Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
94 views

Die nut of nie van boekresensies - Anita de Kock

Page 1
posts 1–19 of 19
regular - member
198 posts

Riglyne by kritiese lees van boeke

‘n Mens lees omdat dit vir jou lekker is en omdat jy geniet om te ontsnap in die wêreld van ‘n skrywer se verbeelding. Dit is die vreugde van boeke. ‘n Mens hoef nie ‘n boek krities te lees nie om dit te geniet nie.

Ek dink nie ‘n mens moet jou vaskyk teen die idee dat ‘n boek goed of sleg is of dat ‘n skrywer goed of sleg is nie. Jy lees ‘n boek omdat jy dink jy daarvan sal hou. As jy nie daarvan hou nie, dan lees jy dit nie. As jy nie van ‘n spesifieke skrywer se tipe werk hou nie, hoef jy dit nie te lees nie. As jy byvoorbeeld van liefdesverhale hou, maak dit nie saak wie die skrywers is nie – jy lees omdat jy van die genre hou.

‘n Mens kan vir ‘n ewigheid hieroor skryf en redeneer en steeds nêrens kom nie

Soos jy lees sal jy met tyd vir jouself kan besluit wanneer ‘n boek goed geskryf is en wanneer nie. Dit is ‘n baie persoonlike besluit, want nie almal het noodwendig dieselfde idee van wat ‘n goeie boek is nie.

Boekresensies gee die subjektiewe insig van die resensente weer – dws ‘n boek wat ‘n swak resensie kry, is nie noodwendig ‘n swak boek nie – ‘n boek wat ‘n goeie resensie kry, is nie noodwendig ‘n goeie boek nie. Boeke wat as treffers in die mark beskou word, is nie noodwendig altyd goeie boeke nie. Die boek verkoop omdat dit in die smaak van die grootste gedeelte van die leserspubliek val of omdat daar eksterne faktore is wat die verkope daarvan aangehelp het. Dan Brown se Da Vinci Code is so ‘n voorbeeld. Dit is ‘n goeie spanningsverhaal wat jou aandag hou, maar dis nie die rede hoekom die boeke so ‘n groot treffer was nie. Dit was die drama wat om die boek gevolg het. Die sogenaamde “feite” waarop Brown die boek gebaseer het is nie nuut nie – dis eeue oue “feite”. Die feit dat die Roomse Kerk en ander sogenaamde Christelike kerke en sektes die boek aangeval en veroordeel het, wat die boek laat verkoop het. (Die prent wat op die boek gebaseer is, was myns insiens een van die swakste rolprente wat ek nog gesien het).

Nog ‘n voorbeeld is die hele Harry Potter-reeks van JR Rowling. Wat begin het as ‘n doodgewone fantasieverhaal, het uitgebrei tot ‘n ongekende aanvraag na die boeke – hoekom: nie omdat die boeke as sodanig goed is nie, maar weens die drama wat om die boeke geheers het.

My idee van ‘n goeie boek is een wat jy jare nadat jy dit gekoop het, weer en weer herlees. Dis boeke wat vir honderde jare lank reeds bestaan en wat steeds gelees word. Of baie van vandag se sogenaamde “goeie” boeke die toets van die tyd sal deurstaan, sal maar gesien moet word.

Soos gesê is resensies baie subjektief en is die persoon wat die boek resenseer se persoonlik opinie daarvan. Dit is sy reg om so oor ‘n boek te voel. Dit is tegelyker tyd die leser se reg om te besluit of hy met die resensie saam stem of nie.

Ek glo dit is ‘n goeie ding om boekresensies te lees – dit gee die lesers ‘n algemene basis vanwaar hy sy eie opinie mbt die boek kan vorm. Die leser se idee van die boek kan heeltemal met die van die resensent verskil, maar hy kan steeds die boek geniet.

Selfs wanneer ‘n mens boeke of gedigte lees wat as letterkunde beskou word, kan jy jou eie opinie vorm. Resensies van die boeke word gewoonlik deur ander bekende skrywers, literators of akademici gedoen en is derhalwe baie akademies en literêr van aard. Dié mense het kennis oor die genre wat die gewone mens nie het nie, en hulle sien tendense en simboliek raak wat die gewone mens dalk nie raaksien nie. Sommige letterkundiges se skrywes word myns insiens net deur ander letterkundiges en akademici verstaan en wanneer ek as leek die boek lees, raak ek so deurmekaar dat ek die boek nie klaar lees nie. Weereens is dit ‘n persoonlike siening en dit wissel van leser tot leser.

Dit beteken nie dat jy as leser dom is nie – jou ervaring van die boek spreek op ‘n ander vlak met jou as die vlak vanwaar literêre resensente werk. Dit is egter ‘n goeie gewoonte om die resensies te lees. Jy kan dan die boek uit ‘n ander oogpunt benader; en die resensie kan jou op ‘n heerlike en nuwe ontdekkingstog sit – dit is trouens die vreugde van lees – dat dit jou op ‘n reis moet neem.

