Ek het 'n baie lekker boek hier by ons biblioteek raak geloop - het in 2005 verskyn onder die titel The Oxford Murders deur Guillermo Martinez (Abacus Uitgewers) in Engels vertaal deur ene Sonia Soto.
Ek is verslaaf aan rillers, veral moordriller en reeksmoordenaars en die boek het dadelik my aandag getrek. Wat dit so 'n bietjie anders maak as die gewone riller is dat dit wiskundige stellings en teorieë gebruik om moordraaisels op te los.
Ek is baie ernstig wiskundig gestrem en het gewonder of ek die boek sal kan verstaan, maar dit is so geskryf dat selfs ek die storie en die redenasies kan volg. Het uigevind daar bestaan iets soos Gödel se Theorem, Ocham's Razor en goed soos paragons of intelligence en 'n afwyking soos Ambere se Sindroom.
Benewens dat die boek baie goed geskryf is en jy tot op die laaste moet wag om te weet wie die moordenaar is, word genoemde wiskundige teorieë vergelyk met misdaad-teorie en/of misdaadverskynsels. Die vreugde is dat selfs 'n matematiese idioot soos ek dit kan verstaan.
Dis 'n lekker lees boek vir 'n naweek en wat meer is, jy leer van dinge waarvan jy nie geweet het nie. Herinner my aan nog 'n riller waarby wiskunde en kodes gebruik is vir 'n reeks moorde. Die boek se naam is Fractions of Zero. Ek kan nie die skrywer se naam onthou nie, maar het daarin geleer van dinge soos tetragrammatonne, Fabiccini se syfers en allerrande ander snaakse goed.
Wil nie veel meer oor die boek sê nie want jy gee te veel weg. As jy egter op die boek afkom, lees dit gerus. Dit is regtig iets wat jou aandag vir 'n wyle sal besig hou.
Anita