuse van resensente, die lengte van resensies ens ens. Dit was informatief, maar daar was heelwat dinge wat nie geopper is nie en ongelukkig was daar geen vraetyd vir die gehoor nie, want daar was heelwat mense in die gehoor wat wou kommentaar lewer.

Na voorlesings deur Melt Myburgh (die man het 'n slag met woorde) en Ilse van Staden het een van die oggend se hoogtepunte plaasgevind - 'n gesprek tussen Hennie Aucamp en Lucas Malan oor hulle nuwe digbundels - Malan se Vervreemding en Aucamp se Vlamsalamander. Hulle het die gehoor 'n insig gegee in die simboliek en dieper betekenis van hulle digbundels (en natuurlik het ek albei gekoop en laat teken). Dis net jammer dat die gesprek nie langer kon duur nie. 'n Mens leer so baie deur net na die twee gesoute skrywers te luister.

Na die teepouse het vier jonger digters - Suzanne-Louise Bezuidenhout, Annie Klopper, Marius Swart en Johan Swarts van hulle gedigte voorgelees, gevolg deur 'n voorlesing deur Marius Crouse en 'n aanbieding van getoonsette gedigte deur Jasper van Zyl en William Pienaar. Dit was heerlik om na die jong stemme te luister en 'n mens besef hoeveel talent daar onder ons jonger geslag is, ondanks die feit dat daar soms heelwat minder goeie werke ook die lig sien. Ronel Foster het die oggend se sessie afgesluit met 'n lesing oor die Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poësie - 'n Vergelyking. Dit was baie interessant, maar ek het soms 'n bietjie deurmekaar geraak omdat ek nie juis 'n breedvoerige kennis van die Nederlandse en Vlaamse poësiekuns het nie.

Die middagsessie het begin met die ander groot hoogtepunt van die indaba. Ena Jansen het 'n bespreking gelei oor die praktyk van poësie en vertaling nav 'n gedig deur Elizabeth Eybers. Almal wat Eybers se werk ken sal weet dat sy soms ook in Engels gedig het - soms het sy dit vertaal, soms nie.

Eybers se gedig Confrontation with an Artist is aan Daniel Hugo, Marlene van Niekerk en Charl-Pierre Naude gegee om te vertaal en die drie vertalings is tydens die sessie bespreek. Wat 'n heerlike ervaring om te sien hoe van ons bekendste woordkunstenaars hul eie weergawes van die gedig gee (Ek sal die gedig en die vertalings daarvan onder digkuns plaas). Die gedig is van alle kante ontleed en die gehoor is 'n blik in die werkproses van Eybers gegee.

Na nog voorlesings het Helena Conradie en Francois le Roux hulde gebring aan George Weideman nav die poësie wat hulle op die cd Doepa opgeneem het. Weideman se vrou Celine het die aanbieding ook bygewoon. Dit was 'n roerende, emosionele en aangrypende aanbieding wat in stilte deur die gehoor aangehoor is. Ek glo daar was meer as een mens in die gehoor wat 'n traan of twee gestort het - wel ek het. Hy laat 'n leemte in Afrikaanse letterkunde wat nie maklik gevul sal word nie, en hier waar ek na sy woorde op die cd luister, besef ek dit weereens. (Die cd Doepa is by Protea beskikbaar en kos R125. Leen of steel geld, maar koop dit. Elkeen wat iets omgee vir Afrikaanse letterkunde, moet dit koop).

Die middagsessie is afgesluit met die Dana Mouton-gedenklesing deur Ena Jansen. Sy het gepraak oor die "Klinkklare weerbaarheid. Elizabeth Eybers 1915 - 2007 en het dit toegelig met foto's en voorlesings. Jy het weereens onder die besef gekom van watter groot bydrae die besondere vrou vir Afrikaans gelewer het ondank die feit dat sy nie meer hier gebly het. Suid-Afrika en Afrikaans was nooit ver van haar gedagtes nie. Goeie nuus is dat 'n bundel met haar versamelde werke binnekort gaan verskyn. 'n CD waarop Eybers self haar gedigte voorlees, is deur Jansen en Eybers se dogter opgeneem en hopelik, asseblief Human en Rousseau, groot asseblief, bring dit saam met die bundel uit. Elke liefhebber van digkuns wil dit hê.

Ek het nie die aand se verrigtinge bygewoon nie. Dit het bestaan uit voorlesings en musiekaanbiedings deur die US se Musiekdepartement. En, soos Trisa reeds genoem het, is Breyten Breytenbach vereers.

Die 2008 Versindaba is afgesluit met Klipwerf - musiek en voordag van gedigte van Van Wyk Louw met Mathilda Hornsveld (klavier) en Hanlie Stapela (sang) met toonsettings deur Niel van der Watt.

Oor die algemeen gesien, wat vanjaar se Versindaba 'n heerlike, leersame en vermaaklike byeenkoms en moet 'n mens vir Louis Esterhuizen en Marelise Joubert dankie sê vir die groot werk. 'n Mens hoop dat dit van krag tot krag sal gaan.

Wel daar is my relaas van die Versindaba - ek is moeg, gelukkig en broke, maar sal weer volgende jaar gaan. Dit bly die moeite werd. En ek hoop om van julle ook daar te kry.

regular - member
198 posts

Skuus ek het 'n blonde oomblik beleef. Die Ingrid Jonkerprys is aan Megan Hall toegeken vir haar bundel Fourth Child en nie aan Ingrid de Kok nie. Sorry!

superstar - founder
993 posts

BAIE dankie, Anita, dis lekker om te lees hoe iemand wat dit bygewoon het, dit gesien en beleef het. DIs mos anders as wanneer jy 'n stukkie in die koerant daaroor lees. Groot dankie!

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
superstar - founder
993 posts
'n Uittreksel uit Krokodil se blog oor die Versindaba. Is dit nie absoluut beautiful nie? Ek kan nie wag vir Melt se bundel nie.

Digkuns, het ek toe ook weer eens besef, is waarskynlik maar net om praktiese redes op papier aangewese, want dit is veronderstel om in lewende stem voorgedra te word aan die gehoor op wie dit gemik is. Daar is geen plek waar woorde soveel lewe kry nie as op die tong van hulle eie skepper.

Sommige verse, soos Melt se huldeblyk aan sy plek van geboorte wat hy gewoonweg upington gedoop het, leen hulle tot vloeiende voordrag wat selfs by eerste aanhoor verstaanbaar en gemaklik op die oor val. Wat 'n lieflike, liriese huldeblyk, dink jy wanneer jy luister na


tussen rietbevlekte oewers, geliefde stad,

sny die gariep jou middeldeur,

sodat jou fasade, sonverskroei,

'n trae refleksie op die water bly:


totdat jy in die peinsing na die digter se stem stilgeraak het besef onder die woorde waarmee die bekende spasie van kindsdag liefdevol besing word is daar tóg aanduidings van 'n toon wat wil-wil klink na daardie droefheid wat ons almal weet net onder die oppervlak lê van die spasie waarbinne elkeen van ons grootgeword het.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
regular - member
121 posts

Dankie, Anita

Page 1
posts 1–6 of 6

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now