As jy egter daarna voel om meer krities te lees, let op die volgende: (dis net basiese riglyne wat vir my werk – ander mense kan heeltemal met my verskil)

Taalgebruik
 Is die dialoog vloeiend – dws lê dit gemaklik op die tong as jy dit sou hardop lees.
 Maak die inhoud (tema of storie of intrige) van die boek sin – dws kan ‘n mens dit wat vertel word, verstaan.
 Is daar ‘n deurlopende storielyn – as daar is, word die storielyn deur die boek gehandhaaf of val die skrywer rond.

● Is die karakters en die gebeure in die storie geloofwaardig – dws kan ‘n mens aan die karakters in die boek glo (is hulle mense met foute ens) en kan dit wat met hulle gebeur, binne die raamwerk van geloofwaardigheid geplaas word. Dit is belangrik dat gebeure in ‘n verhaal hou by die wette van die natuur en die wyse waarop gebeure in die werklike lewe afspeel. (Dit is veral belangrik wanneer jy wetenskapsfiksie – of fantasie-verhale lees. Selfs binne die genre moet gebeure geloofwaardig wees.)

● Die verhaal moet ‘n duidelik begin, middel en einde hê – dws die storie moet begin, ontwikkel tot op ‘n hoogtepunt (of krisispunt), dan volg ‘n ontknoping (onthulling) en dan volg die einde.

● Binne die raamwerk moet die verhaal ‘n spanningslyn hê – word die spanningslyn reg deur die boek/storie gevolg tot by die ontknoping, of verloor die skrywer sy draad in die storielyn – dws, die gebeure kom nie tot ‘n logiese oplossing nie.

● Is die skryfstrant van so ‘n aard dat jy die boek nie kan neer sit nie, of raak jy na ‘n hoofstuk of twee verveeld met die storie en die karakters.

● As die boek se storielyn meer as een vertakking het (dws ‘n storie binne die storie) is die gebeure geloofbaar en maak dit die verhaal meer interessant of raak jy later heeltemal deurmekaar omdat die skrywer die draad van sy storie verloor het.

Dit is ‘n paar idees wat ek gebruik by die lees van boeke. Dit is my persoonlike siening en mense kan met my verskil. Enige idees ter aanvulling hiervan, sal verwelkom word.

Die belangrikste egter is dat ‘n mens lees omdat jy dit geniet. As jy ‘n boek geniet, maak dit nie saak of letterkundiges of ander mense nie daarvan hou nie. As jy jou gaan blind staar teen ander mense se opinies, gaan die “magic” van lees verlore.

Lekker lees!

superstar - member
223 posts

anita-dek, waar was jy toe ek kiewietan geskryf het. om aan die ontvangkant van 'n resensent se verhewe tong te wees is nie lekker nie. afrikaans blyk te kwyn maar debutante word geslag of eerder sommige. dalk kan ons ook bietjie aan die hand van bg. skrywe ons kennis en oordeel oor resensies verbreed.
niks is perfek en niemand is verhewe bo kritiek nie - die toonaard van resensies glo ek moet suiwer en eerlik wees. dalk is objektiewiteit n pie in the sky. ek reken min resensente werk volgens die riglyne soos bo uitgewys. they become a law unto themselves - speaking with godly wisdom and insight. ai tog!!!

superstar - member
291 posts

Dankie, Anita. Hierdie riglyne het vir my as leser baie gehelp. So kan mens dan dus met die lees van resensies ook self besluit wat resensente jy op ag kan slaan. Maar so moet mens na die lees, as dit jou genoeg interesseer, die boek self lees en jou eie besluit neem.

__________________
'Ek is, die Here hoor my 'n vry fokken vrou' Antjie Krog.
superstar - founder
993 posts
Baie dankie vir hierdie bydrae. As mens dit lees besef jy eers hoe verskriklik die resensies wat ons in die koerante te lese kry te kort skiet. Dan begin jy wonder oor persoonlike vendettas, baantjies vir boeties, en sulke snaakse woorde. Hierdie riglyne kan mens ook gebruik tydens kreatiewe skryfwerk.

Interessant genoeg, is vandag se QFTD van George Lucas, en alles kan net so op die skryfwêreld van toepassing wees:

If the boy and girl walk off into the sunset hand-in-hand in
the last scene, it adds 10 million to the box office.

Learning to make films is very easy. Learning what to make
films about is very hard.

