Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
59 views

Willemien word groot - Willem Nel

Page 1
posts 1–1 of 1
regular - member
198 posts

Boek – Willemien word groot
Skrywers – Abrham Nel
Uitgewer – New Voices Publishing

Resensie - Anita de Kock

Willemien word groot is Nel se tweede roman en hier vertel hy die verhaal van Willemien se lewe, haar jeugjare, haar skool- en universiteitsjare en laastens haar volwasse lewe.

Die verhaal speel op twee vlakke af, die realiteit en die verlede wat as terugflitse aangebied word om haar lewe in fokus te bring. Temas wat in die boek aangeraak word is dood van 'n ouer, ‘n stiefouer, verhoudings met ‘n broer en suster, seksuele molestasie, homoseksualiteit, ‘n ongehude swangerskap, verwerping, aanneming van ‘n baba en die hartseer en die pyn wat met die gebeurtenisse gepaard gaan. ‘n Groot deel van die boek handel oor die seksuele ontwaking van Willemien (en die van haar tweelingbroer) en Nel hanteer die tema sonder om in kruheid of banaliteit te verval.

Die boek begin met ‘n koerantadvertensie van ‘n jong man in Nieu-Seeland wat na die biologiese ma soek en die verhaal begin met die geboorte van ‘n baba op Kersdag en vandaar leer ken die leser Willemien stap vir stap, hoewel nie noodwendig kronologies nie en beleef haar lewe saam met haar.

Haar kleuterjare saam met haar broer en die eerste ontdekking dat meisies anders lyk as seuns en haar “penis envy” en hoe sy al van baie jonk af geleer het om haar hartseer agter ‘n masker weg te steek. Die traumatiese effek van haar pa se dood in ‘n ontploffing op die gesin en die veranderinge wat dit meegebring het.

Soos sy groter word het haar bewustheid van haar eie fisieke ontwikkeling verskerp en die leser ervaar die skok van haar eerste menstruasie en die ontwaking van haar eerste seksuele gevoelens en haar intiem persoonlike emosies daaromtrent.

Sy is ‘n begaafde leerling en word daardie die slagoffer van ‘n gewetenlose onderwyser se molestasie. Hoewel dit haar skok, verwerk sy dit vir haar self. Sy begin byna obsessief om haar maagelikheid te beskerm vir die regte man – wat jare later kom in die vorm van ‘n teologie-student. Hy verwerp haar toe sy swanger word en sy word gedwing om in ‘n huis vir ongehude moeders te gaan bly waar sy die verwerping van die gemeenskap in sy volle wreedheid ervaar. Sy gee haar baba vir aanneming en gaan voort met haar lewe.

Op dieselfde tydstip dat sy die koerantberiggie lees dat haar seun na haar soek, word sy gediagnoseer met borskanker. Hier kom die dualisme wat so deel is van die boek weer na vore. Haar vreugde oor die feit dat sy dalk haar langverlore kind sal kan sien hou haar aan die lewe tydens die genadelose en wrede behandeling van chemoterapie en die gevolge daarvan.

Die boek eindig op ‘n bittersoet wyse. Willemien hou haar seun vir die eerste keer in haar arms, wetende dat die kanker haar lewe gaan eis.

Willemien is ‘n boek waarmee die meeste vroue en meisies hulle kan vereenselwig, veral as jy saam met broers groot geword het en die verwerping wat in gesinne plaasvind wanneer seuns bo dogters verkies word, en die soortgelyke behandeling deur die man-oorheersende gesagsfigure wat vroue dwing tot ‘n tweederangse bestaan. Dit is die verhaal van ‘n meisie/vrou se soeke na haar plek en funksie in die lewe en in die sin is daar ‘n Willemien in elkeen van ons.

‘n Man wat ‘n verhaal oor die innerlike ontwikkeling van ‘n meisie/vrou se emosionele wêreld te skryf, is inderdaad ‘n dapper man. Nel slaag egter daarin om dit met sensitiwiteit en eerlikheid te doen.

Die seksuele in die boek sal sekerlik baie meisie laat frons, maar dit is ‘n sentrale tema in die boek en die temas van molestasie, homoseksuele ervarings en swangerskap sluit direk daarby aan. Nel se uitbeelding van sy karakters is goed – dis mense met emosies en foute in al hulle naaktheid. Aan die einde van die dag is Willemien elke vrou se storie – in ‘n mindere of meerdere mate of hulle dit nou wil erken of nie. Dit wat in die boek met Willemien gebeur is universeel van vroue in die wêreld.

Ek het Willemien word groot geniet, hoewel die verhaal soms bietjie ‘n bietjie trek, is dit ‘n interessante leeservaring. Nel se gebruik van aanhalings en poësie in die boek gee ‘n unieke dimensie aan die verhaal en lig dit uit bo boeke met soortgelyke temas.

Page 1
posts 1–1 of 1

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now