Riglyne by kritiese lees van boeke
‘n Mens lees omdat dit vir jou lekker is en omdat jy geniet om te ontsnap in die wêreld van ‘n skrywer se verbeelding. Dit is die vreugde van boeke. ‘n Mens hoef nie ‘n boek krities te lees nie om dit te geniet nie.
Ek dink nie ‘n mens moet jou vaskyk teen die idee dat ‘n boek goed of sleg is of dat ‘n skrywer goed of sleg is nie. Jy lees ‘n boek omdat jy dink jy daarvan sal hou. As jy nie daarvan hou nie, dan lees jy dit nie. As jy nie van ‘n spesifieke skrywer se tipe werk hou nie, hoef jy dit nie te lees nie. As jy byvoorbeeld van liefdesverhale hou, maak dit nie saak wie die skrywers is nie – jy lees omdat jy van die genre hou.
‘n Mens kan vir ‘n ewigheid hieroor skryf en redeneer en steeds nêrens kom nie
Soos jy lees sal jy met tyd vir jouself kan besluit wanneer ‘n boek goed geskryf is en wanneer nie. Dit is ‘n baie persoonlike besluit, want nie almal het noodwendig dieselfde idee van wat ‘n goeie boek is nie.
Boekresensies gee die subjektiewe insig van die resensente weer – dws ‘n boek wat ‘n swak resensie kry, is nie noodwendig ‘n swak boek nie – ‘n boek wat ‘n goeie resensie kry, is nie noodwendig ‘n goeie boek nie. Boeke wat as treffers in die mark beskou word, is nie noodwendig altyd goeie boeke nie. Die boek verkoop omdat dit in die smaak van die grootste gedeelte van die leserspubliek val of omdat daar eksterne faktore is wat die verkope daarvan aangehelp het. Dan Brown se Da Vinci Code is so ‘n voorbeeld. Dit is ‘n goeie spanningsverhaal wat jou aandag hou, maar dis nie die rede hoekom die boeke so ‘n groot treffer was nie. Dit was die drama wat om die boek gevolg het. Die sogenaamde “feite” waarop Brown die boek gebaseer het is nie nuut nie – dis eeue oue “feite”. Die feit dat die Roomse Kerk en ander sogenaamde Christelike kerke en sektes die boek aangeval en veroordeel het, wat die boek laat verkoop het. (Die prent wat op die boek gebaseer is, was myns insiens een van die swakste rolprente wat ek nog gesien het).
Nog ‘n voorbeeld is die hele Harry Potter-reeks van JR Rowling. Wat begin het as ‘n doodgewone fantasieverhaal, het uitgebrei tot ‘n ongekende aanvraag na die boeke – hoekom: nie omdat die boeke as sodanig goed is nie, maar weens die drama wat om die boeke geheers het.
My idee van ‘n goeie boek is een wat jy jare nadat jy dit gekoop het, weer en weer herlees. Dis boeke wat vir honderde jare lank reeds bestaan en wat steeds gelees word. Of baie van vandag se sogenaamde “goeie” boeke die toets van die tyd sal deurstaan, sal maar gesien moet word.
Soos gesê is resensies baie subjektief en is die persoon wat die boek resenseer se persoonlik opinie daarvan. Dit is sy reg om so oor ‘n boek te voel. Dit is tegelyker tyd die leser se reg om te besluit of hy met die resensie saam stem of nie.
Ek glo dit is ‘n goeie ding om boekresensies te lees – dit gee die lesers ‘n algemene basis vanwaar hy sy eie opinie mbt die boek kan vorm. Die leser se idee van die boek kan heeltemal met die van die resensent verskil, maar hy kan steeds die boek geniet.
Selfs wanneer ‘n mens boeke of gedigte lees wat as letterkunde beskou word, kan jy jou eie opinie vorm. Resensies van die boeke word gewoonlik deur ander bekende skrywers, literators of akademici gedoen en is derhalwe baie akademies en literêr van aard. Dié mense het kennis oor die genre wat die gewone mens nie het nie, en hulle sien tendense en simboliek raak wat die gewone mens dalk nie raaksien nie. Sommige letterkundiges se skrywes word myns insiens net deur ander letterkundiges en akademici verstaan en wanneer ek as leek die boek lees, raak ek so deurmekaar dat ek die boek nie klaar lees nie. Weereens is dit ‘n persoonlike siening en dit wissel van leser tot leser.
Dit beteken nie dat jy as leser dom is nie – jou ervaring van die boek spreek op ‘n ander vlak met jou as die vlak vanwaar literêre resensente werk. Dit is egter ‘n goeie gewoonte om die resensies te lees. Jy kan dan die boek uit ‘n ander oogpunt benader; en die resensie kan jou op ‘n heerlike en nuwe ontdekkingstog sit – dit is trouens die vreugde van lees – dat dit jou op ‘n reis moet neem.
As jy egter daarna voel om meer krities te lees, let op die volgende: (dis net basiese riglyne wat vir my werk – ander mense kan heeltemal met my verskil)
Taalgebruik
Is die dialoog vloeiend – dws lê dit gemaklik op die tong as jy dit sou hardop lees.
Maak die inhoud (tema of storie of intrige) van die boek sin – dws kan ‘n mens dit wat vertel word, verstaan.
Is daar ‘n deurlopende storielyn – as daar is, word die storielyn deur die boek gehandhaaf of val die skrywer rond.
● Is die karakters en die gebeure in die storie geloofwaardig – dws kan ‘n mens aan die karakters in die boek glo (is hulle mense met foute ens) en kan dit wat met hulle gebeur, binne die raamwerk van geloofwaardigheid geplaas word. Dit is belangrik dat gebeure in ‘n verhaal hou by die wette van die natuur en die wyse waarop gebeure in die werklike lewe afspeel. (Dit is veral belangrik wanneer jy wetenskapsfiksie – of fantasie-verhale lees. Selfs binne die genre moet gebeure geloofwaardig wees.)
● Die verhaal moet ‘n duidelik begin, middel en einde hê – dws die storie moet begin, ontwikkel tot op ‘n hoogtepunt (of krisispunt), dan volg ‘n ontknoping (onthulling) en dan volg die einde.
● Binne die raamwerk moet die verhaal ‘n spanningslyn hê – word die spanningslyn reg deur die boek/storie gevolg tot by die ontknoping, of verloor die skrywer sy draad in die storielyn – dws, die gebeure kom nie tot ‘n logiese oplossing nie.
● Is die skryfstrant van so ‘n aard dat jy die boek nie kan neer sit nie, of raak jy na ‘n hoofstuk of twee verveeld met die storie en die karakters.
● As die boek se storielyn meer as een vertakking het (dws ‘n storie binne die storie) is die gebeure geloofbaar en maak dit die verhaal meer interessant of raak jy later heeltemal deurmekaar omdat die skrywer die draad van sy storie verloor het.
Dit is ‘n paar idees wat ek gebruik by die lees van boeke. Dit is my persoonlike siening en mense kan met my verskil. Enige idees ter aanvulling hiervan, sal verwelkom word.
Die belangrikste egter is dat ‘n mens lees omdat jy dit geniet. As jy ‘n boek geniet, maak dit nie saak of letterkundiges of ander mense nie daarvan hou nie. As jy jou gaan blind staar teen ander mense se opinies, gaan die “magic” van lees verlore.
Lekker lees!