You have to have a thick enough skin to cope with criticism.
__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
novice - member
12 posts

Haai anita-dek,
ek hou baie van jou benadering tot lees. Ek dink dis sulke soort info waarna beginner skrywers soek - wanneer die skryf nog nie so reg in sy eie plek val nie; dit klink vir my asof abrham hiermee saamstem, wel en Kadys ok. Maar ek wil verskil van dat boekresensies die "subjektiewe insig van die resensente weer"gee. Of liewer, nie verskil nie, want dit mag dalk so wees, maar is nie veronderstel om so te wees nie.
Ek is al baie jare lank 'n resensent; het sommer so eendag besef ek lees elke boek, storie of gedig - selfs drama - asof ek dit resenseer, m.a.w. potlood in die hand en joernaal op die skoot. So sit ek met baie joernale vol woorde oor boeke. Heelwat daarvan het die lig gesien as resensies in die gewone media, maar ek het ook 'n tyd lank Die BoekBrief eiehandig uitgestuur aan leeskringe ens - dis nou in die ou dae, toe daar nie so baie inligitng was oor boeke soos nou nie - om mense op veral die platteland te help om boeke en data daaroor te bekom. Baie ander van daai 'resensies' is maar net vir private herlees, want ek dink ek het dié nuk aangeleer by Audrey Blignault op wie se stories ek so verlief geraak het. Sy het in Sarie oor die groot letterkunde van die wêreld geskryf, jy weet, Dostoyefski, Tolstoi, Mann, Hardy, Whyte, Goethe ens want sy wat Audrey is, kon 'n storie so voor jou oopvou soos 'n Sjinese waaier en die misterie daarin oor jou waai met ligte woord, maar diep insig; ek lees dit nou nog dikwels, al kan ek dit al amper voordra. Soos sy wou ek dit wat binne die boek is aan die leser voorstel sodat hy of ay daarna sou smag om die boek nie net te lees nie, maar te besit. Want ons koop mos graag boeke wat vir ons mooi is, al het Van Wyk Louw gesê: "mooi is nie 'n woord nie".
So het ek dan by die manier van resenseer uitgekom: allereerste, respek vir wat jy doen, en vir wat jy lees. Daarom resenseer ek niks wat my verveel nie. Ek hoef nie daarvan te hou nie en ek hoef die lees daaraan nie maklik te vind nie, maar ek moet weet binne die eerste bladsy: hier is 'n boek deur 'n skrywer wat kan skryf, of andersins, 'n storie deur 'n verteller wat weet hoe.
Tweedens wil ek nie my smaak en of insigte op die leser afdwing nie, en ek wil allermins die storie herhaal sodat dit nie meer vir die leser nodig is om dit te gaan lees nie, ek wil die leser lus maak, sy/haar laat hunker daarna om die boek te lees. en derdens om absoluut oortuig te wees dat ek weet en of verstaan wat ek lees. Dit beteken dat ek ook moet naslaan en ondersoek en uitvind by ander bronne, mense of boeke of ek verstaan wat ek lees. En soms voel dit na werk, maar dikwels word dit 'n reis.
Verder stem ek heelhartig saam met wat jy hier onder gesê het
Quote: "Boekresensies gee die – dws ‘n boek wat ‘n swak resensie kry, is nie noodwendig ‘n swak boek nie – ‘n boek wat ‘n goeie resensie kry, is nie noodwendig ‘n goeie boek nie. Boeke wat as treffers in die mark beskou word, is nie noodwendig altyd goeie boeke nie. Die boek verkoop omdat dit in die smaak van die grootste gedeelte van die leserspubliek val of omdat daar eksterne faktore is wat die verkope daarvan aangehelp het. Dan Brown se Da Vinci Code is so ‘n voorbeeld." Unquote.
Ek wil tog net graag 'n lansie breek vir Dan Brown. Wat ook al oor sy skryfwerk te sê val, hy doen uitstekende navorsing, en hy skryf boeiend en vlot, en vertel 'n dêm goeie storie. Dis waarskynlik die rede waarom sy boeke aanhou verkoop, selfs lank na die storm oor DaVinci Code uitgewoed was. Iets wat nie rerig vir die skepper van Harry Potter gesê kan word nie - die navorsing gedeelte, maar in die Potter verhale dink ek die kinderdom oor die aarde was gereed vir die ligte soort magic wat daarin gebruik word en altyd tot goeie gevolge vir die 'held'. 'n Soort Hero-verhaal met toornary wat die ontwakende sielsbehoeftes van hierdie tyd waarin ons nou staan aanspreek - daarom dat soveel grootmense die boeke steeds lees. Ek is persoonlik oortuig dié soort grootmense het nie genoeg sprokies as kind gekry om hulle siele mee te voed nie /;-)
Jy het gevra oor dienut al dan nnie van resensies?
Ek dink wat jy sê oor die nodigheid om met groter insig te kan lees na jy resnsies geraadpleeg het is baie geldig, maar in vadersnaam, kan ons asse blief aan ualle uitgewwers en hulle resensente vra om asseblief net op te hou om al die geheime weg te gee in blurbs eb resensies.

__________________
engemi; as ek eendag groot is wil ek i woordverwerker wees
regular - member
198 posts

Hi Kamiljoen

Dankie vir die reaksie op my resensie-artikel

Eerstens, ek is self 'n resensent van boeke en is ook 'n "erkende" teaterresensent. Jy is reg, die idee van enige resensie is dat jy objektief teenoor die boek of produksie moet staan - trouens dit is wat wyle Johan van Rooyen my by die nuuspapier geleer het. Ek probeer altyd om daardie doel te handhaaf, maar soos jy self seker weet as resensent, is dit soms baie moeilik. Ek was self al skuldig daaraan dat ek sekere boeke of produksies opgehemel het, terwyl ek ander kere die vloer daarmee gewas het. 'n Mens leer maar deur jou eie skande en skade.

