Die Suid-Afrikaanse skrywer Henrietta Rose-Innes is die wenner van die Caineprys vir Afrikaskryfwerk, het Isobel Dixon uit Londen laat weet.
Luidens BBC News ontvang Rose-Innes, ‘n oudstudent van die Nobelpryswenner JM Coetzee (’n beskermheer van die prys, maar nie ‘n beoordelaar nie), die prysgeld van £10 000 (sowat R150 000) vir haar kortverhaal “Poison”, wat in die bloemlesing African P African Pens – New Writing from Southern Africa (Spearhead / New Africa Books, Kaapstad, 2007) verskyn en waarvoor sy ook met die SA Pen-letterkundeprys bekroon is. Sy kry ook ‘n maand se residensie aan die Georgetown-universiteit in Washington DC in die VSA.
In haar resensie van African Pens noem Joan Hambidge Rose-Innes se verhaal “’n knap analise van ’n stad, Kaapstad, wat geen petrol het nie weens ’n krisis”. “’n Wolk hang oor die stad wat duidelik inspeel op ’n nukleêre bedreiging.”
Rose-Innes het al twee romans, The Rock Alphabet (Kwela Boeke, 2000) en Shark’s Egg (Kwela, 2004) gepubliseer.
(Die Burger)