Wie van julle het al die nuwe
Pomp onder oë gehad? Ne, nee, nee, dis nie Boekemakranka se nuutste Koekiemakranka nie, dit 'n tydskrif! Of 'n joernaal, of iets. En het nog net goeie dinge gehoor, maar nog nie een gesien nie.
Melvyn Minnaar het daarna gekyk in Die Burger:
Nuwe swaargewig imponerend, maar hoe gewigtig?
MELVYN MINNAAR
22/06/2008 07:05:54 PM - (SA)
POMP 08, uitgegee deur Hendrik Venter, ontwerp deur Thomas Mollet. Griffel Media, 2008. (Sagteband, 456 bladsye, ISBN 9 780 98140 361 8.)
VIR minder as R200 kry jy ’n soliede stuk sagteband (dink: geelbladsygids-swaar) – wel, eintlik ’n ultra-tydskrif of, om meer presies te wees, ’n ondernemende Afrikaanse joernaal. Die plan is dat dit van nou af elke jaar sal verskyn en ons, in Afrikaans, op hoogte sal hou van eietydse sosiale kultuur – alles insluitend, van argitektuur tot wyn. Inderdaad ondernemend. Goeie waarde, altans wat gewig betref. Hoe gewigtig is iets anders.
Onbeskeie ’n naloper van die bekende Belgiese jaarblad Snoecks, wat al sedert die jare twintig bestaan (wel, eintlik was sy voorganger, De Kleine Snoeck’s Almanak al van 1782 gereeld op die rak), maar veral die laaste klompie jare aandag trek met sy voorbarige verslag oor en verbeelding van eietydse populêrekultuurneigings.
Met die gewildheid van die sogenaamde leefstyl-tydskrifte, verkope aangevuur deur mode, is dit maklik om te sien hoe ’n tydskrif wat die Pasella/Top Billing-maatstaf vir goeie smaak hoër lig ’n suksesvolle nismark kan hê. “Tendens” is dan ook die sleutelbegrip en opskrif vir vele van die afdelings.
Nes Snoecks steun Pomp (en vir dié lekker op-en-wakker titel alle eer aan die avontuurlustige uitgewers, wat ook onder die gawe naam Griffel publiseer) sterk op die visuele. Ontwerp en fotografie is dus belangrike elemente. Wat uitleg en aanbieding betref, is die blad vars en netjies, onopgesmuk. Wat fotografie betref, is daar natuurlik die kwessie van keuses en die reproduksie (en drukwerk) wat in die spel kom.
Soos Snoecks, wil Pomp die populêre kultuur wat hy in die oog het, allesbehalwe elitisties benader of uitbeeld, en gooi hy ’n paar skuins draaie. Dis ’n fyn balans wat veral in Afrikaans van die wa kan afval. Anders as Snoecks, wat die laaste jare met lustige mooi meisies à la ons legendariese Scope op die voorblad spog, is die eerste Pomp meer beskeie met sy naakte blondine. (’n Mens moet sekerlik ook nie onmiddellik die tydskrif-titel met jou drifte vereenselwig nie!)
Dis ook sekerlik verstaanbaar dat ’n eerste uitgawe versigtig sy gebied sal afbaken om nie aanstoot te gee nie, maar tog hoop om die meeste van sy potensiële lesers te lok. ’n Mens kan nie help om onmiddellik aan die begin en geskiedenis van De Kat te dink nie. En daarin lê die uitdaging vir Pomp: om werklik ten opsigte van aanbieding, gehalte, oorspronklikheid en, ja, avontuur en aweregsheid ander die loef af te steek.
Nadat ’n mens vir die ondernemingsgees van die uitgewers en die omvang (daardie lys van boeke agterin is amper alleen die koopprys werd) hande geklap het, begin jy wonder. Mooi is die blad, lekker sy gevoel; maar byvoorbeeld die teksversorging toon gebreke. Inhoud is soms net te vlietend.
En hoekom lyk almal dan so Afrikaanse kunsfees-wit? Ten spyte daarvan dat die uitgewer, Hendrik Venter, in sy voorwoord met kulturele politiek korte mette probeer maak, is eietydse Afrikaans onvermydelik ’n politieke vlam; enige “groepering”, en die benoude ghetto dreig.
Onder diegene wat aan die eerste Pomp meegewerk het, is bekendes soos MC Botha (interessante stuk oor perlemoensmokkel), Dana Snyman, Chérie Collins (’n gawe vertelling oor haar beroemde skrywer-pa, Etienne Leroux), Chutney de Ridder (die tatoeëer-storie kon soveel méér vertel het), Daan du Plessis, Erns Grundling, RR Ryger (Loslyf se man), Hans Pienaar, Joan Hambidge (’n treffende huldeblyk aan Elize Botha), Kleinboer, Riana Scheepers en Steve Hofmeyr (ag, nou ja).
Met al dié name kan ’n mens begin tob oor waar Pomp sy windrigting soek. Maar dalk moet mens nie dié swaar blad – kleurryk en welkom soos dit is – as te gewigtig beskou nie.