Wat my veral pla oor boekresensies, veral in koerante, is die persoonlike vendettas wat daarin gevoer word. Vir sommige resensente gaan dit nie oor die inhoud van die boek nie, maar oor die skrywer van die boek. Ek het laaank al besef daar is 'n hele kompetisie tussen letterkundiges, maar die venyn en partykeer selfs gemeenheid van die letterkundiges hier in die Kaap laat my sprakeloos - dis hoekom ek hulle resensies met 'n hele sak growwe sout opeet.

Ek lees enige boek - selfs fiksie (en ek is 'n riller-verslaafde) met 'n pen en notaboek - het het boeke vol idees en aanhalings ens wat ek hopelik dalk eendag sal nodig kry vir 'n storie.

Wil ook net sê, is nie anti- Dan Brown nie. Ek het al sy boeke op my rak. Ek is ook verslaaf aan "mysteries" soos die wat hy in sy boeke gebruik - lees al dekades lank oor soortgelyke onderwerpe en ek is seker ek sal lekker met hom kan gesels daaroor. My redenasie was dat sy boek op sy eie goed sou verkoop het, juis omdat dit 'n goed uitgedinkte tema, interessante karakters en 'n sterk spanningslyn het. Ek dink egter dat die wêreldwye herrie oor die boek se tema daarvoor gesorg het dat die verkope daarvan aangeblaas het - en selfs gelei het tot 'n rolprent(al was dit ook hoe swak omdat die storie aangepas moes word om die openbare mening te paai.) Oor Harry Potter gaan ek my nie veel meer uitlaat nie - dit is en bly kinderboeke en ek dink ek is nou al te oud daarvoor (moes dit lees omdat ek dit moes verkoop.) Die enigte positiewe ding oor H Potter is dat dit kinders weer aan die lees gekry het.

Ek stem saam oor jou probleem met resensente wat storielyne weggee - as jy bereid is om uitgewers en resensente daaroor aan te vat, is jy dapperder as ek. Ek steek nie my kop in daardie addernes in nie,

Anita

superstar - member
291 posts

Dit bring my terug by wat ek nog altyd graag sê: Lees 'n resensie as jy wil, maar lees self die boek as dit jou interesseer. Van Harry Potter het ek die eerste twee, dalk drie gelees. Volgens my was dit net altyd die verbeeldingsvlugtige van 'n eensame klein seuntjie. Toe die film gemaak is en die massa-histerie in aanvang geneem het, het ek my belangstelling daarin verloor.

Maar ek stem saam dat daar soms 'n geweldige persoonlike venyn in resensies waarneembar is, dar dit selfs steurend is. Herinner mens aan vuil politiek?

__________________
'Ek is, die Here hoor my 'n vry fokken vrou' Antjie Krog.
superstar - member
223 posts

eureka - tussen kamiljoen en anita kan die forum wegspring en ons onderig in die 123 van resensering. tereg het maankind opgemerk hierdie is nie 'n kletskamer nie. as jongeling skrywer het ek in die eerste paar tree van ons vondelingforum meer geleer as 'n paar jaar se deursifting van beledigings op n ander litirere platform. my westehorison is duidelik sigbaar, die een in die ooste 'n vae herinnering - ek weet so min. gesels, dra voor en onderrig asb. ek wil weet - ek moet weet. die eenvoudige afrikaans waarmee daar geredeneer word is n verstaanbare riem onder die hart. asseblief - doe so voort!!1

novice - member
12 posts

Ja Abrham, is dit jou regte naam? Ek bedoel, spel jy jou regte naam so? En askkies dat ek nou op die plek 'n voorstel maak, maar ek sukkel biekie met die gerondspringery - kan myself nie vind nie en benodig Ariadne se draadjie om deur di forum se laberint te kom. Enniewei, wat ek wou sê: is dat dit vir my nogal lekker was toe Anita haar naam onderaan noem en jy ok en so en ek wil voorstel dat ons wegdoen met skuilname - ons is mos hier algar oukies wat skryf, wil skryf, moet skryf, sal skryf en hoekom nou nie onder mens se eie naam nie, want so raak ons bekend. Ek dink so half ek weet wies maankind en wies kadys, maar is okkie seker of ek hulle opmieks nie /;-) sela

Ek hoor duidelik wat jy sê oor die inwin van informasie waarvoor mens so honger is wanneer jy begin skryf. Ek moet jou troos, dit verdwyn so ongesiens. Mens moet maar deurworstel deur wat aan die begin vir jou voel soos onkunde, en net nooit bang wees om te vra nie. Miskien sal ek annerdag vertel van Parsival en sy vrae as julle nie kaar weet nie; ek dink hoekja mens se beste leerstof lê verskuil in die mites en legendes en sprokies wat ons leer met beelde en simbole.

En dan Anita, as jy vir Johan v R as mentor gehad het - geseënde vrou - dan kon jy nie beter nie; so 'n fyn mens van die woord. Ek het probeer om my heel eerste ou storiekies aan hom te verkoop vir De Kat, maar dit was net nooit heeltemal e-e reg nie, en natuurlik was hy toe, as redakteur, te besig om my te help, maar so hier en daar oor 'n wittetjie by kuiers het hy my vrae beantwoord - altyd met 'n smaail - lief mens.

Maar wat beide Anita en Kadys aanraak is iets wat ek glo vir baie lesers (en veral skrywers - nuut en oud) nogal 'n probleem is, is die klein dam waarin al ons woordmense leef. Die ondertrouery en geskinner en neganigheid onder (op?) mekaar is regtig pynlik. Ek dink dis waarom baie van ons liefs in die Engelse, Nederlands of Flaamse en Duitse, Franse ens letterkunde verval, omdat mens dan bietjie vrykom van die modder in ons klein dammetjie. Daar is - as jy mooi dink - nogal min van ons, vergeleke met hoeveelhede van skrywers in ander lande, en die egos skuur teen mekaar. Ek het dit langtyd voor ek self begin publiseer het reeds raak gesien, en was nogal ang, vir al die hoghere mense wat so geniepsig kan wees, selfs met sogenaamde vriende. Toe my eerste boek verskyn het ek een aand in die donker na die sterre staan kyk - hulle is so baie en so heller hier by ons op die plaas - en gedink: kyk hoe baie sterre is daar, en nie een kompeteer met die ander nie, hulle skyn net rustig almal saam, al is een bietjie rooier, of helderder of dalk mooier as party ander; maar die hele massa is wat die sterreprag so sielsvervullend maak. Toe dag ek - so moet dit wees met die woord; elkeen se woord het 'n plek, en elke woordsmid het 'n plek.
So kan ons dalk hier op die forum - dankie maankind - 'n begin maak aan die afbreek van afguns en net saam skryf en saam leer; aan baie boeke maak kom dalk 'n einde, maar aan leer nooit nie.

__________________
engemi; as ek eendag groot is wil ek i woordverwerker wees
superstar - member
291 posts

Kamiljoen, jy praat so na my hart. Ek kon nog nooit sien hoekom daar nie vir ons almal plek kan wees nie. As dit wat ek skryf nie goed genoeg is nie, gaan minder mense dit mos net lees. Maar hoekom kan ek dan nie ook 'n sterretjie in die grote hemelruim wees nie? Terloops ek is Lidia Theron, skrywer van die boek Jy bly my kind. Ek gaan nou terstond, as ek hier klaar geskryf het, kyk of ek my naam op my profiel, kan verander na die regte een.

__________________
'Ek is, die Here hoor my 'n vry fokken vrou' Antjie Krog.
novice - member
38 posts

Dis darem 'n erg beperkte siening van resensies wat ons hier het! En asof die resensente almal suur pruime is...vir 'n bietjie kritiese nadenke, die volgende inset:

In die hoop op verheldering oor wat presies resensering behels, hiermee ‘n klein etimologiese ondersoek van die oorspronklike betekenis van die begrip “resenseer” en “kritiek”.

Die Franse woordeboek, petit larousse illustré, beskryf ‘n kritikus as ‘n persoon wat sy of haar oordeel uitspreek oor ‘n literêre of kunswerk. “Krities” kom van die Grieks kritikos, afgelei van die werkwoord krinein, om te beoordeel. Kritiek behels volgens hul beskrywing: “Qui a pour objet de distinguer les qualities ou les défauts d’une oeuvre literaire ou artistique”. Overgeset synde: die doel van kritiek is om te onderskei tussen die goeie kwaliteite en gebreke van ‘n literêre of kunswerk. Volgens larousse is kritiek die “art de juger une oeuvre artistique ou literaire” – die kuns van beoordeling, en dit behels dus om ‘n onderskeid te tref tussen goeie kwaliteite en swak punte. Die aktiwiteit van resenseer is uit tipiese beskaafde Franse perspektief ‘n kunsvorm – die “art de juger”, of te wel die kuns van beoordeling.

Die Afrikaanse woord, resenseer, het volgens die Duise Wahrig Deutsches Wörterbuch egter sy oorsprong in die Latynse woord recensens, afgelei van recensere, wat “sorgfältig prűfen, mustern” of “einschätzen”, dit wil sê sorgvuldig ‘proe’, ondersoek, of na waarde skat. Van belang hier is die adjektief “sorgvuldig”, dus met aandag, noukeurig, met presisie – die teenoorgestelde van slordig, onnoukeurig, agteloos.

Die Nederlandse Van Dale Nieuw handwoordenboek der Nederlandse taal gee onder die trefwoord recensent die sinoniem “beoordelaar”, en beskryf ‘n recensie as “beoordeling, in het bijzonder kritische beschouwing van een werk van kunst of wetenschap in een krant of tijdschrift”. Die klem val hier dus op beoordeling en die inskakeling van die kritiese fakulteite. ‘n Recensie-exemplaar is ‘n “presentexemplaar dat ter recensie gezonden wordt”. Dit vestig die aandag op die kontrak tussen koerant of dagblad en die resensent: hy of sy kry ‘n gratis kopie van die boek (of by ‘n musiekkonsert gratis kaartjies) plus normaalweg betaling.

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal definieer die aktiwiteit van resenseer nogal tweeslagtig: “”n Boek, kunswerk bespreek, beoordeel; kritiek lewer oor ‘n geskrewe werk”. ‘n Resensie is volgens die HAT “beoordeling van, kritiek op ‘n boek”. Eienaardig in die Afrikaanse definisie is dat hul telkens “beoordeel” plaas naas “kritiek lewer”, asof beoordeling nie beide ‘n positiewe sowel as negatiewe element impliseer nie. Hier lê miskien al die oorsaak vir baie wanopvattinge in die Afrikaanstalige wêreld: reeds in die definisie lê ‘n gespletenheid opgesluit.

Oorsigtelik beskou kan ons dus sê dat om te resenseer ‘n kunsvorm is wat beoordeling inhou van ‘n kunswerk, en dat daar in die proses vasgestel moet word wat die goeie en swak punte van ‘n werk is. In die proses moet noukeurig, met presisie en sorgvuldigheid te werk gegaan word, met inskakeling van die resensent se kritiese vermoëns. Hierby kan gevoeg word dat “literêre oordeel” of kritiese vermoëns by die beoordeling van ‘n werk ‘n vorm van kennis is wat meesal gekry word deur jarelange skoling, óf in ‘n geformaliseerde vorm soos studie in letterkunde aan n universiteit, óf in minder voorkomende gevalle deur onderdompeling in die letterkunde en eindeloos veel lees. ‘n Goeie resensent, soos ‘n goeie wynproewer, moet kan onderskei tussen vlakke van kwaliteit, moet belofte in ‘n debuutroman kan raaksien, al is die teks nog onafgerond, en kan motiveer waarom. Die “waarom” is meesal gegrond op ‘n vergelykingsbasis. ‘n Wynproewer wat sy wyne ken kan onderskei tussen ‘n rooi wyn wat te jonk is, maar beleë kan word met die tyd, of ‘n “stoute vrugtige jong witwyntjie” vir ‘n warm somermiddag en ‘n ligte maal, of ‘n ryp swaarbeleë rooi wyn vir ‘n lamsboud in die winter voor die kaggel, of ‘n soet dessertwyn by die krismispoeding.

Op dieselfde wyse sal die ideale belese, deurwinterde resensent in sy of haar agterkop as vergelykingsmateriaal die kwaliteite ken vanaf Homeros se Odusseia, oor Dante se Inferno, Chaucer en Shakespeare, verby Blake, deur die romantiese digters Wordsworth, Byron en Shelley, verby Yeats. Ook die moderniste soos Joyce met sy Ulysses, T.S. Eliot met sy The Waste Land, en Proust se In remembrance of things past, tot by die postmoderniste soos Italo Calvino met Lost cities of On a winter’s night a traveller. Die ideale resensent sal ook die groot Russiese romanskrywers soos Dostoevsky en Tolstoy gelees het, en die beste Duitse werke van Thomas Mann, Bernhard, Peter Handke, Christa Wollf. Ook die Franse, en Italiaanse…Die lys is nimmereindigend: ons praat van die ideale resensent. Maar bowenal moet die boekresensent goed ingewerk wees in die letterkunde waarin die betrokke werk verskyn het. Hier te lande het ons meerdere letterkundes. ‘n Goeie resensent sal ook op hoogte moet wees van wat in Engels-talige Suid-Afrikaanse letterkunde verskyn het – die romans van J.M. Coetzee is byvoorbeeld noodsaaklike vergelykingsmateriaal vir iemand wat die romans van Karel Schoeman goed wil beoordeel.

Die ideale resensent moet ook ‘n kennis van die ontwikkeling van die letterkunde hê. Waar en wanneer het die Afrikaanse letterkunde begin? Wat het daar toe verskyn? Hoe het dié tekste daar uitgesien? Watter literêre ontwikkelings het intussen plaasgevind? Hoe kan ‘n mens ‘n nuwe teks beoordeel as vernuwend en oorspronklik as jy nie weet wat tevore verskyn het nie? ‘n Vergelykingsbasis is onontbeerlik by ingeligte en waardevolle kritiek. Tot dusver die ‘toerusting’ van die resensent.

Dan is daar die proses self. Die praktiese gegewe van resensie-skryf is ‘n afspraak tussen ‘n boeke-redakteur van ‘n dagblad of tydskrif, en ‘n resensent wat genader word. Die ideale boeke-redakteur het ‘n lys met name, en ken die belangstellingsvelde van die betrokkenes. As die kritikus wat gekontak is, inwillig, word ‘n sperdatum afgespreek (normaalweg twee tot ses weke), en daar word besluit oor ‘n lengte (vroeër jare maklik tot ‘n duisend woorde, deesdae tot so min as vier honderd woorde of ‘n paragraaf). Die boek word gepos, en arriveer ‘n week later.

Kom ons neem ‘n hipotetiese geval. Prof. Sara Baartman by die Universiteit van Port Elizabeth word deur Die Burger se boekblad-redakteur gevra om J.C. Kannemeyer se biografie van Uys Krige, Die goue seun, te resenseer. Die lengtebeperking is 600 woorde, en die sperdatum 31 Mei, om betyds te wees vir die boekeblad op 3 Junie 2002. Die boek is 692 bladsye lank. Net om dit te lees, neem ‘n week. Hierna moet die resensent aantekeninge opstel, Kannemeyer se ander biografieë vergelyk, tot ‘n oordeel kom, hopelik weer kernpassassies herlees. Die skryf van die resensie word boonop erg bemoeilik deur die lengtebeperking. Die skryf van so resensie verg minstens drie weke intensiewe navorsing en lees. Tussendeur gee prof Baartman klasse by die universiteit, sien opstelle na, woon vergaderings by, eet, was skottelgoed en slaap. Uiteindelik verskyn die resensie. Die uitgewer skryf ‘n brief van beswaar oor ‘n opmerking, ‘n polemiek bars los. Die resensent word beskuldig van swak oordeel. Einde van die volgende maand kry prof Baartman ‘n tjek van R210 rand vir haar drie weke se werk, en daarmee op die koop toe die sielkundige beswaardheid wat gevolg het op die moeilike polemiek en beskuldigings. Duidelik is resensies-skryf ‘n baie ondankbare werk…

galjoen31

guest
0 posts

Ek dink die probleem le juis daarin dat nie alle resensente sulke deeglike huiswerk doen, soos in hierdie artikel belig, nie. Wat motiveer 'n goeie resensent om 'n resensie aan te pak? Beslis nie die R210 nie. As die resensent 'n kenner is, sal hy/sy seker meer as R210 per UUR kan verdien? (Ek weet alles gaan nie oor geld nie, maar daar is darem limits). Dus, wat motiveer 'n goeie resensent om 'n resensie te skryf? Net 'n vraag oor resensie as kunsvorm: ek was onder die indruk "kuns" gaan oor die skep van iets nuut. Is resensieskryf nie eerder 'n analitiese- as kunspraktyk nie?

superstar - member
291 posts

Mag ek dan nou maar, in alle onkunde, 'n klip in die bos gooi? Ek het waardering vir 'n goed nagevorsde resensie, al verstaan ek dit nie noodwendig altyd goed nie. Ek sal my ook nooit uigee as resensent nie, selfs nie 'n kritikus nie, ek kan hoogstens kommentaar lewer op 'n boek. Maar hier kom die klip nou, ek gaan hom gooi en weghardloop. Hoeveel politiek is daar agter resensies? As 'n resensent nie van 'n bepaalde uitgewer hou nie en hy/sy moet 'n boek van 'n skrywer van daardie uitgewer resenseer?

__________________
'Ek is, die Here hoor my 'n vry fokken vrou' Antjie Krog.
guest
0 posts

Ek wonder tog of boeke nie soos flieks, deur 'n hele paar mense en op 'n skaal van 1-10 "geresenseer" moet word nie. Mens weet tog later watter resensent se smaak min of meer dieselfde as joune is, en jy kan jou daardeur laat lei. Dit sal help as die boek dan ook in 'n kategorie geplaas word (spanningsverhaal, romantiese komedie, ernstig ens.) (Ek hou van Amazon se idee van aanbevelings. Hulle wys mens mos watter ander boeke mense wat hierdie boek waarin jy belangstel, gekoop het.) En ook, as boekebladredakteur, behoort jy te weet resensent X hou van ligter goed/swaarder goed en haar nie ander tipe boeke gee om te resenseer nie. Ek hou bv baie van die boeke van Marian Keys (veral oor 'n koue naweek met 'n pot sop op die stoof), en sal eerder haar boeke dien in 'n resensie, as wat ek bv. Ian McEwan s'n sal kan. Lesers steur hulle aan resensies; 'n ondeurdagte resensie - of ongekwalifiseerde resensent - kan baie skade berokken.

guest
0 posts

Jy praat seker van die gevalle waar skrywers resensies skryf? Ek glo daar is baie politiek betrokke, maar die gewone leser, weet heel moontlik nie van al die kwessies nie. Die gewone leser lees net dat dit 'n vrot boek is, en besluit daar en dan om liewer nie geld uit te haal vir die betrokke boek nie.

superstar - member
291 posts

Sabina, ek stem honderd persent saam met wat jy sê. Ek dink dat dit 'n uitstekende idee is, dat boeke deur 'n paneel mense beoordeel moet word en wel op 'n skaal, soos jy sê. Hoe gaan mens maak om dit ge-implementeer te kry?

__________________
'Ek is, die Here hoor my 'n vry fokken vrou' Antjie Krog.
regular - member
198 posts

Hi daar Galjoen31

Wow jy het omtrent die kuns van resensies behoorlik uiteen gesit. Jy is reg - 'n resensent moet universele kennis van die letterkunde hê om waarlik 'n resensie van 'n boek te kan skryf. Die enigse persoon in Afrikaans wat dit doen, is Hennie Aucamp - en ek is geensins, glad nie, geheel en al nie van voornemens om jy kennis, evaring en insig te probeer na-aap nie - die tyd is net nie daar nie.

Dus, as jy 'n boek moet resenseer, moet jy gebruik wat jy het. Gelukkig help die internet baie - die res moet jy maar uit jou eie bronne (waarvan ek kabinette vol het) deurwerk en kyk wat jy kan doen.

Die idee van 'n resensie bly egter steeds om aan die gewone leser daarbuite, wat nie die agtergrond en ervaring van letterkunde- of skryf in die universele sin van die woord het nie, 'n aanduiding te gee of dit 'n boek is waarop hy bereid is om tussen R140 - R180 vir 'n slapband te betaal. Hulle stel nie belang in die literere agtergrond van die boek nie - die meeste fiksie (engels en afrikaans) het nie so 'n getdetaileerde resensie nodig nie. Hy wil net weet of dit lekker gaan lees om nie.

Ek voel letterkunde (in die sin van akademiese, literere ens) besprekings soos wat op boekeblaaie verskyn en deur hogere geeste in die literere bedryf gedoen word, val nie onder die ideaal van die virtuele leeskring nie. Ek dink die idee hier is net om mense bekend te stel aan boeke (engels of afrikaanse, fiksie of nie-fiksie ens) vir die blote genot vir die lees daarvan. (Trisa is ek reg????).

Ek baie graag van die inligting in jou artikel gebruik wil maak in die Skrywersburo waar ek hoop om mense te leer om meer krities te lees.

Groetnis

Anita

superstar - member
223 posts

sjoe galjoen, dis omtrent 'n bekvol. al hoe ek 'n resesent kan word is om my alie af te lees en dan dink ek ok, dat ek nie naby jou kriteria sal uitkom nie. bygese is dit altyd goed om te weet wat eintlik verwag word van resensente. as ek so tussen jou en anita se skrywe rondskoffel dink ek die joppie word nie eintlik na wense in ons landjie gedoen nie. hier op ons ter doopte leserskring wil ons met boeke speel, daaroor gesels en mekaar stimuleer om meer en wyer te lees. ons wil ok leer, maar die meeste van ons is verby die vergadering van kennis net om kennis onthalwe. intuitiewe lees van verskillende tekste kan insig verhelder en ons voorberei vir die afspraak met die Groot Vennoot. hier wil ons tussen letters,woorde,sinne en paragrawe rock and roll, anders jive die aarde dalk onder ons jiste uit!!!

regular - member
198 posts

Van resensies gepraat: Lees in Sondag se Rapport die resensie van Melt Myburg oor Andries Bezuidenhout se nuwe digbundel, Retoer.

Kom op die volgende af: "In Retoer word die digter se soeke na die "perfekte chaos/ van lyn, kleur en grein" gekenmerk deur 'n anti-poëtiese benadering. 'n Oorgawe aan die liriese word vermy. Die versoeking om die taal te verknoop en sy struktuur te knak sodat die metaforiek in 'n unieke skoonheid ontbrand, word gesystap. Hierdie strategie sal lesers wat die impak van poësie meet aan die mate waarin hulle van balans geruk word deur Afrikaanse se beeldingskrag moontlik as steurende hebbelikhede ervaar. . . . ." ens. Hy sluit die resensie af en së: "Mens hoop lesers sal entoesiasties vir die verse beding in rand, euro, dollar of pond."

Ek probeer nie Myburgh se kennis afkraak nie, geensins, maar wat in die naam van Afrikaans beteken dit wat hy geskryf het - soos aangehaal. As ek 'n paragraaf ses tot sewe maal moet lees om te verstaan wat die resensent geskryf het te verstaan, het ek my lus vir die boek verloor.

Ek het nog nie die gedigte self gelees nie, maar as ek na aanleiding van die resensie Exclusive Books toe sal hardloop en R120 betaal vir die bundel, slaan hy die bal mis - trouens hy het my totaal van die bundel vervreem.

Dis my probleem met literêre resensies - dis so onverstaanbaar verwoord dat, pleks dat dit die leser aanspoor om die boek te gaan koop, dit hom heeltemal afsit omdat hy glo hy nie die skrywers se werk sal kan verstaan nie.

'n Mens het literêre resensies nodig vir digkuns, maar dit moet darem deur die gewone liefhebber van digkuns ook verstaan word. Daar is 'n stryd om goeie digkuns te bemark en te verkoop, maar met resensies soos die, gaan dit nie werk nie. Jammer Melt, wil jou nie beledig of aanvat nie (is te stupid daarvoor), maar skryf net verstaanbaar asseblief.

Anita

Page 1
posts 1–19 of 19

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now